Logo

MegaBoere 5 het vrou aan stuur!

Nuus
23 Oktober 2018
Dié nuus is net te goed om vir onsself te hou.
MegaBoere

Iewers in die ooste van Zimbabwe, op die plaas Luipaardsvlei, is daar ’n brahmaankalf met die naam Kabous. Tydens die MegaBoere-span se besoek aan dié plaas het die patriarg Soois Joubert hom voorgeneem om die volgende bulkalf in sy stoet na die nuwe MegaBoere-aanbieder te vernoem. Voorwaar ’n prestasie as ’n mens weet hoe lief beesboere vir hul beeste is. En Kabous Meiring se reaksie was bloot: “’n Bulkalf?” gevolg met haar kenmerkende skaterlag.

HIER IS ’N PAAR DINGE WAT JY NIE VAN KABOUS GEWEET HET NIE.

Die nuwe seisoen van MegaBoere wat in Januarie afskop, gaan veral in een opsig van die vorige vier reekse verskil: MegaBoere 5 het ’n vroulike aanbieder. Die vervaardigers van MegaBoere, Khaki Produksies, voorspel dat Kabous Meiring onder die kykers se vel gaan inkruip terwyl sy die suksesvolste boerderye in Suidelike Afrika besoek. Dié Prontuit-aanbieder is ’n vonds wat ’n vars aanslag aan die program gee. Haar warmte, insig en spitsvondighheid is ’n aanwins en plaas die bekroonde reeks in ’n ander liga.

Hier is solank ’n paar foto’s van Kabous in aksie:

Gallery

MegaBoere 5 doen moeite om ook in buurlande, met soortgelyke omstandighede as Suid-Afrika, ’n draai te maak. In Afrika bly landbou ’n uitdaging, want hier gaan dit nie net oor wins, omset, kaart en vervoer nie. In Afrika gaan kosvoorsiening veral oor aanpasbaarheid. Kabous doen dus moeite om boere se aanpasbaarheid by klimaatsverandering, droogtes, maatskaplike uitdagings en die politiek uit te beeld.

Soos in die vorige reekse besoek sy ook ’n verskeidenheid boerderye in verskillende dele van die land. Die klem verskuif hierdie keer na boere se vermoë om verandering as uitdaging te aanvaar. Die boerderye wissel van groot semi-korporatiewe sakebedrywe, tot boere wat op tradisionele grond boer en nooit die titelakte van sy grond gaan besit nie – almal boere wat hulself op die een of ander manier van ander onderskei en op verskillende maniere kwalifiseer om die MegaBoer-etiket te dra.

Moenie dié splinternuwe seisoen van MegaBoere misloop nie! Gesels saam op Facebook en Twitter by #MegaBoere!