Logo
GMR Slim BB
web uni tv guide

Getroud Met Rugby

144Drama13 V

’n ‘Coffee-date’ vir ewig! – Getroud met Rugby

Nuus
09 Maart 2020
Gelukwensinge is in orde vir Kate Roothman (oftewel Anna in Getroud met Rugby) en haar jare-lange kêrel, Willie wat onlangs verloof geraak het!
1

Kate vertel ons so bietjie meer van hoe hy die groot vraag gevra het! 

Ons het verloof geraak Vrydag, die 6de Maart, by Karmel Lodge net buite Fouriesburg.

Nadat ons by die Lodge gearriveer het, het Willie gesê hy gaan gou koffie maak.  En toe ek weer sien kom hy uit met bokse gerangskik van groot na klein met ‘n groot strik om gebind. “Maak die 1ste boksie oop” sê hy.

Ek maak toe die 1ste boksie oop en binne in is daar ‘n kaartjie wat vra: “Coffee date?” met twee cappuccino-sakkies in. Waarop ek natuurlik ‘ja’ geantwoord het. In die 2de boksie was daar die mooiste brief waarin hy praat van ons ‘journey’ tot dusver, en waarheen ons gaan en waar hy ons sien oor ‘n paar jaar ens. 

En voor ek sê wat in die 3de boks wag, moet ek eers verduidelik van die Mielie!

Toe ek 15 was in 2008, het Willie my uitgevra agter op ‘n bakkie, net na Strooptyd. Maar voordat hy my gevra het om te “kys”, het die senuwees hom beet gekry, en hy haak toe af en sê: “Sjoe, dis ‘n groot mielie dié”.  Lekker gelag, ys gebreek, en hy vra my toe om sy meisie te wees! 

Ek maak die 3de boks oop en daar lê die Mielie, met ‘n kaartjie bo-op wat sê “Sjoe, dis ‘n groot mielie dié”, ek draai onmiddellik om, om saam met hom te lag oor die lekker ‘memory’, en daar staan die man op sy knieë.

Dit het ek GLAD NIE verwag nie. Snaaks genoeg, want ek sê nog altyd vir almal dat ek definitief sal weet wanneer hy gaan vra. Na al die trane en soene, maak ek die 4de boks oop – en daarin is Sjampanje, twee sjampanje glase en ons gunsteling sjokolade om mee fees te vier!

Maar na elf jaar kan ek verseker sê dit voel ‘anders’. Die lekkerste en beste ‘anders’, en daarvoor kan ons net ons Liewe Vader bedank. Dit voel soos ‘n droom. Ek het nie woorde vir die gevoel nie. Ons kan nie ophou glimlag nie. O ja, en ons het na die tyd uitgevind dat Karmel Lodge se CCTV kamera die oomblik vasgevang het!

Baie, baie geluk julle twee!