Logo

Nuwe inwoner in die Villa

Nuus
17 April 2015
Riana Wilkens is tans te sien in Villa Rosa as Lida Geldenhuys.
Villa2498

Riana Wilkens is tans te sien in Villa Rosa as Lida Geldenhuys.

Oor haar karakter sê sy: “Lida is ’n gesofistikeerde vrou met ’n wye spektrum belangstellings. Oor die jare het sy baie van hierdie belangstellings vir haar man en kinders se onthalwe prysgegee. Dit het tot gevolg gehad dat Lida baie van haarself onderdruk het in ’n poging om ’n goeie vrou en ma te wees. Hoewel dit haar eie keuse was, voel sy soms geestelik verarmd en vasgevang in haarself. Sy steek haar ware gevoelens en haar warmte agter ’n masker van bekwaamheid weg en kan koud oorkom maar in haar binneste bruis die verlange na ’n hegte band met ander mense; asook ’n nuwe en ryker lewe.”

“Dit is heerlik om in Villa Rosa te speel – beslis een van die beste ervarings van my loopbaan.  Ek weet dit is holrug gery, maar dit is werklik asof ons ’n groot, gelukkige familie is.”

Hoogtepunte in haar loopbaan sover: Nadat Riana ’n B.A. Drama (Hons.)-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf het, sluit sy by die destydse toneelgeselskap, T.R.U.K., aan en na ’n paar jaar daar begin sy vryskut.

Sy speel ook in heelwat TV-dramas; onder andere Agter Elke Man en Adam.

Riana het ook die destydse Afrikaanse kunsteprogram, Kunskaleidoskoop, aangebied en later, nadat dit met die Engelse program saamgesmelt het, het sy ook Collage aangebied.

Nie net is sy aktrise en aanbieder nie, maar ook ’n veelsydige oorklankingsregisseur, -akteur en -vertaler en het deur die jare in baie radiodramas en -reekse gespeel.

Sy was ook twee keer te sien in Egoli - Plek van Goud; en het ’n kort speelvak in Binnelanders gehad.

In latere jare spits sy haar al hoe meer toe op skryfwerk maar maak in 2011 haar terugkeer na die verhoogplanke en die silwerskerm. Sy speel beide Miem en Gertie in Reza de Wet se Mis (verhoog) en was ook te sien in die rolprentverwerking van Leon van Nierop se radiodrama Wolwedans in die Skemer.