Logo

MegaBoere: Ontmoet die boere

Nuus
11 Oktober 2017
Ontmoet saam met Jaco Kirsten ’n paar van ons land se superboere.
MegaBoere Info Artikel

Dié landbouprogram, met ’n persoonlike aanslag, neem kykers op ’n reis ná van ons land se suksesvolste boere. Leer ken hulle van nader. 

Episode 1: Jozua du Plessis – “Aanhouer Wen”


Die Du Plessis's

Jozua du Plessis het op die ouderdom van 21 begin boer en maar min van boerdery geweet. Vandag het hy verskeie aangrensende plase wat saam ’n ekonomiese eenheid vorm. Hy boer onder meer met mielies, koring, bone, aartappels en beeste. Sy twee oudste seuns is ook by die boerdery betrokke. Jozua Junior behartig die saaiery terwyl Chandré na die vee omsien. Die Du Plessis’s boer met graan wat nie geneties aangepas is nie – die sogenaamde nie-GMO-graan. Hulle ontvang ’n premie op GMO-vrye mielies. Jozua is een van die grootste graanboere in Suid-Afrika en is in 2016 aangewys as Graan Suid-Afrika se Graanboer van die Jaar.

Episode 2:  Jan van Zyl – “Wérk jou drome waar”


Die Van Zyl's

Jan van Zyl is die grootste Brahman-teler in Suid-Afrika. Hy het jare gelede begin met ’n klein kudde en huurgrond, maar hy droom groot en glo ’n mens moet jou drome waar wérk! Jan boer deesdae saam met sy twee seuns. Gideon is in 2012 aangewys as Noordwes se Jongboer van die Jaar en Jan Junior het, soos sy pa, ’n natuurlike aanvoeling vir die beeste. Hulle boer met wit en rooi Brahmane op die plaas Buckshee, sowat 65 kilometer van Vryburg af. Die van Zyl's het ook twee dogters. Elmé en haar man woon in Durban en Rodien en haar gesin in Australië.

Episode 3:  RF Gevers – “Om te boer met tyd”

Hogart Gevers

Robert Friederich Gevers het in 1949 die familieonderneming RF Gevers gestig. Hulle is bosbouers in Vryheid in KwaZulu-Natal. Die vierde geslag Gevers boer tans op die plaas. Hulle plant wattelbome, denne en ook bloekombome. Dit neem 24 jaar vir ’n boom vandat hy geplant is totdat jy hom kan oes. Die aanvanklike 259 hektaar wat Robert Friederich - of oom Johnny - destyds gekoop het, het uitgebrei na 19 plase en ’n moderne saagmeule. Die maatskappy het deesdae ongeveer 2 760 hektaar denneplantasies, 1 840 swart wattel- en ’n 100 hektaar bloekom- aanplantings.

Episode 4: Charlene Klinkert – “’n Vrou van Staal”

Charlene Klinkert

Charlene Klinkert het as stadsjapie eers op 41-jarige ouderdom ’n hoenderboerdery begin. Vandag slag Sterkfontein Poultry sowat 1 miljoen hoenders per maand en haar besigheid groei steeds. ’n Paar jaar gelede is haar man hier op die plaas buite Krugersdorp doodgeskiet en in 2016 moes sy Krugersdorp toe verhuis nadat sy self die derde keer op die plaas aangerand is en byna haar lewe verloor het. Van die 23 plase wat Sterkfontein Boerdery vandag besit, is 17 braaikuikenplase. Van die grond val binne die gebied waar die Wieg van die Mensdom geleë is en is ’n bewaringsgebied. Dit is enkele kilometers van Krugersdorp en die res van die Witwatersrand – dus op die drumpel van ’n onuitputlike mark.

