Logo
Byl
web uni tv guide

Die Byl

144Drama16VL

'n April vol vermaak op jou gunsteling-kanaal!

Nuus
01 April 2021
Lees hier waarna jy kan uitsien, hierdie April, op kykNET, DStv-kanaal 144!
7

Die Byl 3

Kol. Piet van der Bijl, alombekend as “Die Byl”, en sy span is terug in April vir nog ’n naelbytseisoen van hierdie gewilde reeks.

In die vorige seisoen het Smiley, en veral Adriaan Klopper, ’n skrikbewind van wraak en haat gevoer wat ’n nare letsel op Byl en sy span gelaat het. Hulle moes nie net die verlies van hulle kollegas verwerk nie, maar ook die individuele trauma wat elkeen ervaar het.

Kapt. Lena Maree (Lika Berning) worstel met haar verantwoordelikhede as ma en vrou wat verdwerg word deur dit wat van haar by die werk verwag word. Sers. Juan Stuurman (Marvin-Lee Beukes) se herstel van fisiese en sielkundige letsels toets sy jong verhouding met dr. Shani van Rooi (Trudy van Rooy).

Dr. Fritz Barnard (Eric Nobbs) en Nicky van As (Milan Murray) is soos altyd die kompas en anker van die span, maar selfs hulle sukkel om die stukke bymekaar te hou. Byl (Waldemar Schultz) voel verantwoordelik, want sonder hom sou die span nooit die teiken van soveel haat geword het nie.

In die derde seisoen van Die Byl is ál hierdie emosies en gebeure met nuwe rillermoordsake verstrengel.

Die reeks is weer deur Leon Kruger geskryf en is in en om Kaapstad verfilm.

Die Byl begin Dinsdag 27 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Op my Eish!

Neels van Jaarsveld, bekend vir sy rolle in Fynskrif, Dwaalster, Waterfront, Binnelanders en vele ander TV-reekse, flieks en verhoogstukke, is op soek na ware liefde en in hierdie nuwe werklikheidsreeks gaan hy dit hopelik kry.

Neels het die hulp van sy vriend Henré Pretorius ingeroep om die leading lady van die volgende hoofstuk in sy lewensfilm te kies. Henré dra meer as een hoed in die reeks – hy is aanbieder, maar ook ’n vriend vir Neels én ’n ondersteuningsnetwerk vir die vroue wat ingeskryf het.

“Hoewel dit altyd Neels se besluit was wie huis toe gestuur word, het Henré ook later in die reeks die vroue beter leer ken om te sien of hulle, in sy opinie, by Neels sal pas,” verduidelik Gideon Eksteen, uitvoerende vervaardiger van die reeks.

Op my Eish! skop af op Donderdag 22 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

G.I.L

Barry (Bennie Fourie) en sy unieke span is vanaf April op die kassie te sien in kykNET se nuwe mokumentêre reeks, G.I.L. (Grobbies Internasionale Lughawe).

Ontmoet vir Barry Wiese – ’n ywerige raakvatter wat dík opgewonde was toe hy ’n pos kry om ’n internasionale lughawe te bestuur. Sy entoesiasme het egter ’n duik gevat toe hy besef dis minder internasionaal as munisipaal en iewers aan die gatkant van Suid-Afrika. Hy is opgeskeep met personeel wie se horisonne nie veel verder as hul skaduwees strek nie, maar hy sál dit, heel moontlik ten alle koste, laat werk.

G.I.L. begin op  Maandag 5 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). 

La’t wiel

Die gewilde motorprogram La’t wiel se nuwe seisoen begin in April en daar is ’n opwindende nuwe impakspeler in die aanbiederspan – Weza Matomane.

Gee vir ons ’n bietjie agtergrond: Waar kom jy vandaan en hoe het jy in die TV-wêreld beland?
Ek is van Vanderbijlpark en was op Hoërskool Transvalia. Ek het, onder meer, Cravenweekrugby gespeel saam met Siya Kolisi, Eben Etzebeth en Faf de Klerk. Ná skool is ek na die Universiteit van Pretoria om chemiese ingenieurswese te studeer, maar ek het toe besluit dat ek eerder in die TV-rigting wil gaan. Ek het stemwerk begin doen en die res is geskiedenis.

