Logo

Nuwe gesig in die ‘Villa’

Nuus
09 April 2015
Die sepie Villa Rosa kry dié week ’n nuwe karakter. Lees meer oor Merveline Ferris en haar karakter, Celine Jantjies.
Merveline

Die sepie Villa Rosa kry dié week ’n nuwe karakter. Lees meer oor Merveline Ferris en haar karakter, Celine Jantjies.

Merveline Ferris het van ’n jong ouderdom af al belangstelling in die kunste getoon. Sy het reeds op skool in Nelspruit aan Eisteddfod presteer en aan talle verhoogstukke deelgeneem. Sy het besluit om ’n loopbaan hiervan te maak.

Merveline het haar honneursgraad in Live Performance and Motion Picture Medium aan AFDA in Johannesburg verwerf. Sy het vir die eerste keer op die kassie verskyn toe sy “per ongeluk” ’n rol in ’n 2010-advertensie vir World Contraception Day losgeslaan het.

In 2013 was Marveline in SABC 3 se Loittering in Jozi te sien. Van hier af het Binnelanders, Heaven Can Wait en die kykNET-kortfliek Ons Stories: Lya se Karoo gevolg.

Meer oor haar Villa Rosa-karakter, Celine Jantjies:

Celine het in Worcester, in die huis langs Ricardo, grootgeword. Twee vroue in die gemeenskap het wees- en weggooikinders jare gelede onder hul vlerk geneem, en Celine en Cardo ken mekaar dus al van kleins af.

Haar doel is om Ricky (dis wat sy hom van kleintyd af noem) op te spoor. Hulle vertrou en aanvaar mekaar onvoorwaardelik, en sy is bekommerd oor die stand van sake by die huis sonder hom daar. Sy het onlangs haar studies opgeskop.

Celine is van nature warm en ’n natuurlike versorger. Daar is ’n vreesloosheid aan haar, en haar blootstelling aan ’n sterk bendekultuur beteken sy skroom nie om te sê wat sy dink nie. Sy staan op vir haar mense, en wéét wat armoede aan ’n mens kan doen. Sy het ’n goeie humorsin, maar nie die soort wat wreed of gemeen in nie. Boonop speel sy nie speletjies met mense om haar sin te kry nie.