Logo

Meer Amerikaners werk nog ná 85 – Met 'n huppel in die stap

Nuus
01 Januarie 2019
Lees meer.
Huppel

Foto: Getty Images


Sewentig is dalk die nuwe 60, 80 die nuwe 70, maar om op 85 steeds te werk, is merkwaardig. Volgens ’n artikel wat onlangs in The Washington Post gepubliseer is, is dit tans die era van die baie bejaarde werker in Amerika.

Die afgelope 12 maande was 255 000 Amerikaners van 85 of ouer nog aan die werk. Dit is 4.4 persent van alle Amerikaners in daardie ouderdomsgroep en die hoogste syfer op rekord. In 2006, voor die Groot Resessie* van 2008, het 2.6 persent van daardie ouderdomsgroep nog gewerk.

Die werkende tagtigjariges doen allerhande soorte werk. Van hulle bewaak spooroorgange (crossing guards), is produksie- of veeboere, of selfs trokdrywers. Volgens die 2016 sensussyfers is daar tussen 1 000 en 3 000 trokdrywers in die VSA wat 85 of ouer is. Die getal 85-plussers wat trokdrywers is, het sedert die Groot Resessie min of meer verdubbel.

Amerika se ouerwordende arbeidsmag definieer die arbeidsmark sedert die Groot Resessie. Baby boomers en hulle ouers hou langer aan met werk namate die lewensverwagting styg, aftreepakkette krimp, die vlak van opvoeding styg en werk fisies makliker word. Syfers van die Amerikaanse Departement van Arbeid toon dat
in elke ouderdomskategorie bo 55, Amerikaanse burgers werk of werk soek teen die hoogste koers op rekord.

Aan die anderkant van die ouderdomspektrum, is die teenoorgestelde ook waar. Werkers van 30 jaar en jonger bly op die kantlyn teen koerse ongekend sedert die 1960s en 1970s toe vroue nog nie in sulke groot getalle soos vandag tot die arbeidsmark toegetree het nie.

Mense wat op 85 en ouer nog werk, is merkwaardig, en hulle word in ’n hele verskeidenheid beroepe gevind – daar is geen konsentrasie in enige spesifieke ras, etnisiteit of streek nie. Maar die werk wat hulle doen, verskil baie van dié van hulle jonger werksgenote of mededingers.

Meeste van die oudste werkers is gekonsentreer in 26 van die 455 beroepskategorieë waarvan sensusdata beskikbaar is. Hierdie 26 beroepe trek minder as ’n derde van die totale arbeidsmag.

Werkers van 85 jaar en ouer kom meer voor in minder fisiese bedryfsektore soos bestuur en verkope as in die meer fisiese sektore soos produksie en konstruksie. Niemand twyfel daaraan dat die 80-plussers ’n bydrae het om te maak nie. Sommige van Amerika se mees vooraanstaande werkers is omtrent 85. Die oudste regter van die Hooggeregshof, Ruth Bader, is 85. Die mediamagnaat, Rupert Murdoch is 87, so ook George Soros, beleggingsmagnaat, Warren Buffett, besigheidsmagnaat en Toni Morrison, Amerikaanse skryfster wat ’n Nobelprys- en Pullitzerpryswenner is.

Onder die spesifieke beroepe waar die ouer segment van die beroepsmag voorkom (volgens data van 2001 tot 2016), is oorgangbewakers, musikante, werknemers by begrafnisondernemers en produkdemonstreerders. Hoewel dit ouderdomsvriendelike beroepe is, is dit nie waar die meeste 85-plussers werk nie.

Vir sover dit net om die getalle gaan, is meeste van die 85-plussers produksie- of veeboere. Hierdie beroepsklas het 3,5 persent van die oudste werkers en dit sluit nie plaaswerkers in nie. Plaaswerkers is ’n heel ander beroepskategorie. Wat die Amerikaanse bevolking as geheel aanbetref, is slegs 0.5 persent van diegene onder 85, boere.

Dit is ook so dat die generasiegaping hier ’n rol speel. Toe vandag se oudste boere sowat 65 jaar gelede tot die arbeidsmag toegetree het, was daar vir hulle baie meer opsies as vir, byvoorbeeld, rekenaarwetenskaplikes en dit bepaal hulle professionele keuse vandag, meer as ses dekades later. 

In die nuwe seisoen van Met ’n huppel in die stap ondersoek ons dié onderwerp verder. Kliek hier en vind uit hoe om te beplan vir die toekoms in jou senior jare: 



Skakel Woensdae om 18:00 vanaf 2 Januarie​, in op DStv-kanaal 144 vir Met ’n huppel in die stap. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #HuppelStap​.