Logo

Noem My Skollie: SA se eerste inskrywing vir Oscars 2017

Nuus
28 September 2016
Op 28 September 2016 is daar aangekondig dat die speelfilm Noem My Skollie genomineer is as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die 89ste Jaarlikse Oscar-toekennings (Academy Awards).
Noem my Skollie

Die spesiale raad, wat deur die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF) saamgestel is, het op 28 September 2016 aangekondig dat die speelfilm, Noem My Skollie – wat tans in teaters regoor Suid-Afrika wys – genomineer is as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die 89ste Jaarlikse Oscar-toekennings (Academy Awards) in die kategorie vir Beste Rolprent in ’n Uitheemse Taal. Hier is die storie agter die storie.

NFVF se hoof uitvoerende beampte, Zama Mkosi, het gesê: “Ons is trots daarop dat Noem My Skollie, na ’n streng beoordelingsproses, genomineer is as die amptelike inskrywing vir die 89ste Jaarlikse Oscar-toekennings. Dit is ’n goeie aanduiding van die rol wat die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF) speel in die bemagtiging en transformasie van die rolprentbedryf in Suid-Afrika deur stories, uit ons strate, die wêreld in te stuur.”

Vanjaar se kompetisie vir dié gesogte nominasie om Suid-Afrika te verteenwoordig was straf. Hierdie is ’n merkwaardige prestasie vir Daryne Joshua se eerste speelfilm.

Die vervaardigers, David Max Brown en Moshidi Motshegwa, en die vennote wat betrokke was by die finansiering van die film by die NFVF, kykNET, M-Net en die verspreider, Ster Kinekor Entertainment, is verheug oor die nuus, trots op die feit dat die film die prestasie verdien en is vol vertroue dat dit verdere nominasies by die Academy sal ontvang.

Die film is tot op datum deur meer as 32 000 mense in Suid-Afrika gesien. “Noem My Skollie se prestasie by die loket word nou versterk deur die aankondiging dat dit Suid-Afrika se inskrywing vir die Oscars is. Ons is ongelooflik trots op die aandeel wat ons gehad het om hierdie ongelooflik film op Suid-Afrikaanse skerms te kry en is opgewonde oor die groeiende potensiaal in ons mark en op die wêreldverhoog,” sê Mario Dos Santos, Hoof Uitvoerende Beampte –  Ster-Kinekor Entertainment.

“Noem My Skollie is ’n projek wat ons na aan die hart lê en M-Net en kykNET is ongelooflik trots op elke persoon wat gehelp het om hierdie outentieke Suid-Afrikaanse storie lewe te gee,” sê Jan du Plessis, Direkteur: M-Net Kanale.

“Wat dit nog meer spesiaal maak, is dat hierdie treffende verhaal die regisseur se eerste speelfilm is en dat dit gebaseer is op die ware ervaringe van die draaiboekskrywer. Dit is ’n film wat die wêreld móét sien.”

Die film vertel die verhaal van ’n jong man wat in die 1960’s in ’n Kaapse tronk beland. Hy gebruik sy talent as storieverteller om homself teen die bendes in die tronk te beskerm. Dit is gebaseer op die lewe van draaiboekskrywer, John W. Fredericks, wat nou 70-jaar oud is.

Dit is ’n aangrypende storie oor verlossing wat die gehoor op ’n aksiebelaaide mallemeule met ’n groot emosionele impak neem. Dit is ’n film wat op ’n outentieke manier delf in die kultuur van die kleurlinggemeenskap in die Wes-Kaap, maar deur alle Suid-Afrikaners geniet kan word – ongeag van hulle kleur, geloof of taal.

Ons het met Dann-Jacques Mouton gesels oor sy rol in Noem My Skolliekyk die video hier.

34 noem my skollie 03

34 noem my skollie 02

34 noem my skollie 01



“Die oorweldigende positiewe terugvoer wat Skollie van gehore regoor die land ontvang hou aan om ons te verras. Ons is oorweldig deur die eer en geleentheid om ons land te verteenwoordig. Is met ’n salute ja,” sê die regisseur, Daryne Joshua.

“Die grootste bevestiging wat ’n kunstenaar kan kry, is deur sy eie mense. Ons is in die wolke omdat ons daardie bevestiging gekry het,”, se die vervaardiger, Moshidi Motshegwa.

“As jy films soos Shawshank Redemption, Tsotsi en City of God kombineer, sal jy ’n film kry wat Noem My Skollie die beste versinnebeeld in terme van filmgehalte en vermaak,” sê die vervaardiger, David Max Brown.

“Ek het ’n onmoontlike droom gedroom. Diep binne in my hart het ek geweet dat Skollie ’n impak gaan hê! Toe ek 70 geword het, het ek ’n nagemaakte Oscar-beeldjie ontvang en dit het ’n ereplek in die middel van my lessenaar gekry. Ek het dit laat manifesteer,” sê die skrywer, John W. Fredericks.

Kyk hier na die musiekvideo vir HemelBesem se Noem my Skollie, wat hy vir die gelyknamige fliek gepen het.

Die film het, sedert dit op 2 September 2016 vrygestel is, baie goeie resensies ontvang en wys steeds by uitgesoekte fliekteaters regoor Suid-Afrika. Dit sal dié komende week by die volgende fliekteaters te sien wees:

• Ster-Kinekor: The
• Bridge
• Ster-Kinekor: Cape Gate
• Ster-Kinekor: N1 City
• Ster-Kinekor: Blouroute
• Ster-Kinekor: Eikestad
• Ster-Kinekor: V & A Waterfront Nouveau
• Ster-Kinekor: Parow
• Ster-Kinekor: Promenade
• Ster-Kinekor: Somerset Mall
• Ster-Kinekor: Gateway Mall
• Ster-Kinekor: Brooklyn Nouveau
• Ster-Kinekor: Rosebank Nouveau
• NuMetro: Canal Walk
• NuMetro: Worcester
• Ster Kalahari – Upington
• Victorian Cinema – Newcastle

Suidooster se Abduraghmaan Adams is as ’n skobbejak in Noem my Skollie te sien. Hy vertel ons meer van sy rol. Kyk die video hier.

Kyk die lokprent hier onder:



Volg Noem My Skollie gerus op Twitter en Facebook.