Logo
Die Spreeus
web uni tv guide

Die Spreeus

144Riller16VL

‘Meneer’ – Die Spreeus

Nuus
14 Mei 2019
Hier is alles wat jy van episode 6 moet weet.
Die Spreeus_Episode 6

Foto: ’n Oomblik vanuit die sesde episode

deur Tertius Kapp

Dit was altyd duidelik dat Suid-Afrika se mees gewilde monster ’n draai sou maak in Die Spreeus. Die tokoloshe (ook “tikoloshe”, soms “gilikango”) is elke nou en dan op die voorblad van die Daily Sun, gewoonlik omdat hy snags iemand, gewoonlik ’n vrou, terroriseer.

Die tokoloshe besluit nie self wie hy teiken nie. Hy word gestuur deur ’n sangoma, as ’n soort vloek wat op iemand geplaas word. Om meer hieroor uit te vind, het ek met drie verskillende sangomas kontak gemaak.

LEES: PORTRETSTRAAT TWEE (DEEL EEN)

Ek het nie geweet wat om te verwag toe ek voor ’n alledaagse klein winkeltjie in die Strand stilhou nie. Binne is twee mans wat maskers en kunswerke uit sentraal-Afrika verkoop. Ná ’n kort gesprek moet ek my têkkies uittrek, sodat hulle my na ’n agterkamer kan vat.

Hulle maak die deur oop. Dis donker. Die walms van brandende kruie spoel oor ons. In die flikkerlig van ’n paar klein kersies begin my oë vorms herken – ’n vrou teen die oorkantse muur, kruisbeen, haar kop afwaarts gekeer.

Agter my word die deur toegemaak.

Hierdie goed voel mos nie nie werklik nie, tot dit skielik baie werklik voel.

Ek nie geweet wat ek vir haar sou sê nie. Dalk iets opmaak oor hoe ek geteister word en beskerming nodig het. Sy kyk op. Haar donker oë rus op my. Die krale wat oor haar voorkop hang, wieg liggies. Ek besef: hiér kan ek nie kan lieg nie.

LEES OOK: PORTRETSTRAAT TWEE (DEEL TWEE)

Ek vertel vir haar hoekom ek daar is – ek werk aan ’n TV-reeks, en ek wil haar beroep akkuraat uitbeeld. Ek wil weet wat sy sou doen teen ’n tokoloshe.

’n Sluier val oor haar gesig. Ons is ver van die wêreld van flat screens, kameras en grimering. Sy veg teen die bose – geen metafore, foefies of spesiale effekte nie. Dié bose.

Ek probeer nog ’n paar minute, gesels al om die onderwerp. Maar dit word duidelik dat ek nooit deur daai sluier sal dring nie.

In die voorkamer bied ek aan om die mans te betaal vir die afspraak. Hulle weier. Ek trek my têkkies aan en stap uit, verleë. Buite waai ’n fris bries banaliteit oor my. Daar binne was iets. Iets wat ek nooit regtig sal ken nie.

(My volgende twee interaksies met sangomas was gelukkig baie makliker, maar ook minder opwindend en oortuigend. Een van hulle stuur steeds af en toe my ’n​WhatsApp om seker te maak ek is nog veilig).

Moenie ’n oomblik van die spanning misloop nie. Gebruik die hutsmerk #DieSpreeus op FacebookTwitter en Instagram, en laat weet ons of jy bang is. Kliek hier vir meer inligting.