Episode 5: Manie van Niekerk – “Landbouer, Uitbouer, Risikobestuurder”

Manie van Niekerk

Manie van Niekerk is die derde geslag Van Niekerks in die Kroonstad-distrik. Manie se boerdery het sedert sy pa se dae aansienlik uitgebrei. Hy boer tans in die distrikte van Kroonstad, Allanridge en Wesselsbron op 23 000 hektaar. Dit is ’n uitbreiding van 80% op die grond waarop sy pa geboer het. Langgeluk Beleggings het deesdae vyf vertakings waarop almal baie winsgewend geboer word. Die mielies is die ruggraat van die boerdery en dan die aartappels. Verder boer hy met bees, skaap en ook skaars wildsoorte. Hulle verskaf werk aan sowat 100 permanente werkers en tussen Mei en September neem hy sowat 250 tydelike werkers in diens om die aartappel-oes van die lande af te haal. Gedurende dié tyd verpak hulle tussen 15- en 20 00 sakkies aartappels per dag.

Episode 6: Edward Vorster – “Leef en laat leef”


Edward Vorster

Edward Vorster het as klein seuntjie saam met sy ouers na Letsitele verhuis waar sy pa begin boer het. Vandag boer Edward saam met sy vier seuns Barend, Pieter, Eddie en Francois. Mahela is een van die vooruitstrewendste sitrusboerderye in die land wat jaarliks sowat 60 000 ton vrugte produseer. Hulle boer ook met avokado’s, piesangs, makadamias, en lietsjies. In 1998 het hulle betrokke geraak by ’n wildtelingsprogram en besit saam met Norman Adami ’n pragtige swartwitpensbul wat hulle by Piet Warren vir R27 miljoen gekoop het!

Episode 7:  Boeram Venter – “Apteker, Sakeman, Boer”


Boeram Venter

Boeram Venter het jare gelede gekwalifiseer en gepraktiseer as apteker. Sy hart was egter altyd in boerdery en hy kon uiteindelik sy droom vervul. Vandag boer hy en sy twee seuns naby Addo in die Oos-Kaap en sy grootste uitdaging was om ‘n eenmansaak in ’n familiebesigheid te omskep. Sitrus maak sowat 70 persent van die Venter-boerdery uit. Hulle het in 2006 begin diversifiseer en ook braaikuikens begin produseer. Verder het hulle meer onlangs in wild belê en ook toerisme. Boeram het ook ’n Bonsmara-stoetery geregistreer. Die boerdery het ’n stelsel ontwikkel waar die afdelings mekaar aanvul. 

Episode 8:  Dr. André Ernst – “Die wetenskap van boerdery”


Dr. André Ernst

Doktor André Ernst is ’n baanbreker in die avokadobedryf. Hy het ’n unieke metode van mikro-kloning ontwikkel wat wêreldwyd respek afdwing. Hulle het ook die Maluma-kultivar avokado ontwikkel. Allesbeste Boerdery is ’n voorloper in die avokadobedryf en voer na verskeie lande uit. Die boerdery strek oor vyf plase in die Letabadistrik tussen Tzaneen en Modjadjiskloof. Avokado’s is die hoofstroombesigheid en die boerdery produseer tans meer as 2 000 ton per jaar. Sowat 300 000 kartonne is vir die uitvoermark. Die res van die boerdery bestaan uit byna 70- hektaar bloekomplantasies, 26 hektaar piesangs en lietsjies. Die hele Ersnt-familie is betrokke by die besigheid. Allesbeste is in 2016 as Nasionale Boer van die Jaar gekroon.  

Episode 9:  Rudi Lemcke – “Beskeie idealis, onverskrokke vasbyter”

Rudi Lemcke

Rudi Lemcke is in Botswana gebore en getoë. Sy pa, wat uit die ou Suidwes-Afrika gekom het, het saam met sy oom putte gegrawe om die pot aan die kook te hou. Botswana is bekende beeswêreld en Rudi boer met amper 9000 beeste op ongeveer 70 000 hektaar buite Ghanzi in die weste van die land.

