Logo
Arendsvlei S5 Slim BB
web uni tv guide

Arendsvlei

145Telenovela13

“Nolan is ’n goeie ou” – Arendsvlei

Nuus
26 Oktober 2021
Die veelsydige akteur Jacques Bessenger is deesdae te sien as Nolan in Arendsvlei. Jacques, wat te sien was in reekse soos Dwaalster en flieks soos Sink, vertel meer.
44 A036 12022040 C001

Vertel asseblief meer oor Nolan?

Die ding van Arendsvlei is dat mens nie te veel van die karakters voor die tyd sien nie. Dit wat ons van hom weet, is dat hy ’n onderwyser was en dat hy LO gegee het. Sy oupa het vir hom ’n huis in Arendsvlei nagelaat en dit is hoekom hy daarheen gaan. Ons weet sy ouers het Kanada toe getrek en is daar in ’n motorongeluk oorlede. Hy is geheel en al op sy eie en ’n eensame karakter. Hy het emosionele uitdagings wat later meer bekend word. Nolan is ’n goeie ou, maar hy steek baie weg.

Nolan verloor sy sig. Hoe het jy hierdie deel van die karakter benader?

Dit was tricky gewees. Dit is een ding as iemand blind gebore word of hulle sig verloor wanneer hulle baie jonk is, maar dis ’n ander ding as iemand heelwat ouer is en hulle sig verloor. Ek het baie gewerk met die idee dat alles skielik donker is en die impak wat dit op jou het. Emosioneel én fisies. Jy moet dus werk met wat in jou geheue is.

Dit was ’n groot uitdaging. Ek kon nie my oë toegemaak het as ons skiet nie want dit is nie wat blinde mense doen nie. Ek het navorsing gedoen en baie artikels gelees oor wat blinde mense se ervaring is. Daar was ’n artikel van ’n dramaskool en een van die dinge wat hulle gesê het, is dat jy ’n sagte fokus in jou oë moet hê; nie net strak voor jou moet uitstaar nie. Ek het baie gefokus op geluide, maar dan ook gekyk hoe blinde mense met ander mense praat. Dit was ’n uitdaging, ek sal nie jok nie. Nolan raak betrokke in ’n liefdesverhouding betrokke en om nie oogkontak met haar te maak nie, maak dit ’n vreemde ervaring. Jy speel amper vir jouself. Ons is so gewoond om van mekaar te speel en mekaar se energie te voel deur in mekaar se oë te kyk, maar hier kon ons dit nie doen nie.

Nolan

Jy is ’n veelsydige akteur wat alles van radiowerk tot teater doen. Wat sou jy sê is die vyf hoogtepunte van jou loopbaan tot dusver?

Ek het onlangs besef dit is 20 jaar sedert ek ’n agent gekry het en as akteur begin werk het. Dis moeilik om net vyf te kies, maar as ek moet sou dit die volgende wees:

  • Song vir Katryn, wat in 2002 geskiet is, bloot net omdat ek deel was van kykNET se heel eerste dramareeks. Die kanse om daardie tyd werk te kry, was skraal. Om dus ’n rol te kry en as jong akteur te werk saam met mense soos Valiant Swart, Antoinette Kellerman en Marius Weyers, was onwerklik.
  • Beslis Erfsondes. Dit was ’n groot keerpunt in my loopbaan. Die regisseur was Bobby Heabey, die draaiboek was deur Henriëtte Gryffenberg en Jana Strydom was een van my medespelers. Dit was ’n reeks wat my laat besef het you are playing with the big boys now. Die karakters was net so goed uitgewerk.
  • Die fliek Kanarie is beslis ook een van die hoogtepute.
  • Ek het net ná vlak 5 van die inperking verslap is, aan ’n nuwe fliek begin werk waarvan Etienne Fourie die skrywer en regisseur is. Ek speel ’n gay karakter wat ’n drag artist is. Dis ’n fassinerende karakter. Van die ander spelers is Albert Pretorius, Wessel Pretorius, Cintaine Schutte en Roberto Kyle. Ek is nie seker wanneer dit vrygestel word nie, maar ek vermoed iewers volgende jaar.  
  • So ry Miss Daisy wat in 2017 landwyd opgevoer is. Om saam met Sandra Prinsloo en John Kani te werk... Ek kan tot vandag nie glo ek het die voorreg gehad om saam met hierdie twee mense in ’n toneelstuk te wees nie.

As die pandemie eens en vir altyd agter ons is, wat sal jy die graagste wil doen?

Ek wil gaan dans in ’n klub. Rondspring en fun hê saam met my vriende. Ek wil beslis travel en Europa gaan sien.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Behalwe Adrendsvlei, vertaal ek ook telenovellas in Afrikaans. Daar is reeds sprake van werk vir volgende jaar, maar intussen gaan ek see toe en swem, speel met my katte en geniet ek dit om weer mense te sien. Ek het reeds my tweede inenting gehad en dis somer in die Kaap so dit is tyd om weer kontak met mense te maak. Maar jy weet hoe gaan dit in hierdie bedryf – iemand kan jou skielik bel en dan het jy weer vir die volgende twee maande werk.

Wat is jou drie gunsteling-flieks van alle tye?

The Colour Purple. Ek het dit gesien toe ek 18 was en dit het ’n groot impak op my gehad. The Piano Teacher, die regisseur Michael Haneke se fliek met Isabelle Huppert in die hoofrol. Heaven met Cate Blanchett en Giovanni Ribisi.

Wat hoop jy is onder die Kersboom vir jou vanjaar?

Ek hoop vir ’n eetkamertafel. Die een wat ek het, is te klein en ek wil dit vervang. So as iemand vir my ’n eetkamertafel en stoele onder die boom wil los, sal ek baie gelukkig wees.

Onthou om Maandae tot Donderdae om 19:30 in te skakel vir Arendsvlei. Gesels ook saam op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerk, #Arendsvlei te gebruik.