Logo
Net Koffie – Slim
web uni tv guide

Net Koffie

144LeefstylPG

‘n Rits bekendes drink saam koffie in die nuwe seisoen van Net Koffie

Nuus
24 Maart 2022
Die unieke verhouding tussen koffie en vulkane word in die derde seisoen van Net Koffie – vanaf Sondag 10 April 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) – op ‘n nog meer unieke wyse vertoon.
Net Koffie 3

Henriëtte Marx is teen hierdie tyd aan kykers bekend. Die koffiepotensiaal van ‘n nuwe streek het haar hierdie keer na ‘n spesiale deel van Sentraal-Amerika gelok. Soos in die vorige seisoene in Nicaragua en Colombia, is uitsoekgehalte spesialiteitskoffie waarna sy eintlik op soek is.

Haar nuwe bestemming, El Salvador, is egter geen gewone teelaarde vir koffie nie. Hier is vuurspuwende vulkane ook ‘n metafoor vir baie dinge - ‘n lewendige, onstuimige bestaan van mense wat ondanks dit alles, nog meer Salvadoriaans wil wees.

Koffie speel ‘n kernrol in hulle bestaan en jy kan dit nie nét sien en hoor as jy daar aankom nie – jy kan dit próé. Die koffie van El Salvador put juis krag uit die vrugbare grond waarlangs alle stede in die land, met sy oppervlakte van byna 21 000 vierkant ‘n meter geleë is.

Vir Henriëtte was El Salvador eksoties genoeg dat sy vooraf nie seker was of die vlinders in haar maag opgewondenheid of onheil verteenwoordig het nie.

“Soos die vliegtuig gereed maak om te land in die hoofstad San Salvador, kyk ek uit by die venster, en ek sien net hierdie massiewe vulkaan. Toe het ek geweet: verwag die onverwagse. En daarom weet ek die onverwagse dinge is iets wat die kyker ook te wagte kan wees,” verduidelik sy.

Sy het ‘n storie gaan haal om Suid-Afrika toe te bring en so ook kom die unieke koffie van die streek terug na eie bodem.

Saam met die kyker ontdek sy die plase waar reuke van rose en bloeisels, of nasmake van donker sjokolade, kakao en karamel in koffie ingebou word. Die streek se eie vrugte en natuurlike elemente gee aroma aan ‘n heeltemal eiesoortige koffie.

Henriëtte skuur skouers met van die groot name in die koffiebedryf: Emilio López Diaz en José Roberto Santamaria. Dan kom deel sy die ervarings, en die koffie, met bekendes soos Willem Botha en Ivor Swartz - en ‘n bo-Karoo-koffie saam met onder andere Coenie de Villiers en Corné Krige.

Hierdie keer gaan die kyker ook met meer kennis ketel toe stap. Dit is danksy dié seisoen se koffiewenke oor die metodes agter Espresso, Americano, Cappuccino en Latté, en nog vele meer.

Henriëtte meen die bemagtiging van die kyker is baie belangrik. “Dit is goed as ons weet die storie van koffie inspireer nie net ons kykers vir die duur van ‘n episode nie. Met hierdie seisoen se koffiewenke gaan hulle eie koffiekennis elke dag van die week handig te pas kom - in jou eie kombuis,” het sy gesê.

Koffiekookkuns is ook Henriëtte se domein en in hierdie seisoen gaan jy verwonderd staan oor dit wat sy opdis. Hoe klink appelneutmuskaat-koffiekoek of koffie gesmoorde lamskenkels met boontjies?

Dit alles word netjies toegevou in ‘n storie wat net in El Salvador en net in Net Koffie gekry word. 

Die derde seisoen word Sondagmiddae om 17:00 uitgesaai en begin op Sondag 10 April op kykNET (DSTV-kanaal 144).