Logo

Nuut in April 2016

Nuus
23 Maart 2016
Kykers kan in April 2016 uitsien na splinternuwe episodes van onder meer Koekedoor en Jou Show, sowel as ’n nuwe sitkom en Deon Opperman-reeks.
Fluiters April Feature

Die nuwe speurdrama Fluiters is vanaf 12 April 2016 te sien.


Kykers kan in April 2016 uitsien na splinternuwe episodes van onder meer Koekedoor en Jou Show, sowel as ’n nuwe sitkom en Deon Opperman-reeks.

Top 20

34 top 20 bts 02


Ons begin in April die 20 beste en mees indrukwekkende musiekvideo’s in die Afrikaanse musiekbedryf aftel!

Top 20 fokus egter nie net op musiekvideo’s nie, maar ons sal elke week ’n gas in die ateljee verwelkom. Kykers kan boonop uitsien na ’n kykie agter-die-skerms of ’n eksklusiewe blik op die kunstenaar se lewe.

Wat Top 20 nóg meer opwindend (en belangrik, relevant) maak, is dat die kunstenaar se sosiale media ’n integrale deel van die program uitmaak.

In die eerste episode, wat afskop op Vrydag 1 April 2016 om 20:00 op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) en om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), kuier Len Muller in die ateljee. Lees meer hier.

Safari 4x4 Roetes

34 safari 4x4 roetes nuus


Safari 4×4 Roetes slaan vanjaar, met die program se negende seisoen, ’n nuwe roete in deur op safari’s binne Suid-Afrika se grense te fokus.

Baie mooi plekke is binne ons bereik, en jy het nie ’n paspoort nodig om dit te sien nie.

Gedurende die afgelope agt seisoene van Safari 4×4 Roetes het aanbieder André de Villiers, 4×4-spesialis, Angola en Namibië saam met Petri de Wet, aanbieder van die kykNET-hengelprogram Hier gaan ons alweer, aangedurf.

Petri gaan weer op reis saam met André, wat hom na die land se viswaters gaan neem, terwyl hy moeilike 4×4-roetes aandurf en hom die fynere kunsies van 4×4-ry leer. Petri gaan hopelik op sy beurt vir André die fynere kunsies van visvang leer!

Kyk Safari 4×4 Roetes, vanaf 4 April 2016 elke Maandag om 17:30. Lees meer.

Getroud met Rugby – Die Sepie

34 getroud met rugby banner


Die gewilde reeks Getroud met rugby gaan eersdaags as ’n sepie te sien wees. Terwyl sleutelkarakters uit die dramareeks se storielyne voortgaan, sluit heelwat nuwe spelers – met nuwe storielyne – by die sepie aan. Ontmoet die karakters hier.

Getroud met rugby is vanaf 4  April 2016 in Villa Rosa se tydgleuf – weeksaande om 18:30 – op kykNET te sien.

Jou Show

34 jou show emo new


Die gewilde kykNET-kletsprogram Jou Show, met aanbieder Emo Adams, trek ’n vars baadjie aan – ’n nuwe stel, ’n nuwe formaat, maar nog net soveel pret.

Die tiende seisoen van dié reeks word vanjaar in halfuur-programme uitgesaai – 30 minute van aksiebelaaide, skreeusnaakse vermaak.

Oudergewoonte kom kuier die wie’s wie van die vermaakbedryf saam met Emo in die ateljee. Bekendes soos Modder en Bloed se Sean Else en Stian Bam, Vir Altyd se Ivan Botha en Donnalee Roberts en die Sterlopers-akteurs Willem Botha en Jenna Dunster maak dié keer ’n draai. Ander gaste sluit in onder andere Vinette Ebrahim, Lizz Meiring, Zelda le Grange, Patricia de Lille, en Boer Soek ’n Vrou se nuwe aanbieder, Minki van der Westhuizen.

Kyk Jou Show, vanaf Maandag 4 April 2016 om 20:00 op kykNET. Lees meer hier.

Leef jou reis

34 leef jou reis 4 nuus


Die reisprogram Leef jou reis, met Gerrie Pretorius as aanbieder, keer op Maandag 4 April 2016 om 21:00 terug na die kassie vir ’n vierde seisoen.

