Logo

Noem my Skollie: Elke roeping het ’n prys

Nuus
24 Mei 2016
Noem my Skollie, gebaseer op die ware verhaal van ’n jong storieverteller in die tronk in die 1960’s, word op 2 September 2016 in teaters uitgereik.
Noem my Skollie 01

Dann-Jacques Mouton (AB). Foto: Lindsey Apollis


Noem my Skollie, gebaseer op die ware verhaal van ’n jong storieverteller in die tronk in die 1960’s, word op 2 September 2016 in teaters uitgereik.

Dit vertel die verhaal van die draaiboekskrywer John W. Fredericks (hy word AB genoem in die film). Noem my Skollie speel af op die Kaapste Vlakte en in die Pollsmoor-tronk, en is Daryne Joshua se debuut as regisseur.

AB (Austin Rose) en sy drie beste vriende, Gimba (Ethan Patton), Gif (Joshua Vraagom) en Shorty (Valentino de Klerk), word groot op die Kaapse Vlakte – ’n armmoedige bendewêreld.

Afgesien van hulle omstandighede probeer die kinders die bendes vermy, maar wanneer AB ’n traumatiese voorval beleef, besluit hulle om ’n bende te stig om hulself te beskerm.

Die vier vriende, wat nou soos broers is, pleeg nie ernstige misdade nie, maar ten spyte daarvan hou die polisie hulle dop deur hul tienerjare en totdat hulle ’n groep gewilde jong mans word.

34 noem my skollie poster


Die ouer AB (Dann-Jacques Mouton) en Gimba (Gantane Kusch) word gearresteer tydens ’n inbraak en tot twee jaar tronkstraf gevonnis.

AB besluit om sy talent vir storievertel te gebruik om die geharde misdadigers te vermaak en sy status te verhoog, terwyl Gimba ’n ander pad inslaan om sy veiligheid te waarborg.

Hy gaan voort met die verhouding met sy vriendin, Jenny (Tarryn Wyngaard), wanneer hy vrygelaat word en storieskryf word ’n manier om haar te beïndruk. Maar sy bendevriende oortuig hom om weer by hulle aan te sluit – ’n besluit wat skokkende gevolge vir hulle almal het.

’n Wêreld op die Vlaktes is nog nooit op so ’n outentieke manier uitgebeeld soos in Noem my Skollie nie.

Noem My Skollie raak temas soos vriendskap, verraad, vergifnis en aanvaarding aan. Die titel haak aan by die ou gesegde dat ’n mens niemand op hulle voorkoms moet oordeel nie en bevorder die opvatting dat elkeen ’n talent het, selfs al is dit somtyds moeilik om te vind en al is daar moontlik ’n prys daaraan gekoppel.

John W. Fredericks het sy skoolloopbaan in sy tienerjare vaarwel geroep en het baie jare van sy jeug in die tronk deurgebring. In sy sestigs het hy daarin geslaag om ’n uitstekende draaiboek van wêreldgehalte te skryf.

34 noem my skollie 02

34 noem my skollie 03

34 noem my skollie 04

34 noem my skollie 05

34 noem my skollie 06



Noem My Skollie sal aanklank vind by alle Suid-Afrikaanse gehore. Die kragtige klankbaan is deur die internasionaal erkende Kaapse musikant Kyle Shepherd gekomponeer (Shepherd het die Standard Bank Jong Kunstenaar van die Jaar-toekenning in 2014 gewen).

Die rolverdeling bestaan verder uit onder andere Christian Bennett, Gershwin Mias, Oscar Peterson, Abdu Adams, Peter Butler, Charlton George, Jill Levenberg, Denise Newman, Sandi Schultz, Andre Roothman, Paul du Toit en Irshaad Ally, asook ’n fantastiese vertoning deur die nuweling David Manuel, wat die rol van die tronkbaas vertolk. Manuel was nog op parool toe die film gemaak is.

Noem My Skollie is vervaardig deur David Max Brown en Moshidi Motshegwa (Maxi-D Productions), in samewerking met M-Net, kykNET, die NFVF en die DTI. Dit word deur Ster-Kinekor Entertainment versprei.