Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

'n Snoesige Mei

Nuus
04 Mei 2021
​Kort voor die winter begin, gaan jou gunsteling-sepie jou lekker snoesig hou in Mei maand - want hoe kouer dit word, hoe warmer word dit voor die skerm!
MSH BB

Getroud met rugby
Liam vind uit van Candice en Markus se verhouding en bevind homself in ’n oomblik van swakheid saam met Cheryl. Hulle aandjie saam word op die lappe gebring en dit veroorsaak groot onsteltenis wanneer slegs Cheryl gestraf word.

Die salon ly onder Maryke se nuwe “klub.” Die pompoms kry ’n lelike veluitslag ná ’n oormaaksessie met goedkoop grimering en word tydelik deur ontkleeddansers uit Maryke se klub vervang.

Renate is keelvol vir haar swanger lyfie en wil gewig verloor. Die waarheid oor Amanda wat ’n wag omgekoop het om beeldmateriaal van Reitz se drinkery saam met minderjariges te laat verdwyn, word uitgelek.

Die Stryders gaan vir ’n fotosessie vir ’n gay-tydskrif, en die stadion bied ’n kettieskietkompetisie aan.

Amanda voel ongemaklik met ’n artikel oor Reitz en Ryno en raak nóg meer ongemaklik met hulle vriendskap.

Die Stryders word by ’n hoërskool aangehou… Nesie raak moeg vir die kroeg en soek ’n nuwe uitdaging.

Yvonne dryf Lulu teen die mure uit.

Getroud met rugby is weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Suidooster
Danni voel onseker oor die toekoms en waar sy in Siya, as nuwe assistent-pastoor, se prentjie pas. Siya ervaar ook al meer druk by die kerk omdat sy lewe nie heeltemal die beginsels en oortuigings van die kerk reflekteer nie en hy en Danni neem 'n groot besluit. En asof Siya se lojaliteit en toewyding nie genoeg getoets word nie, moet hy oornag die kerk lei terwyl pastoor Phillips aansterk in die hospitaal. Alle oë is egter nie net op Siya nie, maar op arme Danni ook en kort voor lank word haar voorkoms 'n punt van bespreking… Gaan Siya die mas opkom, of meer belangrik: gaan sy verhouding met Danni die uitdagings wat sy nuwe rol meebring die hoof bied?

Vir die pasgetroude paartjie, Imraan en Kaashifa, is die huwelik beslis toe alles behalwe maanskyn en rose. En Imraan pluk vir hom 'n lat wanneer hy dit regkry om vir Kaashifa weer voor die kamera in te skuif.

Noudat Nicci terug in Ruiterbosch is, probeer Bridgette uit haar pad gaan om haar dogter hier te hou, maar Nicci se heraanstelling by Jacobs Property Developers skop 'n hele blik wurms oop: Tim en Nazeem hou nie daarvan dat die verlore dogter teruggekom het om weer haar plek as Bridgette se erfgenaam in te neem nie en Zoe en Nicci voel hulle moet mekaar die stryd aansê.

Wade se lewe begin vir die eerste keer in 'n lang ruk wending te neem wanneer hy 'n werk kry en iemand spesiaal se oog vang, maar wat hy nog nie weet nie, is dat die spesiale iemand se pa een van die moeilikste manne in Ruiterbosch is. Gaan Wade se liefdeslewe neerstort nog voordat dit regtig opgestyg het?

Suidooster is weeksdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Binnelanders


Gaby besluit om saam met Karen 'n woonstel te deel, maar min het sy verwag dat Shaun Weyers ook deel van die nuwe huishouding gaan word. Dinge raak 'n bietjie hittig wanneer Gaby begin agterkom dat Shaun se stories nie sin maak nie, en wanneer sy vir Karen daaroor konfronteer, raak die gort stilletjies gaar in die woonstel. Maar verbeel Gaby haar, of is Shaun die duiwel self?


Die hel is behoorlik los wanneer Wimpie begin agterkom dat hy die hoofkarakter in Ilse se nuwe boek is. Maar is dit werklik so? Of kan dit toegeskryf word aan massa-histerie oor Ilse se puik verbeeldingsvlugte? 


Tracy se tragiese ongeluk verander haar lewe handomkeer - en dan het Binneland Stereo ook natuurlik 'n opinie daaroor. Delia probeer haar beste om Conrad se ondersteunende "vrou in sy lewe" te wees, maar wanneer is genoeg nou eintlik genoeg? Smeulende gevoelens en yskoue interaksies sit nie altyd om dieselfde vuur nie... veral nie onder een dak nie. 


Chanel het 'n droom wat sy baie graag wil bewaarheid - en Danny dink dit is dalk die perfekte tyd om haar nie net te help om die droom te verwesenlik nie, maar ook om deel te neem aan die gloeiende geleentheid. Maar hoe verduidelik 'n mens nou vir jou meisie waar jy rondkerjakker sonder om die aap uit die mou te laat? 

Geheime het 'n manier om uit te kom, maar hoe ver sal jy gaan om joune te beskerm? Duidelik het sekere mense niks om meer te verloor nie, en wanneer die koue waarheid uiteindelik die lig sien is dit net die gevolge van die leun wat nog ter sprake is. 


Steve en Elana sit met die hande in die hare, want Ruan is 'n nuuskierige agie. Hoe probeer 'n mens 'n diep ondersoekende tienerseun se belangstellings bekamp wanneer die internet 'n mens vele webwerwe bied om jou nuuskierigheid uit te leef? Of kyk 'n mens maar anderkant in die hitte van die oomblik en hoop die storm woed homself uit?


Tracy vertrou nie baie mense nie, maar as daar een mens is wat sy glad nie vertrou nie, is dit Faf Gosslin. Wanneer dié man weer sy onverwagse opwagting maak, sien sy net moeilikheid. Maar hoe verduidelik sy haar witwarm wantroue in die man aan haar beste vriendin Maya? 

Binnelanders is weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Onthou om weeksaande in te skakel vir jou gunsteling kykNET-sepie en ons saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerke #kykNETGMR, #Suidooster en #Binnelanders te gebruik.