Het jy nog altyd in motors belanggestel?
Ja, as kind het ek altyd karretjies gehad en daarmee gespeel. Soms het ek karretjies geruil en was daar ’n boksgeveg om daardie klein Mercedes-Benz te kry. Toe ek groter geword het, was dit ’n ding om oor te spog wanneer jy kon sê: ‘Ma, daai is ’n BMW of daai is ’n Polo’. So ja, dit was nog altyd ’n deel van my lewe vandat ek ’n laaitie was.”

Wat is jou droomkar?
My droomkar is ’n Bentley Continental GT met twee deure en leersitplekke. Dit voel asof dit ’n meesterstuk is. So, as iemand vir my ’n kar wil koop – dis die een!

Stel jy ook in motorsport belang?
Ja, veral internasionale motorsport en ouens soos Valentino Rossi. Die top-renjaers presteer konstant en dit wys hoe hard hulle werk en hoe gefokus hulle is. Ek dink daar is baie lesse wat mens uit motorsport kan leer en oordra na leierskap.

Het jy enige verskuilde talente?
Ek kan dans. Ek praat ’n klomp tale – Afrikaans, Engels, Zoeloe, Xhosa en Sotho. En ek kan beatbox en moonwalk.

Wat beteken hierdie nuwe hoofstuk in jou lewe?
Dis ’n groot eer om deel van dié program te wees saam met die twee ou toppies, Waldo en Hannes, wat soveel oor karre weet. Dis, soos Hannes sal sê, ’n reuse-oomblik in die motorbedryf se geskiedenis.

Skakel Sondag 7 Maart 20:00 in vir die 11de kykNET Fiëstas op kykNET (DStv-kanaal 144).

Karakter

Suid-Afrika is ’n wonderlike, diverse plek. Ons lê dalk aan die suidpunt van Afrika, maar ons het al enorme sukses op verskeie vlakke behaal. Dit is veral die mense wat van Suid-Afrika ’n eiesoortige plek maak.

In die nuwe dokumentêre reeks Karakter gaan ons die aanbieder Rian van Heerden deur die land volg op soek na unieke mense – daardie eksentrieke figure wat gemeenskappe aan die praat en wonder het. Die randeiers wat hulle nie steur aan wat ander dink nie, maar voortgaan en hulle lewens leef soos hulle wil.

Só is daar Rusty Pool, ’n voormalige tronkbewaarder, wat deesdae toeriste op ritte deur Cullinan neem in ’n doodskis wat aan sy driewielmotorfiets gehaak is. Of Rita Woodall-Terblanche, ’n voormalige nudis, lid van die AWB en Lotto-wenner wat met haarself getrou het. Vanessa Faarking Jarvis het poedelnakend op ’n wit perd deur die strate van Clarens gery nadat sy kankervry verklaar is en John Wayne het al meer as 200 ure op sy liggaamskuns, onder meer ’n tatoeëermerk oor sy hele gesig, spandeer.

Rian sê sy gawe om interessante mense en randfigure in ons samelewing op te spoor, was nog altyd daar. “Ek is altyd op die uitkyk,” sê hy. “En ek leer altyd iets by hulle.”

Karakter, ’n reeks van 13 episodes, elk met ’n interessante karakter as fokus, begin Maandag 5 April om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Die Groenste Vingers

Daar is min dinge so mooi soos ’n pragtige ruiker in ’n huis, ’n kleurvolle blommerangskikking op ’n tafel of ’n onthaalsaal wat ’n nuwe gesig kry met blomversiersels. Tog bly die mense wat hierdie sierade so moeiteloos aanmekaar slaan, soms vergete.

Die groenste vingers is ’n program waar tuiniers, bloemiste en blom-entoesiaste meeding om as wenner gekroon te word. Deelnemers sal week ná week verskillende uitdagings aanpak waarin elkeen ’n unieke rangskikking moet ontwerp waarna beoordelaars sal besluit wie “blom nog” en wie het verlep”.

Edrien Erasmus is die aanbieder.