Réunion-eiland huisves een van die mees aktiewe vulkane ter wêreld, wat Gerrie natuurlik vir ons gaan wys. Verder wag daar ’n 4×4-tog deur Malawi, ’n indrukwekkende reis tot by Zimbabwe se Mana-poele, Indië se fees van kleure en die tuiste van Tolkien se Lord of the Rings, Nieu-Seeland.

Hy wys ons boonop presies watter paaie om in die Wildtuin en Kgalagadi te ry, hoe om deur ons eie land met ’n trein te toer en ons gaan kyk saam met hom blomme in Namakwaland. As jy al ooit gewonder het hoe lyk dit in Kroasië, beter jy ook ingeskakel bly! Vanjaar is propvol besonderse reise en wag daar ook ’n enorme prys vir een gelukkige kyker!

Lees meer.

Sediment

34 sediment new feature


Sediment, met die komkommerkoel-aanbieder JP Quickelberge, keer eersdaags terug vir ’n derde seisoen.

Dié unieke wyn-en-reisprogram bied ’n ongeëwenaarde kykerervaring en neem ’n mens op ’n ontdekkingstog van die beste en minder bekende wynlandjuwele wat gees en gehalte aan die Suid-Afrikaanse Wynlande verleen – dít sonder dat jy jou gemakstoel of rusbank hoef te verlaat.

Sediment se derde seisoen bestaan uit 13 insiggewende episodes wat kronkel al langs die agterpaaie van die platteland om die suksesstories van die meer onbekende wynplase en -produsente, proe-proe, met kykers te deel.

Sediment (seisoen 3) skop af op kykNET op 6 April 2016 en sal elke Woensdag om 17:30 op jou kassie pronk. Lees meer hier.

Kampkos

34 kampkos ll kos


Daar is niks so lekker soos om lekker te eet nie! En wanneer ’n mens kamp wil jy smullekker maaltye en lekkernye – eenvoudig en maklik – voorberei en geniet! En as jy dit alles kan deel met goeie geselskap van vriende en familie – dan eet jy nie net lekker nie, maar dan kuier jy nét so lekker!

Kampkos, ’n uitbreiding van kykNET se leefstyl- en kampeerprogram SleepTV, keer op Donderdag 7 April 2016 om 17:30 terug vir ’n tweede seisoen.


John-Henry en Beáte Opperman is weer die aanbieders, en kykers kan uitsien na hope kuiers om die braaivleisvuur. In die nuwe seisoen kuier Reis na Gister-aanbieder Jak de Priester, Modder en Bloed-akteur Edwin van der Walt en Koekedoor-beoordelaar Tiaan Langenegger onder andere saam met John-Henry en Beáte. Lees meer.

VeranderDinge

34 veranderdinge 2016 nuus


Vooruitgang gebeur nie sonder verandering nie, en dís waar VeranderDinge in die prentjie kom. Dié reeks, nou in sy tweede seisoen, fokus op bekendes én gewone mense wat buitengewone dinge doen.

Ruda Landman en Kim Cloete is weer die aanbieders. Saam kyk hulle na baie dinge. Interessante dinge. Skrikwekkende dinge. Opwindende dinge. Hartseer dinge. Snaakse dinge. En soos wat hulle dίt doen, gaan kykers saam met hulle uitvind wat mense inspireer om van koers te verander.

Kyk VeranderDinge, vanaf 10 April 2016 op Sondae om 18:30. Lees meer hier.

Vinkel en Koljander

34 vinkel koljander news


Vinkel en Koljander, wat op Maandag 11 April 2016 om 20:30 op kykNET begin, is ’n sitkom wat draai om die daaglikse doen en late van die Solomons-gesin van Harfield Village, Claremont.

Die hoofkarakters, Cheryl en Neesha Solomons, word vertolk deur Quanita Adams, wat ook skepper en hoofskrywer van die reeks is, en Celeste Matthews. Dié twee is dalk vinkel en koljander, maar die een is in dié geval nie soos die ander nie.

Cheryl is Neesha se skoondogter en hulle sit glad nie langs dieselfde vuur nie. Sy is getroud met Neesha se oudste seun, Riyaan Solomons (Sherman Pharo). Cheryl is ’n entoesiastiese sjef en vasbeslote om haar spysenieringsmaatskappy, wat tydens die resessie ondergegaan het, weer op die been te bring. Sy is ’n regte foodie; uiters kreatief en passievol.

