Logo
Net Koffie – Slim
web uni tv guide

Net Koffie

144LeefstylPG

Net Koffie met Henriëtte Marx

Nuus
10 September 2020
Begin jy jou dag met ‘n koppie koffie? Indien wel, is jou koppie koffie een van 2,25 miljard koppies wat elke dag wêreldwyd gedrink word.
koffie

Net Koffie is ‘n nuwe leefstylprogram net oor koffie wat vanaf Saterdag 3 Oktober 18:00 uitgesaai word. Kykers gaan koffieproduksie en –verbruik wêreldwyd ontdek en in hierdie reeks is Nicaragua in Sentraal-Amerika, ‘n land wat meer as 44 000 duisend koffieprodusente het, onder die vergrootglas. Daar gaan ook resepte gedeel word en bekendes soos Clint Brink, Ricus Nel en Jenna Clifford gaan saam oor ‘n koppie koffie kuier.

Henriëtte is ‘n entrepreneur en eienaar van Coffee Excellence. Sy is uiteraard ‘n koffieliefhebber, maar ook ‘n ma en vriendin en iemand wat nooit nee sê vir ‘n uitdaging nie.

“Vandag kyk ek terug na byna 10 jaar waar ek in myself moes glo, deur my foute leer, oorwinnings behaal en daaroor juig,” sê sy. “Ek kon dit egter nie doen nie sonder die ondersteuning van my span, vriende en familie, my kinders wat my soms minder moes sien, my lewensmaat en die Here wat hierdie pad saam met my stap. Sonder hierdie belangrike mense sou ek kortkom aan van die mooiste koffiestories wat ek elke dag leef en skryf.”

Henriëtte sê jy kan nie iets opreg waardeer as jy nog nie deur “hierdie pragtige wit blommetjie, verstikkende groen plant, bloedrooi bessie en koffieboontjie se storie aangegryp en ingesuig is nie.”

“Hoe meer ek oor die geskiedenis, tradisies en kultuur van koffie geleer het, hoe meer het die stories, ingrypende lewensverhale en realiteit van die mens en koffie in my kom groei,” sê sy. “Dit was nog altyd ‘n droom om die storie, die regte storie, van koffie te vertel, en wat ‘n voorreg om dit saam met die regisseur Ronel Moodie te doen.”

Wat is die geheim van ‘n goeie koppie koffie en vir wie is hierdie program?

“Die beste koffie is die een waarvan jy die meeste hou, maar dit moet beslis vars gerooster, vars gemaal en op jou verkose manier gemaak word. Ek is om die waarheid te sê versigtig om te veel reëls aan hierdie ongelooflike produk te koppel,” sê Henriëtte. “Hierdie program is vir almal wat elke oggend ‘n koppie koffie drink, maar ook die natuur bewonder, graag op reis gaan en passie het vir mense. Net Koffie neem die kyker op reis na Nicaragua vir niks anders as die beste koffie nie.”

Net Koffie begin op 3 Oktober om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).