Logo
Spoorloos 1600x160 Slim Homepage

Nee, ons het ook nie geweet nie – Spoorloos 2

Nuus
15 September 2020
Spoorloos II se laaste episode word op 15 September uitgesaai en reeds van die eerste episode het dit kykers vasgenael gehou.
Untitled design

Daar was kinkels en draaie in die storielyn, die akteur Christo Davids wat gewys het dat hy ewe bedrewe as regisseur is en ervare spelers soos Philip Moolman en Elma Postma wat weer in sterk dramarolle te sien was. Maar dit was veral die jong spelers wat gehelp het om hierdie storie te dra. ‘n Paar van hulle vertel meer van die ondervinding.

Andahr Cotton (Adam)

Het jy van die begin geweet waarheen die storie gaan of was daar vir jou ook kinkels? 
Die teks was soos ‘n boek wat mens nie kan neersit nie. Elke kinkel was ‘n verrassing en ek moes dit ‘n paar keer lees om seker te maak ek het met die storielyn bygehou.

Het jy daarvan gehou om die karakter te speel en waarom? 
Dit was die rol van 'n leeftyd. Mens kry nie gereeld die kans om so 'n komplekse karakter te speel nie. Daar is so baie lae aan Adam se storie, en my innerlike self het gejuig van blydskap van al die uitdagings wat dit gebring het.

As jy een ding van hierdie ondervinding sal onthou, wat is dit? 
Die wonderlike mense, elke akteur se passie en liefde vir hul kuns en die soldate wat agter die kamera werk het gemaak dat die storie 'n sukses is.

Wat was die grootste uitdading met die maak van die reeks? 
Om vir ‘n karakter ‘n lewe te skep sonder dat hy ‘n verlede het. Om daai mens te vat en maak dat hy soos ‘n baba met vars oë na die wêreld kyk, was ‘n groot uitdaging.

Wat is jou planne vir die res van die jaar? 
Werk, werk, werk. En elke Dinsdagaand af te vat om ‘n lekker stukkie Ekstra Medium te kyk.

Lee Visagie (Christa)

Het jy van die begin geweet waarheen die storie gaan of was daar vir jou ook kinkels? 
Ek het absoluut geen idee gehad wat gaan gebeur of hoe dinge gaan uitdraai nie. Toe ek die eerste keer die hele teks deurgelees het, was ek geskok. Dit het gevoel asof ek ‘n storieboek lees. FANTASTIES! Mal oor die storielyn. Was van die begin af vasgevang met die karakters en hoe alles in mekaar pas. Dit is beslis ‘n baie interessante legkaart.

Het jy daarvan gehou om die karakter te speel en waarom? 
Was mal daaroor. Christa, en hoe sy in die storie pas, was ‘n uitdaging. Ons is baie dieselfde so dit was lekker om elemente van myself in die karakter in te werk, maar ook om die verskille agter te kom en haar storie so rou en eerlik as moontlk te kon vertolk.

As jy een ding van hierdie ondervinding sal onthou, wat is dit? 
Dit was een van die beste ervarings wat ek nog ooit gehad het. Die geselskap was ongelooflik en ek het so baie van elkeen geleer. Die regisseurs was fantasties en het ons genoeg vryheid gegee om die karakters lewe te gee, maar ook die beste leiding gegee wat ons om elke hoek en draai gehelp het. Beste ervaring ooit. Maar ek dink wat ek altyd sal onthou, is die ongelooflike atmosfeer wat daar tussen die speler en die span was. Wat ‘n ongelooflike span mense. Almal het met soveel passie gewerk en dit is wat die sukses van alles bepaal het.

Wat was die grootste uitdading met die maak van die reeks? 
Ek dink Covid-19 was ons grootste uitdaging. Toe ons in vlak-4 weer kon begin werk, was daar baie plekke waar ons sou skiet wat weer gekies moes word, daar was baie dinge wat ons nie meer mag gedoen het nie en daar was baie uitdagings waar om ons moes werk om dinge te maak werk. Maar dit het nie die geesdrif van die span gebreek nie. Ons het dit maak werk.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?
Om gefokus te bly. Aan te hou werk aan myself en my beroep en hopelik nuwe projekte aan te pak. Ek is opgewonde vir wat voorlê.

Nastassja Pretorius (Yvette)

Het jy van die begin geweet waarheen die storie gaan of was daar vir jou ook kinkels? 
Daar was beslis vir my kinkels wat ek nooit sou verwag nie. Dit was uiters boeien gewees van die eerste episode se teks.

