Logo
GMR Slim BB
web uni tv guide

Getroud Met Rugby

144Drama13 V

Mnr. Wêreld SA: Sean van Noordwyk

Nuus
25 Mei 2021
Sean van Noordwyk gesels oor sy nuwe titel: Mnr. Wêreld SA...
Sean

Wat het deur jou kop gegaan toe jou naam as die nuwe Mnr. Wêreld Suid-Afrika uitgeroep word? Het jy dit verwag?
Saterdagaand is eintlik nog steeds vir my ’n legkaart wat ek aan mekaar probeer sit om alles te onthou. Maar, as ek na die foto’s kyk, was ek beslis verras en baie emosioneel. Ek dink die grootste gedagte wat ek in daai oomblik ervaar het, was dankbaarheid.

Hoekom het jy besluit om vir die kompetisie in te skryf?
Ek het nog altyd ’n platform gesoek om meer te kan uitreik en om meer betrokke te raak by die gemeenskap en om terug te gee. Met my platform waaraan ek die afgelope vyf jaar gewerk het, het ek geglo Mnr. Wêreld SA sal my help om selfs ’n nog groter verskil te kan maak.

Vertel ons meer van die proses (voorbereiding, die deelname-week, hoe die kompetisie werk, ens.)?
Toe dit kom by die voorbereiding vir die deelname-week, was daar nie veel van ons gevra nie, behalwe wat ons in ons tasse moes pak. Baie van die finaliste het wel hulle dieet- en fiksheidsplanne ’n bietjie verander vir die laaste week, want ons almal wou op ons beste lyk. Ek het my voorbereiding so eenvoudig en minimaal as moontlik probeer hou, en ek bedoel dit nie disrespekvol nie, dis bloot omdat ek myself wou verteenwoordig vir wie en wat ek tans in my lewe is. As ek wil wys wie Sean werklik is, dan wil ek 100% eerlik wees vir wie Sean elke liewe dag is.

Die top 15 van Mnr. Wêreld SA en die top 11 van Mnr. Gay Wêreld SA het Dinsdagaand by die akkomodasie arriveer. Daar het ons elkeen die geleentheid gekry om onsself voor te stel en ’n bietjie te sosialiseer. Die Woensdagoggend het ons Hospice WITS besoek en die geleentheid gehad om met die dokters en verpleegsters te praat oor die werk wat hulle doen en hoe hulle die gemeenskap betrokke wil kry. Daardie aand het ons ’n ongelooflike werkswinkel van Alan Ford bygewoon waar hy ons ’n bietjie voorberei het vir wat belangrik is as dit kom by jou beeld, jou sosiale media, jou voorbereiding vir geleenthede asook hoe om vrae te beantwoord en om ’n opinie te vorm. Donderdag het ons die oggend repiteer vir Saterdagaand se finaal en die middag het die top 15 ’n fiksheidstoets gedoen, waar ons onsself kon uitdaag en mekaar kon ondersteun. Vrydag het ons afgeskop met verskeie fotosessies en die aand was die finaal van Mnr. Gay Wêreld SA wat ons gaan ondersteun het. Saterdag het ons, ons laaste uitrustings gereed gekry en ’n laaste repitisie vir die aand gehad en toe stelselmatig begin gereed maak vir 19h daardie aand.

Het jy met van die ander deelnemers vriende gemaak?
Ek het 14 ouens van regoor Suid-Afrika ontmoet. Ek is maar baiekeer versigtig wanneer ek nuwe mense ontmoet en bou maar ’n tipe van ’n muur om myself eers te beskerm. Hierdie geleentheid was egter vir my so ’n ongelooflike ervaring saam met die ouens dat ek maklik daai muur kon afbreek. Ons almal het mekaar deur dik en dun ondersteun - maak nie saak wat die uitdagings was wat ons moes aanpak nie. Ek het al baiekeer gehoor van die term ‘broederskap’, maar dit nog nooit werklik self ervaar nie. Hierdie week saam met hierdie ouens het dit vir my verander. Ons groep het ’n uitdagende emosionele en fisieke week gehad waar ons ’n pad saam gestap het, en ons het vir mekaar belowe om selfs ná die kompetisie kontak te behou en mekaar te ondersteun.

Wat was die lekkerste, en wat was die uitdagendste ding wat jy tydens die kompetisie-week moes doen?
Die lekkerste was beslis om eenvoudig net in die oomblik te lewe. Ek wou nie oor ’n paar dae terugkyk en spyt wees dat ek dit nie geniet het nie. Ek wou regtig net die proses geniet en groei as mens. Ek het geen druk op myself geplaas soos wat ’n mens gewoonlik doen tydens ’n kompetisie nie.

Die uitdagendste ding wat ek aan kan dink, was seker om my ‘inner-voice’ nou en dan op sy plek te sit. Ons almal het daai stem wat partykeer vir jou negatiewe dinge kan sê, maar jy moet beheer neem en jouself konstant herinner aan die positiewe dinge en dat jy wel sterk genoeg is en braaf genoeg is om hierdie te kan doen.

Wat behels jou verantwoordelikhede as Mnr. Wêreld SA?
Hierdie jaar gaan gevul wees met verskeie verantwoordelikhede waarvan ek nog baie moet leer. Alles het so vinnig gebeur, ek wou Sondag net ’n bietjie asemskep ná die week en sal vandag (Maandag) alles sterk aanpak. Wat wel vir my belangrik is, is dat ek nie wil verander as mens as gevolg van die titel nie - ek het reeds ’n fondasie en nou kan ek net daarop bou.

Gaan jy die kompetisie internasionaal verteenwoordig?
Ja, ek gaan later vanjaar Suid-Afrika by Mnr. Wêreld verteenwoordig. Besonderhede sal nog volg. Dit is nog moeilik met die onsekerheid van die pandemie.

Jy lees baie goeie en interessante boeke. Het hierdie selfontdekkingsreis bygedra tot jou besluit om deel te neem?
Ek het sedert die inperking in 2020 ’n boekwurm geword! Hulle sê ’n persoon wat lees, kry die geleentheid om duisende lewens te leef terwyl ’n persoon wat nie lees nie, net een lewe leef. Ek het sedertdien soveel wysheid by rolmodelle, leiers en kunstenaars opgetel dat dit voel asof ek met elkeen persoonlik ’n onderhoud gevoer het. Dis as gevolg van mense se ervarings en hulle kennis dat ons kan leer hoe ons self sekere struikelblokke in die lewe kan aanpak deur om uit hulle foute te leer. Om te lees, maak jou emosioneel en intellektueel soveel sterker.

Watter raad het jy vir ander jongmanne wat dalk eendag aan die kompetisie wil deelneem?
Elkeen van ons het ’n stem, elkeen van ons kan ’n verskil maak, en elkeen van ons kan mense bymekaarbring. Dit maak nie saak hoe klein die klippie is wat jy in ’n groot dam gooi nie, daai klippie maak baie golfies oor die hele dam. “Be the change you wish to see in the world.” Mahatma Ghandi.

Laastens, waarvan dink jy het die beoordelaars die meeste van jou gehou?
Ons het nie juis die geleentheid gehad om met die beoordelaars te gesels nie, maar ek hoop hulle dit die meeste geniet dat ek baie passievol is, dat ek werklik omgee, en bloot net die feit dat ek myself tydens hierdie ongelooflike reis wat ons die lewe noem, geniet.