Logo

Modder en Bloed: Die trots van ’n nasie

Nuus
28 Oktober 2015
Dark Matter Studios en Collective Dream Films het pas die verfilming van die fliek Modder en Bloed voltooi, wat op 1 April 2016 in teaters uitgereik word.
BAG Pre-Teaser image
Dark Matter Studios (Leading Lady) en Collective Dream Films (Platteland) het pas die verfilming van die fliek Modder en Bloed voltooi, wat van 1 April 2016 in teaters landswyd gaan draai.

Modder en Bloed vertel die verhaal van Willem Morkel (Stian Bam), ’n Boerekryger en familieman, wie se vrou en enigste kind gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) deur Britse soldate vermoor word. Willem word, saam met ander Boere-krygsgevangenes, op St. Helena-eiland in die Atlantiese Oseaan aangehou. Die Engelse konsentrasiekamp staan onder die tirannieke beheer van Kolonel Swannell (Grant Swanby), ’n vuurvreter-imperialis met ’n onblusbare haat teenoor die Afrikaner.

Boere-krygsgevangens word aan brutale geweld en onderdrukking onderwerp. Hulle word voortdurend deur die Britse bevelvoerder en sy soldate verneder in pogings om hulle emosioneel te knak en fisies af te breek. Maar, ten spyte van die ongekende marteling wat hulle moet verduur en die onmenslike ontberings wat hulle moet trotseer, word hul weerstand en soeke na vergelding, op watter manier ook al, net elke dag sterker. Met die bystand van sy mede-gevangenes aanvaar Willem ’n uitdaging wat uiteindelik sou lei tot soete wraak in die belangrikste rugbywedstryd van hul lewens.

34 bag pre teaser image


Die fliek spog met ’n indrukwekkende rolverdeling wat beide Suid-Afrikaanse en Britse rolprentpersoonlikhede insluit. Van die bekende plaaslike sterre wat te sien sal wees is Bok van Blerk, Albert Maritz, Michael Richard, Edwin van der Walt, Jacques Bessenger, Altus Theart, Albert Pretorius en Deon Lotz. Die Britste rolverdeling sluit Charlotte Salt (Beowulf/The Tudors), Patrick Connolly (Inferno/Crushed), Nick Cornwall (Blood Loyal/Retribution) en Josh Myers (The Sweeney/Anti-Social) in.

Sien die volledige rolverdeling hier.

’n Nota van die regisseur, Sean Else:

“Handré Griessel het my gewaarsku: ‘Sean. Worcester-winters is rof; die wind waai woes, dis yskoud, en dit reën aanhoudend.’ Maar ek wou nie luister nie; inteendeel, ek het gevoel sulke weer sou perfek wees vir ’n epiese periode-film wat afspeel op die krygsgevangene-eiland van St. Helena gedurende die Anglo-Boereoorlog in 1901. En dit wás ook so: die wind, die sand, die reën, die mis en die koue gedurende die lang, stormagtige aande het ’n getrouheid en werklikheid aan die film verleen wat geld nie sou kon koop nie... dit wás rof, baie rof! Maar dit was ’n ondervinding wat ’n ongelooflike span mense van regoor die wêreld, voor en agter die kamera, met elke uitdaging net nader aan mekaar en aan die projek gebring het. Daarbenewens het Handré, sy vrou Esther, hul ouers en kinders, en inderdaad elke persoon in die Worcester-gemeenskap agteroor gebuig om die onmoontlike moontlik te maak. Ek weet nie waar begin ’n mens om dankie te sê vir alles en almal wat deurgedruk het tot met die laaste kameraskoot nie. Ek kan net sê dat ek ontsettend trots is op die hele span en die film wat ons almal saam geskep en ’n werklikheid laat word het. Ek kan nie wag om hierdie storie met die hele wêreld te deel nie”.

Verfilming het plaasgevind in die Worcester-omgewing en dele van Kaapstad.

Modder en Bloed word uitgereik in samewerking met kykNET Films en die DTI. Die fliek word op 1 April 2016 plaaslik vrygestel en word deur Ster Kinekor Entertainment versprei.

Kry Modder en Bloed op Facebook, Twitter (@bloodgorymovie) en Instagram (@bloodgorymovie). Gebruik die hutsmerke #ModderEnBloedMovie en #OpgeeNooit.