Logo
MMF

’n Onverwagte twist maak MMF-deelnemers ekstaties

Nuus
07 September 2020
Dit was Suid-Afrikaanse week op Maak My Famous hierdie week – en die talente het omtrent gewys hoekom hulle in die kompetisie moet aanbly!
Untitled design

Die gasbeoordelaar van episode 10 was Freshlyground se Zolani Mahola. Kykers sal haar onthou as die stem agter treffers soos Doo Be Doo en I’d Like.

En Maak My Famous se talentvolle mentors het ook gewys wat in hulle steek deur ’n keurspel van Johnny Clegg op te voer. Hulle het die liedjie opgedra aan almal wat hul lewens verloor het weens Covid-19 en ook die talle noodsaaklike werkers.

Die deelnemers het liedjies gesing van bekende kunstenaars soos Bobby van Jaarsveld, Craig Lucas, Neville D, Karen Zoid en Franja du Plessis.

Zolani was meegevoer met elkeen se optrede, soveel so dat sy en Emo ’n paar keer opgestaan het om saam te juig.

Maar aan die einde van die aand het Emo kykers verras met ’n twist. Jayson Kleinscmhidt en Spinksie was die laaste twee op die verhoog toe Emo aankondig dat niemand hierdie week die kompetisie sal verlaat nie.

Die deelnemers was verheug en het nou wéér ’n geleentheid om kykers te wys hoekom hulle as die wenner aangekondig moet word.

“Al die deelnemers het sulke positiewe boodskappe oorgedra en omdat dit Suid-Afrikaanse week was, het ek gevoel dit sal net nie reg wees om iemand op so ’n trotse aand huistoe te stuur nie. Ek het nóg ’n interessante trick wat ek volgende week gaan laat gebeur en ek dink dit sal kykers baie excite,” sê Emo.

Volgende week sing die deelnemers liedjies saam met bekendes en sal twee deelnemers die kompetisie moet verlaat.

Moenie vergeet nie, jy kan steeds vir jou gunsteling-deelnemer uit die TOP-20 die kans gee om weer op die Maak My Famous-verhoog op te tree deur vir jou gunsteling te stem op die webwerf.

Maak My Famous is elke Saterdagaand op kykNET, DStv-kanaal 144, en kykNET & kie, DStv-kanaal 145, te sien.