Logo

’n Groter keuse kykgenot vir kykNETters op Saterdae!

Nuus
22 Junie 2016
Jukebox sal vanaf Saterdag 2 Julie eksklusief ’n tuiste op kykNET NOU! vind, en kykNET bring in die plek van Jukebox ’n hele reeks rolprente na die kassie.
Pieter Koen Jukebox NOU

Die gewilde musiekprogram Jukebox sal vanaf Saterdag 2 Julie eksklusief ’n tuiste op kykNET NOU! vind.

kykNET (DStv-kanaal 144) bring in die plek van Jukebox ’n hele reeks rolprente na die kassie op Saterdagaande om vir kykers ’n keuse van topvermaak oor die twee kanale te gee. Op 2 Julie skop dié lekkerte af met Die Pro, wat om 19:30 op kykNET uitgesaai gaan word.

Maar hoe gemaak as jy Saterdagaand Jukebox op kykNET NOU! én die fliek op kykNET wil sien? Geen probleem nie, want Jukebox word nou ook Sondae om 14:00 op kykNET NOU! herhaal. Jy hoef dus geen van jou gunsteling-video’s of die lekker onderhoude met verskeie kunstenaars mis te loop nie – dis ’n wen-wen-situasie.

Met die afskop van die nuwe skedule kry Jukebox boonop ’n splinternuwe baadjie. Kykers kan uitsien na ’n pragtige nuwe stel waaroor die bekende en gewilde aanbieder, Pieter Koen, baie opgewonde is: “Dit is soos om die Comrades te hardloop – jy weet al wat gaan gebeur, wat om te verwag, maar met ’n nuwe stel tekkies is jy sommer weer opgewonde oor die wedloop. Net só wil ons ook vir kykers ’n vars aanslag gee wanneer hulle weer Saterdagaande lekker saam met ons kuier.”

Jukebox – op kykNET NOU! vanaf 2 Julie om 19:30 (DStv kanaal-146) – herhaling Sondae om 14:00.

Saterdagaand-rolprente – op kykNET vanaf 2 Julie om 19:30 (DStv-kanaal 144).