Logo

'n Nuwe formaat vir Tussen Ons

Nuus
17 September 2020
Die gewilde Afrikaanse geselsprogram, Tussen Ons, spog binnekort met méér episodes per week, ’n nuwe tydsgleuf en ’n vars aanslag.
Untitled design

Dit sal van 5 Oktober van Maandae tot Donderdae om 17:30 op kykNET & kie uitgesaai word in plaas van Donderdae om 20:00.

Tussen Ons, wat sedert Julie 2018 uitgesaai word, se huidige aanbieders, Tracey Lange, Kay Karriem, Success Lekabe, Zelda la Grange en Ingrid Jones, sal nou twee keer per week, op Maandae en Woensdae, saam in kykers se sitkamers kuier en oor hedendaagse en nuuswaardige onderwerpe gesels.

Op Dinsdae skuif dr. Darren Green, wie reeds gereeld as ’n mediese kenner op Tussen Ons verskyn, voor die kameras in om oor mediese nuus, siektes en allerande kwale te gesels. Die Bravo!-aanbieder en fiksheidsguru, Ewan Strydom, sal ook een keer per maand by Darren aansluit om sy fiksheidswenke te deel, terwyl die koskenner, Heleen Meyer, ook maandeliks vir kykers gaan wys hoe om gesonder te eet.

Die Donderdag-episode gaan bekend staan as Tussen Ons #TBT en sal deur Tracey op haar eie aangebied word.

In dié episode raak Tracey nie net nostalgies met haar gaste nie, maar gaan sy ook onder meer leefstylwenke deel en met kykNET & kie se sepiesterre van Suidooster en Arendsvlei gesels oor dié sepies se stories wat die tonge los het. Vir die Donderdag-episode gaan daar ook musiek in die ateljee gemaak word.

Tracey, wat al van Tussen Ons se eerste episode die ankeraanbieder is, is opgewonde oor die nuwe formaat van die program.

“Ek sien baie uit daarna dat die Tussen Ons-naam nou vier dae per week op
mense se lippe gaan wees en ek kan veral nie wag om die nuwe #TBT-episode op Donderdae aan te bied nie,” sê sy .

“Op Donderdae maak ons dus die litte los en gaan ons veral pret hê met mense wat bekend is in hulle gemeenskappe, om hul talent aan die res van Suid-Afrika te wys, terwyl ons ook lekker gaan lag soos ons nostalgies raak.”