“Ek is só opgewonde om saam met Die groenste vingers-deelnemers meer plante en blomme te leer ken en om hul pragstukke te sien. Dit gaan ’n fees vir kykers se oë wees,” sê sy.

Die beoordelaars is twee wêreldklasblomkenners: die bloemis Franz Grabe en die landskapargitek Leon Kluge.

Die groenste vingers begin Donderdag 22 April om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Hokaai, my meisie!

In Hokaai, my meisie! volg kykers die pragtige, avontuurlustige aanbieder van die program, Shari Kennedy, op haar soektog na wonderlike eg Suid-Afrikaanse stories.

Shari is ’n plaasmeisie van Upington, ma van drie, en ’n waaghalsige rabbedoe sonder ’n bang haar op haar kop. In elke episode sal Shari na ’n ander deel van die land reis en tyd deurbring met ’n interessante karakter wat ’n eie spesifieke kultuur uitleef. Sy sal ook saam met elkeen ’n paar lekker aktiwiteite doen.

Danielle McDonald, vervaardiger van die reeks, sê dit was ’n absolute belewenis om hierdie program te verfilm. “Ons het die land deurkruis en uiteenlopende karakters gevind en hul elkeen die geleentheid gegee om hulle spesiale deel van die wêreld vir ons in te kleur.”

Shari sê sy het nie werklik besef watter juwele op haar voorstoep wag tot hierdie program gemaak is nie. “Die geheim is om van die hoofweg af te klim en die klein dorpies en agterpaaie te verken. Ek het myself tot my limiete gedruk en die lekkerste mense ontmoet. Ek kan nie wag om hierdie avontuur met kykers te deel nie,” sê sy opgewonde.

Hokaai, my meisie! begin Saterdag 3 April om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Dankie, Lottoland

Die afgelope jaar het die mat onder mense se voete uitgeruk. Ons moes gewoond raak aan ’n nuwe manier van lewe en vir baie was dit ’n tyd van swaarkry en sente omdraai.

Dankie, Lottoland is ’n nuwe program wat ’n hand uitreik na dié wat dit die nodigste het. Dié reeks van 13 episodes fokus op verskeie liefdadigheidsorganisasies en kyk hoe daar gehelp word met alles van warm water aanlê tot kos en beddegoed verskaf.

In elk van die programme vertel twee bekendes watter liefdadigheidsorganisasie hulle na aan die hart lê. Hulle besoek dan dié organisasie, vind uit wat broodnodig is en sit hand by.

Dankie, Lottoland begin op Saterdag 3 April om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

kykNET Storiefilms

Apokalips

Dis 2021. Die toekoms is hier en die apokalipse het aangebreek.

Die einde van die wêreld is hier. Mana sit en wag vir haar seun, ’n reddingswerker, om haar te kom haal. Drie ander hulpeloses wat skuiling soek, daag egter eerste op.

Alpokalips is Sondag 4 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Bus 7070

Rita besluit om ’n kopskuif te maak met die hoop op ’n nuwe toekoms saam met daardie misterieuse oë wat haar elke dag, deur Bus 7070 se gaatjie, dieper intrek. 

Bus 7070 is Sondag 11 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Poena

Covid-19 het vir Poena werkloos gemaak en hy moet by sy Oupa Poen aanklop vir hulp. Poena trek by sy Oupa in met baie beloftes van wat hy alles gaan doen om weer op sy voete te kom. Daarvan kom egter dadels en Poena misbruik sy Oupa se gasvryheid tot iets baie ergs gebeur wat hom dwing om baie vinnig groot te word.

Poena is Sondag 18 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Laastes

’n Matriekmeisie word die oggend ná haar matriekafskeid wakker en besef sy het die vorige aand met haar vriendin se ouer broer geslaap. Sy was ook die laaste persoon wat hom lewend gesien het.  

Laastes is Sondag 25 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Lykskou

Twee bedorwe brokkies van ’n begrafnisondernemer moet noodgedwonge hul pa se besigheid ná sy dood oorneem. Hulle word gedompel in die raaiselagtige ongeluk waar die grense van lewe en dood oorskry word. ’n Donker komedie oor opportuniste, swendelaars, kunstenaars en die verlede tyd.

Lykskou is Vrydag 30 April om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).