Het jy daarvan gehou om die karakter te speel en waarom? 
Die karakter ht my inspireer. Yvette is uniek en uitdagend. Ook eer sy die waarheid en sy is braaf en doelgerig wat ek glo eienskappe is wat gemaak het dat ons saam kon smelt.

As jy een ding van hierdie ondervinding sal onthou, wat is dit? 
Die ongelooflike mense. Almal – die spelers, tegnici, produksiespan en regisseurs.

Wat was die grootste uitdading met die maak van die reeks? 
Buiten natuurlik vir die onderbreking weens die pandemie, het ek simpatie gehad vir die verskeie departemente soos kostuums, grimering, rekwisiete en so aan omdat ons amper elke dag op ‘n ander plek moes skiet en hulle die hele tyd moet opstel, oppak, rond dra …

Wat is jou planne vir die res van die jaar?
Om my bes te doen met elke geleentheid wat ek kry. The best preparation for the future is the present. Ek hou uiteraard aan met my joga-klasse asook my klasse by Playhouse Acting Studio.

Marilise van Wyk (Lucy)

Het jy van die begin geweet waarheen die storie gaan of was daar vir jou ook kinkels?
Ons het almal ‘n kort opsomming met die oudisies gekry so ek het ‘n idee gehad waaroor dit sou gaan. Ek onthou egter toe ek al die tekste gekry het, kon ek dit eenvoudig nie neersit nie. Daar was so baie kinkels. Nes ek gedink het nou weet ek hoe hierdie gaan eindig, wham!, daar is nog ‘n kinkel. Terwyl ek nou die reeks kyk, kan ek amper self nie byhou met al die kinkels nie. Dis lekker!  

Het jy daarvan gehou om die karakter te speel en waarom? 
Spoorloos II is een van daai reekse waarin elke akteur wíl speel en Lucy is ‘n once-in-a-lifetime rol. Dit was vir my lekker om bietjie my danser-skoene aan te trek en net wild te gaan. Lucy gun jou die geleentheid om te vergeet van die moeilke dinge in die lewe. Dit was lekker om tussen die hede en verlede te spring omdat Lucy se wêreld so kompleks is.

As jy een ding van hierdie ondervinding sal onthou, wat is dit? 
Moenie jouself onderskat nie. Soms kyk mens na ‘n produksie of karakter en dink jy sal nooit kan doen wat van jou verwag word nie. Maar as jy eers jou karakter se wêreld instap, word die onmoontlike moontlik. Glo in jouself en geniet die proses.

Wat was die grootste uitdading met die maak van die reeks? 
Die pandemie het soos ‘n warrelwind gekom en die produksie moes vir ‘n paar maande staak. Daar was die terugflitse, die tonele op die dam en die spesiale effekte. Ons moes aanpas by ‘n hele nuwe wêreld en dit was vreemd in die begin, maar ons het daaraan gewoond geraak.

Ek moes ook leer “lap dance” en my innerlike Lucy ontdek. Ek is glad nie ‘n danser nie en al kan ek ritme hou, is dinge soos “lap dances” nie in my gewone partytjie-register nie. Maande voor ons begin skiet het en ook tydens verfilming, het ek aanlynklasse vir al die danstonele geneem. Op my CV staan daar deesdae: Somtyds “lap dancer”. (Nee, ek spot. Dit staan nie regtig daar nie.)

Wat is jou planne vir die res van die jaar? 
Ek is op die oomblik suster Felicity Hendricks in Binnelanders en sorg vir al die skindernuus. Daar is ook ander projekte wat ek nie kan wag om te begin skiet nie.

Ruan Blum (Ben)

Het jy van die begin geweet waarheen die storie gaan of was daar vir jou ook kinkels? 
Soos ek elke episode begin lees het, het ek twee en twee bymekaar gesit, maar sodra ek aan die einde van die episode gekom het, het dit my van spoor gegooi. Ek dink dis iets besonders wat die reeks regkry – dat dit vir jou ‘n teorie as kyker skep en jou dan heeltemal verkeerd bewys.

Het jy daarvan gehou om die karakter te speel en waarom? 
Dit was lekker om die karakter van Ben de Jager te vertolk omrede dit so goed geskryf is. Die skrywers maak dit regtig maklik vir ‘n akteur in die reeks. Om saam met Ilse van Hemert as hoofskrywer en regisseur te kon werk, waar jy onmiddellik terugvoer op vrae en keuses gekry het, gee jou soveel vryheid. 

