Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Mediesefondsbedrog: Miljarde elke jaar vermors – Binnelanders

Nuus
19 Junie 2020
Die identiteitsdiefstal en mediesefondsbedrog wat in Binnelanders te sien is, is maar net een van die maniere waarop mediese fondse jaarliks uit miljarde gekul word.
B10 ep20 4

Daar word gereken dat dié bedrag tot soveel as R22 miljard kan wees. In 2018 was daar by Discovery Health byvoorbeeld alleen R555 miljoen se fondse verhaal ná ondersoeke na bedrog, vermorsing en misbruik.

Identiteitsdiefstal is nie die enigste manier waarop bedrog by mediese fondse gepleeg kan word nie. Van die ander metodes is:

  • Vals eise

Hierdie is volgende fondse die grootste euwel. Eise word gemaak vir dienste of medikasie wat nie gelewer is nie.

  • Verkeerde kodes

Dokters gebruik die verkeerde kodes om van mediese fondse te eis en eis dus meer as wat hulle op geregtig is.

  • Dubbel eise

Daar word twee keer, deur die dokter asook die pasiënt, vir dieselfde diens geëis.

  • Kaartbedrog

Lede van ‘n fonds gee hulle mediesefondskaart of –nommer vir ander om te gebruik of betaal vir slegs een afhanklike en gebruik dan hierdie afhanklike se voordele vir ander afhanklikes.

  • Gekonkel tussen pasiënte en dokters

Pasiënte en dokters konkel saam om eise in te stel wat nie bestaan nie.

  • Gebruik van fonds vir nie-mediese items

Lede konkel saam met byvoorbeeld apteke om goedere soos toiletware en sonbrille aan te koop en dit as medisyne te eis.

  • Sindikaat-bedrog

Sindikate werk saam met lede, makelaars, diensverskaffers en mediesefondspersoneel om bedrog te pleeg. Sindikate kan identiteitsdiefstal pleeg en vals eise indien. Die verskaffer betaal die eis, maar die terugbetaling word na ‘n ander rekening gestuur.

Mediese fondse is ‘n reuse-bedryf in Suid-Afrika. Volgens die Raad op Mediese Skemas (RMS) se verslag vir 2018/2019 is daar in dié boekjaar R162,9 miljard se bydraes gevorder en R144,5 miljard is uitbetaal.

Enige vorm van bedrog, wat strafbaar met die reg is, is ook een van die redes waarom mediesefondsbydraes jaarliks styg.

Daar is verskeie maniere waarop jy bedrog kan keer. Gaan jou state sorgvuldig deur en maak seker dat daar nie enige eise is wat jy nie ingedien het nie. Maak seker dat die medisye wat die apteker aan jou voorsien het die medisyne is wat voorgeskryf is. Indien nie, vra die apteker waarom daar ‘n verskil is. Hou jou mediesefondsnommer en –kaart te alle tye veilig om te keer dat ander mense dit nie gebruik nie. Moenie instem wanneer ‘n verskaffer aanbied om jou te betaal sodat hulle die eis kan indien nie.

Indien jy vermoed dat daar ongeruimdhede op jou mediese fonds is, kontak hulle dadelik aangesien alle mediese fondse afdelings het wat bedrog ondersoek.