Logo

Marc Lottering maak ’n skreeusnaakse draai op kykNET&kie

Nuus
04 Maart 2024
Lottering se treffer "So I Wrote That Musical" is verfilm en dit word op DStv-kanaal 145 uitgesaai.
marc lottering

Of Marc Lottering nou alleen agter die mikrofoon is en of hy Aunty Merle in een van sy musiekblyspele is, hy laat gehore huil van die lag.

In 2023 het sy jongste eenmanvertoning, So I Wrote That Musical, in Kaapstad gedebuteer. Dit was ook in Johannesburg en Durban op die planke en was daarna weer in Kaapstad te sien – elke keer voor volgepakte teaters met mense wat skree vir nog. 

En nou kan jy ’n sitplek in die voorste ry vir dié treffer kry, want So I Wrote That Musical is verfilm en word op 31 Maart om 20:00 op kykNET&kie uitgesaai.

“Ek is baie bly om weer terug in mense se sitkamers te wees,” sê Marc. “Dit het te lanklaas gebeur.”

In So I Wrote That Musical praat Marc nie net oor sy drie suksesvolle musiekblyspele waarin Aunty Merle die hoofkarakter is nie, maar ook oor die uitdagings waarmee jy te kampe het wanneer jy soos hy tussen solovertonings en musiekblyspele beweeg. Sy eie lewe in Suid-Afrika en die waansin waarmee ons soms te doen kry, loop ook onder Marc se skerp komiese blik deur.

“Hy neem jou na donker plekke, maar sit ’n lig vir jou aan. Of hy laat ook die stoeplig brand as jy verdwaald oor ’n saak is,” het Laetitia Pople, die kunsredakteur van Netwerk24, in haar resensie van So I Wrote That Musical geskryf.   

Ander resensente was ewe vol lof vir Marc se vertoning.

Lottering, skryf Robyn Sassen (My View), “is die soort vermaaklikheidsmagneet wat andersins skynbaar respektabele lede van die gehoor so laat gil van die lag dat hulle tydens die vertoning hulle lipstiffie weer moet aansit”.

“Ek is so lief vir Marc Lottering. Ek sal na hom kyk terwyl hy die geklassifiseerde advertensies lees en lag. So I Wrote That Musical is die oulikste, snaaksste, malste, sjarmantste uur en ’n half van die beste soort lag wat daar is,” het Megan Choritz op Weekend Special geskryf.

So I Wrote That Musical is ’n meesterklas,” het Robyn Cohen op The Cape Robyn verklaar.

“Om die regisseur van Marc se produksies te wees kan die hare op jou kop laat regop staan,” sê Anwar McKay, die regisseur van So I Wrote That Musical. “Maar ek dink ons het ’n fabulous produksie geskep. Geniet!”

So I Wrote That Musical is 80 minute lank. Dit word op 31 Maart om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai.