Logo

Max en die storie agter die storie – Waarheid met Max

Nuus
10 Maart 2022
Waarheid met Max begin op Sondag 3 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
MAX EN DIE STORIE AGTER DIE STORIE – WAARHEID MET MAX

Die afgelope paar jaar is Suid-Afrika geruk deur opspraakwekkende stories deur deurwinterde joernaliste wat korrupsie, onderduimse onderhandelings, enorme rykdom, fluitjieblasers en rampokkers nie net in die media oopgeskryf het nie, maar ook in topverkoper-boeke.

In die nuwe reeks Waarheid met Max lê Max du Preez – vanaf Sondag 3 April 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) – besoek af by vyf ondersoekende joernaliste en een fluitblaser vir gesprekke rondom onder meer staatskaping en misdaad in Suid-Afrika.

“Suid-Afrika se dapper bende ondersoekende joernaliste is een van die steunpilare van ons demokrasie en ons oop gemeenskap,” sê hy. “My reguit gesprekke met ses van die beste van dié skrywers gee ’n binne-blik op hulle werk en hulle lewens.”

Daar is ses episodes in die reeks en in die eerste episode besoek Max vir Jacques Pauw, skrywer van die opspraakwekkende boek The President’s Keepers. Jacques, wat saam met Max een van die stigters van Vrye Weekblad was, het in die boek oud-president Zuma se onderskeie bedrywighede, onder meer sy betrokkendheid by die Gupta-familie, blootgelê.

In episode twee praat Max met die fluitjieblaser Johann van Loggerenberg, die voormalige SARS-werknemer en skrywer van Rogue (2016), Death and Taxes (2017), Tobacco Wars (2019) en Cop under Cover. Die joernalis Pieter-Louis Myburgh is die gas in episode drie waar hy sal praat oor Gangster State, sy boek oor die voormalige Vrystaatse premier Ace Magashule en in episode vier praat Pieter du Toit oor sy boek The Stellenbosch Mafia en die magtige magnate van dié mooi Bolandse dorp.

Caryn Dolley se boek To the Wolves kom in episode vyf aan die beurt. In die boek is daar ondersoek ingestel na skelm polisiebeamptes en politici en kyk sy na georganiseerde misdaad en die invloed daarvan op ons samelewing. In die laaste episode praat Max met Anneliese Burgess, skrywer van Heist, ’n boek oor transito-rooftogte in Suid-Afrika.

Max is ’n veteraan-joernalis en skrywer, stigter/uitgewer van die rebelse Vrye Weekblad in 1988 en van vryweekblad.com in 2019. Hy is die ontvanger van eredoktorsgrade van die universteite van Stellenbosch en die Vrystaat en van sy ander toekennings sluit in die Louis M. Lyons-toekenning van Harvard Universiteit, die 2006 International Journalist of the Year van Yale Universiteit, die Nat Nakasa-toekenning van die nasionale redakteursforum, die Ahmed Kathrada-prys vir leierskap en die Pringle-prys vir etiese joernalistiek. Sy laaste boek, A Rumour of Spring, is met die Alan Paton-prys bekroon.

Waarheid met Max begin op Sondag 3 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).