Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

‘n Witwarm nuwe seisoen begin!

Nuus
06 Junie 2022
Kykers word herinner om hul PVRs van vooraf in te stel om nie ‘n oomblik van dié daaglikse drama mis te loop nie.
Binnelanders Homepage Billboard 1600x800

BINNELANDERS-aanhangers kan hulle gereed maak vir onvoorspelbare stories, interessante karakters met uiteenlopende agendas, asook nuwe gesigte wat vars intriges ontketen. Bloeddruk- en kalmeerpille word beslis voorgeskryf vir die volgende seisoen van die reeks wat op Maandag, 6 Junie 2022, om 19:30 op kykNET afskop.

Alles het begin met ‘n raadsvergadering in middel-Mei. Maar dit is slegs die stilte voor die storm, want behoede jou as jy van At Koster (Hans Strydom) ‘n vyand maak. Hy het planne. En hy het geduld, so moenie dink die stof het gaan lê nie…

Asof dit nie genoeg is dat voormalige moeilikheidmakers na vore tree met allerhande duister motiewe nie, kom At in die nuwe seisoen voor ‘n onverwagte dilemma te staan: hoe om relevant te bly in sy koninkryk – sy Binneland Kliniek!

Dr. Annelize Roux (Cindy Swanepoel) het haar hande vol – nie almal is ingenome met die feit dat sy alleen aan die stuur van sake staan nie. Haar eerste oorwinning kan dalk haar laaste wees wanneer dr. Steve Abrahams (Clint Brink) glad nie te vinde is vir die verbintenis met Magalies Mining wat sy voorstaan nie.

Dr. Conrad Bester (Hykie Berg) vestig sy aandag so intens op sy pasiënte en sy sakebelange dat die liefde in sy lewe Tracy Smit (Melinda Viljoen) reken sy moet iets daaromtrent doen. Maar wat? Die man is besig!

Op die tuisfront kry Steve opdraande: Ruan (Caiden Bouwer) probeer skoolmaat Lani Prinsloo (Annemart Bekink) uit die moeilikheid hou, maar sy goed-bedoelde pogings bots reëlreg met wat Steve dink reg en verkeerd is. Klein Vicky (Roxanne Bornman) het haar eie plannetjies: Oom Steve kan mos nie so alleen deur die lewe gaan nie! En sy dink hy hoef nie ver te gaan soek vir die perfekte pasmaat nie…

Die liefde laat jou soms ‘n harde pad aandurf, slaggate ten spyt. Vra maar vir dr. Uys Wagener (Gerald Steyn) wat einde laaste luister na sy hart. Maar ongelukkig – of gelukkig? - is dit nie al waarna hy luister nie. Gaby Toerien (Maude Sandham) begin wonder of haar ridder ‘n wit perd ry, terwyl haar vriendin Karen Kriel (Luandri Reynders) teen haar beterwete die moeilike uitweg kies.

Na ‘n traumatiese ervaring kom paramedikus Danny (Bradley Olivier) voor ‘n vurk in die pad te staan – watter kant toe nou? Sy vriende het uiteenlopende menings oor wat hom te doen staan, wat hom natuurlik glad nie help met sy dilemma nie.

Rian Malherbe (Erik Holm) worstel met ‘n vraag: Sien hy kans om (weer) ‘n kans met Cupido te waag? Sy vriend dr. Tertius Jonker (Reynardt Hugo) se lewe neem ‘n onverwagte wending na ‘n telefoonoproep uit Australië, terwyl prokureur Joline Hofmeyr (Rika Nieuwoudt) nie meer op haar rasionele brein kan staatmaak nie – sy het haar visier op ‘n man!

Zee Jordaan (Mila Guy) moet haar voete vind in die mediese wêreld, maar die feit dat haar hart bokspring vir die mees onwaarskynlike persoon help glad nie. Sal sy ooit leer om haar man te staan? Die grootste toets is wanneer prof. Struwig (Gerben Kamper) wat vir haar klas gegee het op universiteit skielik in Binneland opgeneem word…

BluCor en Binneland Kliniek se onderhandelinge wil maar net nie vlot nie. Sakeman Dawid Opperman (Deon Lotz) wil – en kan! - die kaf van die koring skei, en Sharon Basson (Marissa Claasen) wat danksy manlief nou sakevrou speel, laat haar beslis nie voorskryf deur die letter en wet van ‘n kontrak nie.

Gewetenlose Jacques (Charlie Bouguenon) en joernalis Jeremy Gavins (Craig Urbani) is beide op soek na die waarheid, maar hulle werkswyse verskil hemelsbreed. En Chiron, die internasionale reus wat reeds sy stempel in Suid-Afrika begin afdruk het, veroorsaak ongekende verdeeldheid – en nie net omdat Delia Richter (Odelle de Wet) deel is van hulle span nie.   

Moet Liam Vorster (David Viviers) sy skielike besluit om ‘persoonlike sake’ te gaan uitsorteer bekendmaak wanneer hy terug is? Doen hy dit, kan dit sy loopbaan kniehalter. Doen hy dit nie, kan dit presies dieselfde uitwerking hê! Een ding is egter seker: Hierdie appel val baie verder van die boom as wat enigiemand ooit sou kon raai.

Louis (Germandt Geldenhuys) en Naomi Koster (Je-ani Swiegelaar) het hulle hande vol: Hulle wil ‘n huis in ‘n ware woning omskep. Maar tussen baba Amalia (Lily van Niekerk) en die vele gesigte van Delia se eienaardige pa Andries Richter (André Odendaal), is dit bitter moeilik om ooreen te kom oor muurpapier en verf. 

Op Maandag, 6 Junie 2022, om 19:30, spring die volgende seisoen van BINNELANDERS, die gewilde daaglikse drama op kykNET (DSTV-kanaal 144) teen ‘n spoed weg – en kykers gaan aan hulle sitplekke moet vashou!

Kykers word herinner om hul PVRs van vooraf in te stel om nie ‘n oomblik van dié daaglikse drama mis te loop nie. Die splinternuwe seisoen kan slegs op kykNET (Kanaal 144) gevolg word, Maandag tot Vrydag om 19:30.