Logo

Milan Murray se vele ysters in die vuur

Nuus
20 September 2016
Sy is Nicky in Die Byl en was onlangs te sien in ’n kortfilm by die Silwerskermfees, maar Milan Murray het nog ’n hele paar ander dinge om haar kreatiewe vuur te stook.
Milan Murray Digityd
Sy is Nicky in Die Byl en was onlangs te sien in ’n kortfilm by die Silwerskermfees, maar Milan Murray het nog ’n hele paar ander dinge om haar kreatiewe vuur te stook.

Deur Ilza Roggeband

Dis ’n grou dag op Melkbosstrand. Die see is grys, die lug is grys en dis bitterlik koud.

In die sitkamer brand daar ’n kaggelvuur. Milan Murray sit met haar bene onder haar ingevou, beker koffie in die hand. Dit was ’n besige jaar of wat vir haar. Rolprente en teater, TV-werk en ’n kinderboek uit haar pen. Sy wag nie vir werk nie – sy skep dit self. Vir haarself én vir ander.

“Om nié in Johannesburg te woon nie, het dalk ’n paar opofferings van my geverg wat werk betref, maar om in ’n dorpie by die see te bly en vir my kinders, Steph (9) en Lua (7), die vryheid te gee wat hulle hier het, maak op vir alles,” sê sy oor haar en haar man, Schalk van der Merwe, se skuif na Melkbosstrand.

Die Byl: Leon Kruger

Milan is tans te sien in Die Byl, die misdaadreeks van 13 episodes wat losweg gegrond is op ware gebeure. Sy speel die rol van Nicky van As, ’n staatsaanklaer en voormalige vrou van genl. Neels van As (Tertius Meintjes).

“Vir voorbereiding het ek gaan aanklop by Helga van Wyk, wat jare lank ’n staatsaanklaer was, maar ook bekend is as aktrise van weleer – sy was in die Afrikaanse rolprent Hoor my Lied te sien. Ek wou graag met ’n vrouestaatsaanklaer praat om uit te vind wat die invloed van hierdie ongenaakbare werk op ’n vrou se psige het.”

Helga het Milan hof toe geneem om eerstehands te ervaar wat die werk verg. “Dit beïnvloed jou denke – dít wat rondom jou in die wêreld aangaan, maar selfs ook hoe jy na verhoudings en die liefde kyk,” sê Milan. “Jy kan nie sewe tot agt ure in die hof wees en nié toelaat dat dit jou persoonlike lewe beïnvloed nie.

“Ek en die regisseur van Die Byl, Regardt van den Bergh, het lank gepraat oor die karakter want sy is aanvanklik geskryf as romantiese afleiding vir die een karakter – ek wil nie te veel weggee nie! – maar ek het gevoel sy moet ’n sterker karakter wees. Nie sterk op ’n harde manier nie, maar ’n sterk vrou wat steeds vroulik en sag is.”

[caption id="attachment_253612" align="alignleft" width="799"]
34 die byl milan murray
NICKY MALAN (MILAN MURRAY)[/caption]

Dink sy vroue is beter daarmee om vrouekarakters te skep?

“Nie noodwendig nie,” sê Milan. “Ek het al tekste gelees waar vroue uitstekende vrouekarakters skep, maar mans kry dit net soveel reg. Ek dink wel dit is tyd dat Suid-Afrikaanse produksies vir vrouekarakters meer dimensies gee. Teater kry dit reg, maar TV en rolprente kan harder werk daaraan.

“Jy kry nie net ’n heldin en ’n heks nie; daar is soveel fasette tussenin – én daar is ’n heldin en ’n heks in elkeen van ons. Nicky het beslis al twee in haar.

“As dit jou werk is om kriminele agter tralies te sit maar jy moet ook in jou persoonlike lewe gesonde verhoudings handhaaf, het jy al twee nodig.”

Die reeks is vir almal wat van misdaadfiksie hou, sê Milan, wat al dertien episodes reeds gesien het.

“Ek sal mense aanraai om beslis elke episode te kyk. Dit neem ’n tydjie om die karakters te leer ken, en kykers sal later die formaat en die ritme van die reeks kry. Elke episode is ’n whodunnit, met ander woorde daar is ’n moord en jy wonder wie die skuldige is. Die Byl is soos meeste speurreekse: Jy dink jy weet wie dit gedoen het, maar dan is daar ’n kinkel in die kabel.”

Byl se baas is bedrywig

Hierdie artikel is ’n uittreksel uit kykNET se digitale tydskrif, Digityd. Lees die volledige artikel hier.

Kyk Die Byl, Dinsdae om 20:00.