Suid-Afrikaanse landbouers staan bekend as van die suksesvolste ter wêreld. Maar dit is net dié boere met vasbyt, inisiatief en ondernemingsgees wat bo uitkom.
Húlle word uiteindelik die MegaBoere.
MegaBoere is ’n landbousakeprogram met ’n persoonlike aanslag. Die reeks ondersoek die grootste landbou-uitdagings en hoor watter oplossings die land se superboere daarvoor bied. Dit raak aan die geskiedenis van die plaas, tegniese aspekte van die onderneming en eindig met ’n toekomsgerigte visie en plaas ook die kollig op bemagtigings-aksie en hoe dit suksesvol by die onderneming inskakel.
MegaBoere benader nuwe horisonne
Bun Booyens, aanbieder van MegaBoere, is op Oudtshoorn gebore en het op Stellenbosch aan Paul Roos-gimnasium gematrikuleer.
Booyens was die afgelope ses jaar die redakteur van Die Burger, sy derde skof sedert 1989 by die koerant.
Hy was ook in 2004 die stigtersredakteur van die reistydskrif Weg!, wat onder meer bekroon is as Suid-Afrika se beste tydskrif en waar hy as Suid-Afrika se tydskrifredakteur van die jaar aangewys is. Die woonwa-tydskrif WegSleep en 4x4-tydskrif WegRy is ook onder sy bestuur gestig.
In elk van die dertien episodes stel Bun een van die grootste boere in die land aan die kyker voor en vind eerstehands uit wat dié boer suksesvol maak.
Die boere verteenwoordig verskillende landbousektore van regoor Suid-Afrika. MegaBoere stel die glanspersoonlikhede van Suid-Afrikaanse landbou aan die kyker voor.
MegaBoere se derde seisoen begin op 5 Oktober 2016 om 20:00 op kykNET.