Logo
HMSMSM
web uni tv guide

Hoor My Sien My Soen My

144Realiteitsprogram6

Nuwe jaar = hope kykgenot op kykNET

Nuus
03 Desember 2019
’n Nuwe jaar, ’n nuwe dekade, met hope kykgenot wat voorlê op kykNET! Oudergewoonte skop ons die jaar af met nuwe seisoene van kykers se gunsteling programme, sowel as splinternuwe reekse.
kykNET_Article Billboard 1600 x 640

kykNET DStv-kanaal 144 begin 2020 op ’n hoë noot met drie dramas wat vanaf Januarie uitgesaai word. Die Byl keer terug vir ’n tweede seisoen op Sondag 5 Januarie 20:00. Dit is vyf jaar sedert ons Byl en sy span leer ken het. Byl is steeds bekend as ’n super-speurder, maar hy was egter die rede hoekom kaptein Juan Stuurman uit die eenheid bedank het. Byl se verhouding met Nicki Swanepoel het verbrokkel ná hulle vir ’n tyd lank saam gebly het. Byl en generaal Neels van As het die strydbyl begrawe, maar nie vir lank nie…

Die nuwe dramareeks, Projek Dina, wat vanaf Dinsdag 14 Januarie 20:00 uitsaai, speel af in die werks- en lewensomgewing van die blitsreaksie-taakspan, waar die druk hemelhoog en die ruimte vir foute piepklein is. Noudat die taakspan pas saamgestel is deur die Wes-Kaapse polisie – as ’n manier om die vinnig toenemende hoeveelheid gevalle van vermiste persone in Suid-Afrika te bestry – het die lede van die taakspan ’n skynbaar onmoontlike taak op hande: om die vermiste persone in Kaapstad op te spoor en hulle een vir een huistoe te bring. 

Die derde seisoen van die trefferreeks, Sara se Geheim, saai vanaf Donderdag 16 Januarie 20:00 uit. Kykers het na hul asem gesnak toe Maggie aan die einde van seisoen twee per ongeluk haar geliefde seun Kelvin skiet. En kort voor dit het Maggie en haar suster, Lizzie, ontdek hul ma, Sara, het ’n jarelange geheim van hulle weerhou: hul broer, Johnny lewe. Seisoen drie begin waar die tweede seisoen geëindig het. Die dramatiese toneel waar Maggie met Kelvin in haar arms lê het ’n impak op Sara se hele familie.

Ook nuut op die kanaal is die realiteitsreeks, Hoor my, sien my, soen my, met Vanes-Mari du Toit as aanbieder, wat vanaf Woensdag 29 Januarie 20:00 uitgesaai word. Liefde vind is nie aldag maklik nie en hierdie realiteitsformaat bied vir elke moontlike pot die kans om hul deksel eers behoorlik uit die boom te kyk voor hul vir die eerste keer ontmoet. In Hoor my, sien my, soen my kry voornemende pasmaats die geleentheid om mekaar beter te leer ken deur ’n dag saam te spandeer, maar mekaar nooit in lewende lywe te sien nie.

Aanhangers van die komedie, Hotel, sal bly wees om te hoor dat Danny, Jony en die res van die personeel van die twee-ster Fransen Hotel terug is vir nog ’n seisoen vanaf Maandag 6 Januarie 20:00. Die hotel staan genadiglik nog ten spyte van sy personeel wat sorg vir ’n gelyke hoeveelheid misverstande en hart. Wat hul kort kom in bevoegdheid, maak hulle op in passie. Ferdie oorweeg sy aftrede, maar dit word bemoeilik deur die Stadsraad wat die Hotel wil sloop. Die personeel gee alles om die Hotel te red, terwyl hulle almal hul liefdeslewens uitsorteer.

Die gewilde reeks, Reis na Gister, keer terug na die kanaal vir die sesde seisoen op Donderdag 2 Januarie 21:00. Jak de Priester neem van Suid-Afrika se suksesvolste bekendes, soos Frank Opperman, Pietman Geldenhuys, Brümilda van Rensburg en Jo Black, terug in tyd na waar hulle hul grootword jare deurgebring het. Van hul ouerhuis tot klaskamer, deel bekendes wat hulle gevorm het in hul pad na sukses.

Kom ons praat daaroor is ’n splinternuwe geselsprogram wat vanaf Woensdag 22 Januarie 11:00 uitsaai, met van die GROOT Ontbyt­-aanbieders wat al bekend is aan kykers: Francois Botha, Su-an Müller-Marais, Susan Botha en Jacques Erasmus. Die diverse span deel hulle unieke opinies oor ’n aktuele saak en almal kry kans om te sê hoe hulle regtig voel. Kom ons praat daaroor is nie ’n hoogdrawende eenrigtinggesprek waar kenners hulle opinie op jou af forseer nie (alhoewel ’n kenner soms ingekry word om te red wat te redde is). Die sukses van die radioprogram lê juis daarin dat die aanbieders hulself nie uitgee as kenners nie, maar as leke wat oor relevante onderwerpe wat in die nuus is, gesels, en so ook die luisteraar uitnooi om sy/haar opinie oor die saak te lig.

Die veelbekroonde fliek, Kanarie, word op Saterdag 11 Januarie 20:00 uitgesaai. Kanarie is ’n musikale oorlogsdrama, gebaseer op ware gebeure, wat afspeel in Suid-Afrika in 1985 en die storie vertel van Johan Niemand, ’n jong seun wat in ’n tyd van onderdrukking gedwing word om sy identiteit te vind. Schalk Bezuidenhout, Hannes Otto, Germandt Geldenhuys en Gérard Rudolf is van die akteurs wat in hierdie fliek te sien is.

Kykers kan ook nader skuif vanaf Woensdag 1 Januarie 17:30 vir ’n nuwe seisoen van Met ’n huppel in die stap die program wat kyk hoe die lewe na 50 betekenis kry. In die eerste paar episodes gesels ons met die 114-jarige Jan Steenberg, en kyk ons na hulpmiddels om die lewe vir Alzheimer-pasiënte te vergemaklik. Daar word ook gekyk na lyndanse, wateroefening en lagterapie vir seniors, en die waarde van tuisversorging vir seniors in hul eie wonings word ondersoek.

Aleit Swanepoel loer weer in by Suid-Afrikaanse bekendes vanaf Sondag 5 Januarie 17:30 in Tyd met Aleit. Van die gaste waarna kykers in die nuwe seisoen kan uitsien, is Sue Duminy, Zenobia Kloppers, Hannon, Lizz Meiring, Simoné Nortmann en Willem Botha.

Vanaf Maandag 13 Januarie tot Donderdag 16 Januarie 21:30 gesels Theo Vorster in Sakegesprek met Theo Vorster met sakeleiers oor hul loopbane en probeer om by elkeen se unieke pad na sukses uit te kom.

Kyk gerus ook uit vir reekse, soos Mense, Mense, Die Kasteel, Parlement, Parlement, Edik van Nantes: Winter en Tiaan Onthou op kykNET&kie. Die gewilde talentkompetisie, Maak my Famous, se eerste reeks word ook in Januarie op kykNET NOU! uitgesaai.

Bly ingeskakel op kykNET vir topvermaak, maar onthou ook om saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram – dis die begin van groot dinge vir 2020!