Neesha, self ’n bobaas-kok, is bekend in die gemeenskap vir haar tradisionele Kaaps-Maleise kookkuns. Sy het ’n kompeterende verhouding met Cheryl en sy vind nie aanklank by haar kookstyl nie. Hulle woon in dieselfde huis en die twee vroue moet noodgedwonge ’n kombuis deel, met rampspoedige gevolge. Die kultuur- en geloofsverskille tussen haar en Cheryl veroorsaak ook verdere konflik in hul verhouding, en Riyaan moet behoorlik bontstaan om die vrede te bewaar. Lees meer.

Fluiters

34 fluiters karakters


’n Splinternuwe speurdrama uit die pen van die veelbekroonde, immergewilde Deon Opperman sal kykNETters vanaf April 2016 vasgenael voor die kassie hou. Jozua Malherbe is die talentvolle regisseur en kinematograaf.

Fluiters, ’n eerste van sy soort, voer kykers weg na ’n wêreld wat hulle nog nooit gesien het nie; ’n onderwêreld wat hulle saam met die protagoniste ervaar en moet leer ken; ’n verraderlike net van intrige wat die helde dwing om diep in hulle eie lewens te gaan soek na die krag, vindingrykheid en moed om te oorleef.

Vyf kollegas/vriende se suksesvolle IT-onderneming word weens ’n korrupte regeringsamptenaar gekelder. In ’n daad van vergeldende beregtiging, stig hulle ’n SecureDrop-webblad (waar fluiters bewyse van korrupsie kan lek sonder dat hulle identiteit verklap word).

Alles goed en wel, totdat hulle ’n dokument ontvang van iemand wat die skuilnaam “Leonardo” gebruik.

Die rolverdeling sluit verskeie bekende name en gesoute akteurs in, soos Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Jacques Bessenger, Marisa Drummond, Neels van Jaarsveld, Kim Syster, Fezile Mpela en Wayne van Rooyen. Fluiters, slegs op kykNET, vanaf 12 April 2016 om 20:00. Lees meer en ontmoet die karakters hier.

Koekedoor

34 koekedoor ll nuus


Koekedoor is ’n handelsmerk-uitbreiding van kykNET se gewilde kookkompetisie Kokkedoor. Die eerste seisoen van dié gewilde bakprogram het in Junie 2015 tot ’n einde gekom, toe Mareli Visser as die wenner aangewys is.

’n Splinternuwe seisoen, ’n soektog na die land se beste amateur-bakker, word van Donderdag 14 April 2016 vir dertien weke op Donderdae om 20:30 op kykNET uitgesaai.

Daar is drie uitdagings (tuis-, fyn- en pronkgebak) per episode, en daar sal elke week van die deelnemers verwag word om hul allerbeste gebak volgens ’n tema voor te sit.

Die meesterbakkers Mari-Louis Guy, Elizabeth Cloete en Tiaan Langenegger van Kokkedoor-faam is weer die beoordelaars. Lees meer oor die beoordelaars hier.

In die eerste episode, wat ’n halfuur langer gaan uitsaai en dus om 20:00 sal afskop, kom tien deelnemers van regoor Suid-Afrika in die Koekedoor-stoor in Tulbach byeen.

Glam Guru

34 glam guru 10 nuus


Glam Guru is die reeks waar Hannon Bothma en sy span mense se lewens verander deur hulle bloot te wys hoe maklik dit is om met min moeite sommer baie beter te lyk (en beter te voel!).

“Mooiwees is lekker en mooimaak is maklik! Jy moet net weet wat om te doen en die regte produk hê,” sê Hannon.

Die deelnemers aan die tiende seisoen van Glam Guru wissel dan ook van ’n jong matriekleerling wat droom van ’n sprokies-matriekafskeid, tot ’n vrolike, lewensblye jong vrou in ’n rolstoel. Almal met een ding in gemeen: ’n Beter, of dan die regte voorkoms, sal die lewe selfs nóg beter maak!

Kyk Glam Guru, vanaf 17 April 2016 elke Sondag om 18:00. Lees meer.