As jy een ding van hierdie ondervinding sal onthou, wat is dit? 
Vir my was dit om met van die groot naam akteurs te kon speel. Om deur Ilse en Christo leiding te kon kry as regisseurs. Die ondervinding waarmee mens wegstap op die ou einde, asook die lekkerlag-oomblikke daarby. Soos byvoorbeeld die tonele op die dam waar die een spaan heeltyd gebreek het en ons net in sirkels geroei het. 

Wat was die grootste uitdading met die maak van die reeks? 
Die grootste uitdaging wat ek ondervind het, was toe grendeltyd begin het. Ons was in die middel van skiet, en skielik moes alles stilstaan. Niemand het geweet wat gaan gebeur, hoe gaan dinge weer aangaan en of ons nog die reeks sou kon voltooi nie. Die manier hoe die produksiespan dit reg gekry het, hoe die reëls en regulasies vir Covid-19 in plek gekry is, was ongelooflik.  

Wat is jou planne vir die res van die jaar?
Daar nog nie iets vas nie, maar soos dinge weer normaal begin raak, begin daar klaar nuwe geleenthede kom.

Carla-Marie Myburgh (Wanda)

Het jy van die begin geweet waarheen die storie gaan of was daar vir jou ook kinkels?
Voordat ek nie die teks tot by episode 10 klaar gelees het nie, kon ek dit nie neersit nie. Ek het elke bladsy ingedrink en deur dieselfde vrae en kinkels gespook as wat ek glo die kykers het.

Het jy daarvan gehou om die karakter te speel en waarom?
Ek het baie lief vir Wanda geraak. Aan die begin was sy vir my 'n groot uitdaging aangesien ek en sy wêrelde verskil, maar nadat ek haar omstandighede werlik begryp het, kon ek haar karakter lewe gee.

As jy een ding van hierdie ondervinding sal onthou, wat is dit?
Ek sal nooit die band wat tussen die "heksies" ontstaan het, vir enigiets verruil nie. Ons het almal het net gekliek. Hulle het almal diep in my hart gekruip. Dan natuurlik ook Ilse (van Hemert) en Christo (Davids). Ek kan nie genoeg dankie sê vir al hulle leiding en raad nie. Ek het báie by hulle geleer.

Wat was die grootste uitdading met die maak van die reeks?
Vir my was dit die sprong tussen die verlede en hede en om kop te hou van jou karakter se journey.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?
Ek is op die oomblik besig om my graad in filmregie en –vervaardiging te voltooi. Dit sal my vir eers besig hou totdat ek hopelik binnekort weer 'n geleentheid kry om voor die kamera te speel.

Lara Botha (Janine)

Het jy van die begin geweet waarheen die storie gaan of was daar vir jou ook kinkels? 
Ek was beslis geskok toe ek Spoorloos II die eerste keer gelees het. Die einde van die reeks het my veral verbaas want ‘n mens dink dat die kinkels ophou nadat die geheim opgelos is, maar dit is nie die geval nie.

Het jy daarvan gehou om die karakter te speel en waarom? 
Ek is mal oor Janine. Sy is in soveel maniere my teenoorgestelde dat ek haar my “dark twin” gedoop het. Ek het haar ook vreeslik jammer gekry omdat sy deur meeste mense misken word. Dit is hoekom sy so lief vir Yvette was: sy het haar raakgesien.

As jy een ding van hierdie ondervinding sal onthou, wat is dit? 
Ek dink ek gaan so baie van die ervaring onthou omdat dit my eerste TV-verskyning was. Ek het soveel geleer van die ervare mense op die span, veral Ilse van Hemert. Maar iets wat nog lank in my geheue sal bly, is die drie erdwurms wat op my voorkop in een van die episodes kampeer het.

Wat was die grootste uitdading met die maak van die reeks? 
Dit was moeilik om met al die Covid-19-regulasies te skiet omdat die aard van toneelspel nie regtig ditself leen tot afstand en maskers nie. Gelukkig weet akteurs hoe om te projekteer so middagete het iets soos ‘n luide piekniek geklink.

Wat is jou planne vir die res van die jaar? 
My planne is bietjie geskommel met die pandemie, maar ek gaan Engeland toe as die reisverbod verby is om daar oudisies by dramaskole te doen. Intussen spandeer ek tyd saam met my familie.