Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

'n November propvol drama!

Nuus
03 November 2020
Lees hier waarna jy kan uitsien in jou gunsteling kykNET-sepies dié November.
Untitled design

Getroud Met Rugby
Die mat word onder Blitz en Lienkie uitgeruk wanneer Lienkie met kanker gediagnoseer word. Teëspoed tref Liam en Candice. Hy verloor uiteindelik sy humeur voor ’n joernalis. Die Stryders is onrustig oor gerugte dat hul salarisse verminder gaan word, Blitz sukkel om almal tevrede te hou terwyl die span uitmekaar skeur, en dan spreek Bart hulle toe.

’n Ongewensde besoeker daag by Jordan op: die man wat verantwoordelik was vir sy vrou en baba se dood. Dié onverwagse besoek ontlok ’n obsessie by Jordan. Renate keer terug van haar vakansie saam met Willem in Griekeland en dan vind sy uit Virginia werk vir Simon en Lulu. Ilse kom kuier vir Bart, en dan nader sy vir Jana met ’n sensasionele nuusstorie oor Bart. Jana stel ondersoek in, en dan verdwyn sy soos mis voor die son.

Schalk is desperaat om vir Jana op te spoor, en hy word uiteindelik opgeskort. Sasha kom tot die pompoms se redding en dan sien Wynand haar raak. Bart word geskiet.

Getroud met Rugby is weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Suidooster

Bianca raak verlief op Lukas Verwey, een van die pappas by Stella se skool, maar sy seuntjie is 'n handvol, en almal waarsku haar teen 'n verhouding met die man. Dinge loop veral skeef as die ma uit die bloute weer opdaag en dinge tussen haar en Lukas probeer regmaak. Bianca maak die grootste fout van haar lewe wanneer sy optree teenoor Lukas se seun in 'n manier wat soos mishandeling mag lyk. Lukas se eksvrou besluit om vir Bianca die stryd aan te sê en 'n oorlog breek uit tussen die twee vroue wat Bianca se eerste liefde in 'n lang ruk in gedrang kan stel…

Farah kry dit reg om die ding so te bewimpel dat AB nie by Mymoena se verjaardagpartytjie uitkom nie. Sy probeer ook vir Mymoena voorskryf oor AB se gesondheid, maar dit is die laaste strooi en Mymoena vaar haar familie in wat skielik hulle rug op haar gedraai het. 'n Donker tyd lê vir Mymoena voor en almal is bekommerd oor of sy haar ouself ooit weer sal kan terugkry. AB neem 'n moeilike besluit wat dinge vir hom en Mymoena vir altyd gaan verander. 

Kate se kleinseun begin al meer sy ware kleure te wys en maak sy gevoelens vir Danni aan haar bekend, maar sy vat hom daaroor vas. Kate weier om sleg van haar kleinseun te dink en gaan so ver as om vir Danni te beskuldig omdat sy dalk aanleiding gegee het. Maar wanneer vrae begin opduik oor waar Francois se geld vandaan kom, val die skille dalk van haar oë af. Gaan 'n ouma se hart dit hou om te hoor dat haar kleinseun nie is wie hy voorgee om te wees nie?

AB se gewese aptekersassistent, Imraan Bassier, kom maak 'n vinnige draai, maar bly dan langer as wat hy beplan het. En natuurlik is dit 'n verrassing vir Kaashifa, wat gedink het sy is klaar met hom. Maar dinge raak bietjie meer gekompliseerd wanneer 'n ander, ou liefde opdaag en Kaashifa skielik verskeurd voel tussen Imraan en Junaid. Dit help ook nie dat Kaashifa se ouma Rabia 'n gunsteling het nie… Wie gaan wen: die aantreklike, innemende Imraan of die daadwerklike, selfopofferende Junaid?

Daar's ook 'n onverwagse afsterwe in Ruiterbosch wat almal ruk en die jonges durf 'n moeilike staproete aan, en ‘n besering veroorsaak groot moeilikheid vir Rhafiek en Kate se besigheid… 

Suidooster is weeksdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Binnelanders

November is 'n tyd vir afskaal, want Desember lê net om die draai - maar nie in Binnelanders nie! Drama en intrige vier weer hoogty hierdie maand met 'n hele paar kinkels in die kabel wat heelwat van ons geliefde karakters se lewens onherroeplik gaan verander. Die hede en die verlede bots helder oordag in die gange van Binneland Kliniek, en jy gaan nie jou oë glo oor wie daar rond wandel nie...

Tertius Jonker (Reynardt Hugo) en sy pa het nie die beste van verhoudings nie. Koos Jonker (Ryno Hattingh) is 'n streng man met hoë verwagtings van sy seun, en nog hoër standaarde. Dit vang Tertius dus heeltemal onkant wanneer sy korrelkop en puntenerige dokter-pa totaal onverwags sy opwagting in Pretoria maak - en dit net om 'n lesing by te woon by die universiteit!  Lydia, Tertius se ma, is in Brussels by 'n kongres, en nie in Bloemfontein waar dié twee saam 'n praktyk het nie. As Koos se kuiertjie maar net die enigste onverwagte verrassing is waarmee Tertius hierdie maand te doene gaan kry! 

'n Nog groter verrassing wag op die personeel en pasiënte van Binneland Kliniek wanneer 'n ou bekende haar teenwoordigheid laat geld: Elise Kruger (Lindie Stander) is terug! Maar terwyl Elise van beroep verander het, het daar nie veel aan die vrolike vrou - wat amper permanent haar voet in haar mond sit - verander nie. Of het daar tog iets aan Elise verander? Daar wag wel 'n effense skok op Elise wanneer sy agterkom dat die bekende gange van haar verlede nie meer besaai is met die verwelkomende bekende gesigte van gister nie. Elise sal haar storie moet ken as sy 'n indruk wil maak, veral wanneer dit kom by Annelize Roux (Cindy Swanepoel). 

Wie is Wendy Toerien (Henrietta Gryffenberg)? En wat wil sy by een van die pasiënte wat in ICU is hê? Maya (Kara du Toit) is nie heeltemal oortuig van die teorie wat een van haar kollegas het oor die vrou nie, maar dan ook weer: niks was nog ooit so vreemde soos die skatkis van geheime wat hierdie vrou saam met haar dra nie...

Kupido is nog nooit 'n vreemdeling in die gange van Binneland Kliniek gewees nie, maar die bringer van liefde was vreemd afwesig die laaste paar weke. Is dit dalk tyd vir 'n paar liefdespyle wat afgevuur moet word? Naomi Koster (Je-ani Swiegelaar) dink so - en sy sal enigiets doen om haar vriendin, Chanel Samuels (Lindsey Abahams), te help om daardie ontwykende warm gloed van geluk weer te laat voel.  Naomi besluit dat die beste manier om die oor en weer afvuur van pyle aan te help om die regte mense op die regte tyd te tref, is om al die betrokke partye in een vertrek te kry. 'n Quizz Night by DOEPA is dalk net die regte muti om die harde harte weer vinniger te laat klop...

Binnelanders is weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Onthou om weeksaande in te skakel vir jou gunsteling kykNET-sepie en ons saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerke #kykNETGMR, #Suidooster en #Binnelanders te gebruik.