Logo
Leef jou Reis
web uni tv guide

Leef Jou Reis

144LeefstylPG

'n Propvol reis-reeks – Leef Jou Reis

Nuus
07 Augustus 2020
Die staat van inperking het nie Gerrie Pretorius en sy span gekeer om nóg ‘n propvol reis-reeks saam te stel nie. Nie dat daar nie uitdagings was nie. Gerrie vertel meer ...
PHOTO 2020 05 26 20 56 24

Hoe moes julle die program aanpas om by die staat van inperking aan te pas? 
Ons het baie vlugte, beplanning en opnames in die buiteland verloor. Ons was op pad lughawe toe vir opnames in Indië toe my kontak ons afgeraai het om te kom. Ons sou seker nou nog daar gesit het. Dieselfde dag het ons krisisbestuur toegepas en solank planne gemaak om plaaslik te verfilm. Daar was toe nog hoop dat dinge nie so lank sou vat om te herstel nie en was ons steeds reg vir opnames in Alaska en selfs die Bloutrein gedurende Mei.

Toe alle wiele afval, het ons gedurende die eerste inperkingstyd op regeringsvlak en met plaaslike owerhede begin praat om te help sodat ons permitte kon kry om te beweeg en om opnames te doen. Ons wou ook toerisme daardeur stimuleer, ‘n bydrae lewer en ook mense weer bietjie terugvat na die natuur. Ons het dus plaaslik gereis en my kontake in Mosselbaai en omgewing gebruik vir opnames asook SANPARKE aangesien almal ‘n groot behoefte het om nou óf by die see óf in die bos te wees.

Van ons opnames oorsee wat net-net voor die inperking opgeneem is, moes ons ook derhalwe ‘n bietjie rek. Leef jou Reis se styl is vinnig met ‘n klomp inligting, maar ons moes nou dubbel die hoeveelheid werk insit in minder tyd sodat ons meer programme uit een opname kon kry. Ons het ook baie onderhoude bygewerk en al die "hidden secrets" van die plekke wat ons verfilm het gaan opgrawe. 



Wat was die grootste uitdaging? 
Die grootste uitdagings was lelike kameraskote waar dorpe of plekke vervalle lyk omdat dit nie onderhou is nie. In die wildtuin het die bobbejane byvoorbeeld al die gras uit die hutte getrek, uile het kom nesmaak op die rondawels se beddens. Baie besighede was ook toe en strate verlate wat’ n surrealistiese gevoel geskep het. Amper spookagtig. Ons moes dubbel begroot vir opanes want helfte van wat ons beplan het kon nie realiseer nie en moes ons skuif van plan B en C na D en E. Ook om slaapplek te kry aangesien akkommodasie vir essentiële werkers toe nie orals beskikbaar was nie. Ek is deur meer as 40 padblokkades. Maar ons het deurgedruk en nou het ons ‘n baie mooi reeks agter die blad en eintlik te veel beeldmateriaal vir die reeks. 

Wat is jou voorstel aan mense wat graag Suid-Afrika in hierdie tyd wil verken? 
Ons moet skakel met die natuur en ons familie en ou vriende. Ons het geleer dat ons met baie minder oor die weg kan kom. Dis tyd om weer in die Cederberge te gaan kamp saam met jou mense, lang ente met jou gesin langs die see te gaan stap of bloot jou eie dorp te vat en sy ou geskiedenis of parke te gaan opsoek. Daar is lieflike plase in almal van ons se omgewing waar jy nog in ‘n plaasdam kan swem of vars bergwater kan drink. Dis alles goedkoop opsies. Ons het nodig om kaalvoet te kan stap en die natuur te waardeer en gras onder ons voete te voel en vars lug in te asem. Daar is boonop tans ongelooflike aanbiedinge en kan jy kies en keur. 

Waar is die eerste plek waarheen jy sal reis as die inperking opgehef word? 
Ek het ‘n duisend plekke waarheen ek wil reis. Ek wil my bakkie vat, my daktent pak en vir 10 dae lank in die sentrale gedeelte van die  Kalahari in Botswana gaan kamp. Ek wil vuurmaak, rooiwyn drink en gaan slaap met die leeus wat brul in die verte. Ek wil ook net weer ‘n slag behoorlik op ‘n stadige tempo deur die noorde van die Wildtuin gaan. Ons het baie mooi stories opgediep in die Wildtuin en ek wil weer daarlangs gaan. Ek is ook mal oor Portugal en dit sal beslis my eerste reis oorsee wees. Ek wil elke aand in ‘n kroeg sit en fado-musiek luister en chorizo eet. 

Wat kan Suid-Afrikaners doen om die plaaslike toerismebedryf te ondersteun? 
Ek dink ons het ‘n verpligting om ons plaaslike bedryf te ondersteun. Soos genoem is daar ongelooflike pakette tans beskikbaar. Veral die lodges wat gewoonlik buite ons bereik was, is nou spotgoedkoop met tot 75% afslag. Ons moet nou koop en later reis. Ons moet ook niks kanselleer nie en bloot uitstel op ons reisplanne. Gebruik ervare reisagentskappe want behalwe dat hulle die ouens is wat die kastaiings uit die vuur moes krap, is hulle ook die ouens wat die hardste moes werk vir geen geld nie en die hardste geslaan is. Die gemoedsrus wat jy kry vir daardie bykomende R100 wat jy betaal vir ‘n reisagent, is elke sent werd en is beter as om dit alles self te probeer doen en dalk jou vingers te verbrand. ‘n Baie goeie idee is om korter wegbreke te doen in plaas van ‘n week hier of daar. Maak ook seker jy gebruik minder water by blyplekke en los ‘n ekstrand R10 fooitjie vir die kelner of skoonmakers. Elke bietjie help. Doen moeite en maak aanbevelings by jou vriende en los goeie resensies. Die belangrikste is bloot: reis, al is dit waarheen. 

Leef Jou Reis saai uit elke Saterdag om 19:00 op kykNET, DStv-kanaal 144. Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerk #LeefJouReis te gebruik.