Logo
Met 'n huppel in die stap
web uni tv guide

Met 'n Huppel In Die Stap

144LeefstylPG

Magaliesburg se bierplesier – Met ’n huppel in die stap

Nuus
05 Maart 2019
Lees meer.
Huppelstap

deur Louise van Niekerk le Roux

Die noordwestelike hoek van ons pragtige land word dikwels onderskat as ’n vakansiebestemming en meestal net geassosieer met Sun City en Pilanesberg. Mense hier in die noorde haas hulle graag vakansietye na die Kaapse kus of die Krugerwildtuin, maar vergeet wat lê op hul drumpel aan die voet en hange van die indrukwekkende Magaliesberge. Kom reis gerus saam na Magaliesburg ...

Net sowat ’n uur se ry uit Pretoria en Johannesburg, lê die dorpie Magaliesburg aan die voetheuwels van die Magaliesbergreeks. Met sy ryk geskiedenis en pragtige natuurskoon, bied dié dorpie en sy omgewing heerlike doendinge vir elke smaak en ouderdom, van bierbrouerye, restaurante en snoesige koffiekafeetjies, tot speelparke vir die kleinkinders, ’n piekniek- en kampeerterrein waar honde welkom is, natuurreservate, ’n verskeidenheid verblyfopsies en veel meer.

Die Magaliesberg, en dus ook sy naamgenoot, Magaliesburg, is vernoem na Mogale, wat die stamhoof van die Bapo- stam was in die tyd toe die Voortrekkers hulle in dié gebied bevind het. Hy het die Trekkers onder meer gehelp om Mzilikazi, die koning van die Matabeles, te verjaag. Gedurende die Anglo-Boereoorlog was die Magaliesberg vir Boer sowel as Brit ’n strategiese punt waar legendes soos generaal Koos de la Rey (“ ... sal jy die Boere kom lei De la Rey, De la Rey...”) en Christiaan Beyers, onder andere, diep spore getrap het en die Kakies getroef het.

KYK OOK: DIE REIS VAN JOU LEWE


Vandag is dit veral besoekers wat diep spore trap in dié omgewing, wat so naby en tog so ver van die stadsgewoel is. Op ’n soel somersdag het ek, my dogter en skoonseun – laasgenoemde om die bier te proe – besluit om uit die stad se geroesemoes te ontsnap en die omgewing rondom Magaliesburg te verken. Ons het pleks van ’n beplande roete en sonder om voor die tyd te veel oor die plekke uit te vind, ’n rustige dagrit as ’n ontdekkingsreis aangepak. Ons het nie te ver gesoek voor ons ’n paar juweeltjies ontdek het nie.

Ons eerste afsaalplek was Melon Rouge, waar ons besluit het om iets te nuttig voor ons die bierbrouerye sou aandurf. By dié restaurant tussen bome en ’n eklektiese verskeidenheid dekorstukke soos ’n ou rooi telefoonhokkie,’n geroeste kruiwa metplante en deurtrapte blou dubbelloop-fiets, voel dit of die tyd stilstaan en die rustigheid jou soos ’n warm kombers omvou. Hier is ook kamers vol oudhede en snuisterye waar mens ure lank kan rondsnuffel tussen die vintage-klere en -juwele, tweedehandse boeke, kunswerke, poskaarte en nog wat.

Die kos was smaaklik en die diens vriendelik. Ons het gesmul aan tuisgemaakte lampastei met mint, hoenderpastei en braaibroodjies, alles met vars slaaie en met ’n glimlag bedien.

KYK OOK: BLY SÓ AKTIEF


Met ons magies vol, was ons gereed vir ’n bietjie bierplesier by die volgende kuipstop, die Black Horse Craft Brewery. Hierdie pragtige plek was ’n aangename verrassing – ons verwagtinge is oortref.

In teenstelling met die ongekunsteldheid van Melon Rouge, is dit gesofistikeerd en stylvol. Met ’n uitsig oor die skilderagtige Zeekoeihoekvallei, sit mens in die koelte van pekanneutbome, waar jy ’n verskeidenheid van sewe plaaslik-gebroude biersoorte kan proe en dan jou gunsteling kan kies en bestel. Die Black Horse-landgoed spog ook met ’n jenewer-distilleerdery, ’n atmosfeervolle restaurant, ’n geskenkwinkel, verblyf en ’n trouplek. Ons sou die hele dag hier kon deurbring, maar die ander plekke wat verken moes word, het gewink.

Nie ver van die Black Horse af nie, is die afdraaipad na die White Dog Taproom – ’n onpretensieuse drink- en eetplek met vriendelike diens en craft-bier. Ons het nie hier geëet nie, maar volgens ‘oorlewering’ is die pizzas, wat jy self kan ‘bou’ volgens jou smaakvoorkeure, to die for, die vis en skyfies is glo vingerleklekker en die biefstuk uit die boonste rakke.

Verder met die pad langs, ontdek ons die informele winkelsentrum, Magaliesburg Trading Post. Dit huisves onder meer die Bloumossie-klereontwerpateljee, Faerie- Nuff-geskenkwinkel, en die Voorhuis met handgemaakte dekor items. Hier het ons gekuierkoop vir ongewone Kersgeskenke totdat die aroma van varsgemaakte koffie uit die rigting van die Koffiehuis se voorstoep, ons herinner het dis koffietyd. Die cappuccino, wat met tuisgemaakte vrugtekoekbeskuit bedien is, was van die hoogste coffee shop-gehalte.

KYK OOK: SIEN DIE WÊRELD SÓ


Bestuurder en sjef, Barend, wat ook kelner gespeel het, het verduidelik dat die besonderse beskuit nie volgens ’n spesiale resep gebak is nie, maar eintlik per ongeluk gebeur het toe een van die vrugtekoeke, waarvoor hy bekend is, bietjie aangebrand het. Hy het dit toe in beskuitgrootte stukke gesny, in die oond uitgedroog en siedaar, ’n nuwe beskuitspesie.

Teen die einde van ons luilekker dag toe die son begin water trek, was die versoeking groot om langer te vertoef; dit sou heerlik wees om te oornag by een van die omgewing se vele gastehuise of ander verblyfopsies, maar ons moes terug stad toe.

Magaliesburg bied nog baie meer as waarvoor ons tyd gehad het en is beslis ’n tweede of meer besoeke werd. Daar is geleentheid vir rotsklim in die klowe, ’n besoek aan die Askari Lodge-museum, ’n outentieke boeremark, warmlugballonritte, wildreservate, perdry, visvang, bergfiets- en voetlsaanpaaie, of om sommer net luilekker te ontspan in die plattelandse atmosfeer, die vars lug in te adem, en jou te verlustig in die natuurskoon.

Sit die huppel terug in jou stap deur in te skakel vir Met ’n huppel in die stap, Woensdae om 18:00 op DStv-kanaal 144. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #HuppelStap​.