Logo
Arendsvlei S5 Slim BB
web uni tv guide

Arendsvlei

145Telenovela13

'n Junie propvol witwarm drama in 'Arendsvlei'

Nuus
04 Junie 2021
Hierdie Junie ontmoet kykers Arendsvlei se eerste “influencer”.
Thys en Keesha

Gemoedere loop hoog wanneer Wendy in die hof moet verskyn. Daar is ’n reeks Arendsvleiers wat teen Wendy moet getuig – van Langes en Debra tot Zane en Bompie. In die verloop van die verhoor word bewyse gelewer wat Wendy se grudade aan die lig bring. Wanneer die inligting rondom David se dood openbaar gemaak word, moet arme Beatrice en Samantha mekaar meer as ooit ondersteun. En Janice het nie vergeet van Steve nie. Sy maak reg en kry al haar inligting bymekaar om seker te maak Wendy beland agter tralies. Soveel mense is teen Wendy en die bewyse is sterk, maar soos ons vir Wendy ken, voer sy altyd ’n plan of twee in die mou.

Asof Wendy se hofsaak nie genoeg moeilikheid is nie, beland daar ’n mediaberig oor Thys in die koerant. Êrens het die nuus uitgekom dat hy betrokke is by die saak oor seksuele teistering en ouers het toe twee en twee bymekaar gesit. Beatrice, Ronel en Janice moet probeer objektief optree en arme Gertie se hart breek vir haar seun. Thys kan niks anders doen as om sy onskuld te bewys nie, maar sal dit genoeg wees?

Op ’n ligter noot ontmoet kykers Arendsvlei se eerste “influencer”. Tiffany is ’n nuwe leerder by Hoërskool Arendsvlei en Mielies kan nie uitgepraat raak oor haar nie. Elsa is bietjie bekommerd en vertrou nie vir Tiffany nie – soveel so dat sy begin leuens opmaak. Maar Tiffany gee nie om wat mense van haar sê nie. Solank haar Instagram-volgelinge meer word, kan almal maar doen wat hulle wil.

Arendsvlei saai Maandae tot Donderdae om 20:00 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145) uit.