Logo

MegaBoere: Ontmoet vir Jaco Kirsten

Nuus
18 September 2017
Nuwe seisoen, nuwe aanbieder. Leer ken vir Jaco Kirsten van nader.
MegaBoere

Jaco Kirsten was die afgelope sewe jaar verbonde aan WegRy / Drive Out, Suid-Afrika se voorste 4x4-reistydskrif, waarvan die laaste drie jaar as redakteur. Hy het in 1993 sy graad in joernalistiek aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit behaal en sy joernalistieke loopbaan in 1994 by Die Volksblad in Bloemfontein begin. Ná ʼn jaar in Engeland, keer hy en sy vrou in 1997 terug na Kaapstad, waar hy in die advertensiebedryf werk, totdat hy in 2000 terugkeer na die joernalistiek. In 2006 sluit hy hom aan by Bun Booyens, vorige aanbieder van MegaBoere, om deel te word van die stigters-redaksiespan van die suksesvolle Afrikaanse reistydskrif Weg!

Sy familie aan vaderskant boer in die Mariental-distrik in Namibië en sy oom aan moederskant boer steeds op die familieplaas naby Ingogo, in die noorde van KwaZulu-Natal. Van sy skoonfamilie is vooraanstaande döhne-merino-boere in die Burgersdorp-distrik in die Noord-Oos Kaap. Hy is ʼn ywerige jagter en droom van ʼn stil wegbreekplek in die Namibiese Kalahari. Hy en sy vrou Annalize bly in Kaapstad.

MegaBoere saai vanaf 11 Oktober 2017 om 20:30 op DStv-kanaal 144 uit.