Rudi is ’n gebore sakeman en entrepreneur en sommer op kosskool al het hy die snoepie behartig. Hy het nie ná skool verder gaan studeer nie, maar dadelik saam met sy pa begin boer. Sy kennis van boekhou kon hy in die boerdery EN in sy ander ondernemings toepas. Hy het ook ’n konstruksie-maatskappy wat brandpaaie in Botswana bou en beleggings in ander eiendomme in Botswana om sy inkomste aan te vul.

Episode 10:  Van Greunen Boerdery – “Boer volhoubaar”


Van Greunen broers

Die vier Van Greunen broers, Johan, Nelius, Bennie en Christie boer in Outeniqualand naby George – tussen die berge en die see. Hulle is melkprodusente in die omgewing en boer ook met aartappels, maar is een van die grootste en eerste bloubessieprodusente in die land. Hulle oupa, Michael, het in 1947 op ’n skrale 22 hektaar grond as ’n bestaansboer begin. Later jare het pa Ben die plaas uitgebou en hy word in 1994 as die Landbouskrywersvereniging se Nasionale Boer van die Jaar aangewys. Die grondslag was dus vir die huidige geslag gelê om die boerdery kommersieël te vergroot tot die reuse sukses wat dit vandag is. Wat anders sou ’n mens verwag van ’n maatskappy waar die vier direkteure ewe veel broer as boer is?  
 

Episode 11: Jan Morgan, Morgan Beef – “Toevallige Boer, Berekende sukses”


Jan Morgan

Jan Morgan wou van kleins af boer. Vandag besit hy ’n voerkraal in die Delmas distrik, ’n slagpale in Springs en ’n leerlooiery in Brits. Jan het aanvanklik Tandheelkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer, maar hy het nie klaargemaak nie. Die entrepreneur in hom het die oorhand gekry en hy het ’n vervoerbesigheid begin – Morgan Cargo. Dit het hom instaat gestel om sy droom te vervul. Die boerdery het uiteindelik uitgebrei tot akkerbou wat die voerkraal van graan voorsien, ’n abattoir en ’n leerlooiery. Die waardeketting word op baie vlakke bevredig.

Episode 12:  Graham Rae, Zambezi Ranching and Cropping – “’n Kanniedood Afrikaboer”

Graham Rae

Graham Rae is mede-eienaar van Zambezi Ranching and Cropping, sowat 30 kilometer buite Lusaka in Zambië. Dit is ’n gemengde boerdery en bestaan uit sowat 30 000 hektaar. Hier boer hy met omtrent alles waaraan ’n mens kan dink – graan, beeste, tabak en hulle is tans besig om sowat 500 hektaar onder bloubessies te vestig. Die kommersiële mielies is vir eie gebruik en vir die beeste. Verder lewer hulle saadmielies aan drie saadmaatskappye. Dit word ook uitgevoer. Opbrengste wissel tussen vyf en ses-en-’n-half ton per hektaar. Graham is oorspronklik van Zimbabwe waar hy ’n familieplaas moes agterlaat as gevolg van hulle grondhervormingsbeleid.

Episode 13:  Robert Graaff, Graaff Fruit – “Om die vrugte te pluk”


Robert Graaff

Die Graaff-familie is waarskynlik meer bekend vir die spore wat hulle in die Suid-Afrikaanse politiek getrap het. Dié familie is ook die bekendste familie in die land wat ‘n “sir-skap” of baronetskap aan hul naam kan koppel. In die Wes-Kaap, naby Port Alfred Hamlet, in die vrugbare Ceres-vallei, boer Robert Graaff met vrugte. Hy is die tweede oudste en het dus nie die “sir-skap” geërf nie.

In 1998 begin Robert met 80 hektaar pere en 20 werknemers op Lushof boer. Hy het eers saam met sy pa geboer. Vandag bestaan Graaff Fruit uit drie ekonomiese eenhede. Die boerdery verbou ’n verskeidenheid van vrugte onder andere appels, nektariens en perskes.

MegaBoere saai vanaf 11 Oktober, elke Woensdag om 20:30, op DStv-kanaal 144 uit.