Logo
Tarzan van George_Seisoen_1_kykNET_Small_Billboard_ 1600x533_DeWET in image

Moet nooit ophou droom nie – Tarzan van George

Nuus
10 Maart 2023
DeWet du Toit, ook bekend as Tarzan van George, is ’n sprekende voorbeeld van iemand wat nie sommer nee vir ’n antwoord vat nie.
Tarzan van George

Met die eerste episode van Tarzan van George het kykers nog hulle wenbroue gelig oor DeWet du Toit se lewenslange droom om die volgende Tarzan te word. Maar ná ’n paar episodes is daar heelwat van hulle wat al meer agting het vir sy deursettingsvermoë en vasbeslotenheid om sy droom waar te maak.

Die skrywer van die Tarzan-boeke, Edgar Rice Burroughs, is in 1875 gebore en het verskeie werke – onder meer as ’n verkoopsman van potloodskerpmakers – gehad voor hy in 1911 begin skryf het. Sy eerste Tarzan-boek, Tarzan of the Apes, is aanvanklik in 1912 as ’n vervolgverhaal in ’n tydskrif gebruik en toe in Junie 1914 as boek uitgereik. Die skrywer van Tarzan was dus ook ’n man wat eers op ’n latere ouderdom sukses bereik het, maar in sy leeftyd is meer as 30 miljoen van sy boeke verkoop.

Wat kan ons leer uit mense soos Edgar Rice Burroughs en DeWet du Toit?

1. Maak jou droom jou lewe

As jy presies weet wat jy in die lewe wil hê, gaan dit nie net in jou skoot val nie. Wees spesifiek oor jou drome en moenie fokus verloor nie. Lewensafrigters stel gereeld voor dat mense dagboek hou of ’n joernaal met prente en woorde begin om jou droom na te jaag. As jy nie weet wat jy wil bereik nie, gaan jy dit nie kan bereik nie. As jy egter ’n plan het en dit is haalbaar en realisties, is jou kanse op sukses soveel groter.

2. Kennis is mag

Om enige droom na te maak, het jy kennis nodig. Wat het jy nodig om jou droom waar te maak? Weet jy genoeg van die onderwerp? Indien nie, kry al die kennis wat jy moontlik kan. Ons lewe in ’n tyd waar inligting meer as ooit volop is. Gebruik dit om jou droom verder uit te bou en jou al die ammunisie te gee om dit waar te maak.

3. Bly positief

Die uitvinder van die gloeilamp, Thomas Edison, het keer op keer op keer gefaal in sy poging om ’n werkende gloeilamp te skep. Hy het egter gesê: “Ek het nie gefaal nie. Ek het net 10 000 maniere gevind hoe dit nié werk nie”. Moet dus nie opgee wanneer jy nie dadelik sukses behaal nie. Soos die gesegde gaan: Probeer is die regte geweer. Omring jou ook met positiewe mense wat jou ondersteun eerder as afkraak.

4. Aanvaar kritiek

Selfs die grootste dromers moet so nou en dan luister na raad. As jy byvoorbeeld ’n boek wil skryf, iets wil uitvind of ’n besigheid wil begin, is daar altyd mense wat jou met raad sal kan help. Moet dit nie sien as negatiewe kritiek nie, maar eerder as punte waaraan jy kan werk om jou droom waar te maak.

5. Leer uit jou foute

Alles het ’n doel, so ook die foute wat jy in jou lewe – en drome – kan maak. Sien dit eerder as lesse as foute en leer daaruit. J.K. Rowling se eerste Harry Potter-boek is deur twaalf verskillende uitgewers afgekeur voor dit aanvaar is. “Om te faal het my dinge oor myself geleer wat ek op geen ander manier sou kon leer nie,” het sy eens in ’n toespraak gesê. Menige mense sou al moed opgegee het ná die eerste paar afkeurings, maar sy het vasgebyt omdat sy geglo het in haar bebrilde karakter. Die Harry Potter-boeke is intussen in 85 tale vertaal en die verkope is reeds verby 600 miljoen eksemplare.

6. Neem elke dan en wan voorraad

Jy weet wat jy wil bereik en werk hard om dit te kry. Dit is egter so nou en dan nodig om weer voorraad te neem en te kyk waar jy staan. Dalk moet jou plan aangepas word of dalk moet jy meer hulp kry. Onthou dat jy ook moet rus en ander belangstellings moet hê vir ’n gebalanseerde lewe. En wie weet? Jy maak dalk net ’n deurslag terwyl jy gaan draf, saam met vriende kuier om net rus en jou gedagtes laat gaan.

7. Vier die klein suksesse

Daar is ’n gesegde wat gaan: “Sukses is ’n reeks klein wenne”. Drome wat nagejaag word, gebeur gewoonlik in trappe. Eers is die idee daar, dan word daar planne beraam, dan begin daar dalk hier en daar iets in plek val. Vier daardie klein suksesse en dink aan Mickey Mouse se skepper Walt Disney wat gesê het: “Onthou altyd: Hierdie is alles begin deur ’n muis”.

Skakel elke Sondag om 20:00 in en gesels saam deur die hutsmerk #TarzanVanGeorge te gebruik.