Logo
MMF

Maak My Famous keer terug!

Nuus
30 Julie 2020
Hier’s als wat jy moet weet ...
Emo Tarryn

kykNET se talentkompetisie Maak My Famous keer 8 Augustus 2020 terug – en die deelnemers is meer as gereed om kykers regstreeks te vermaak!

Maak My Famous het ’n agt weke produksiebreek geneem weens die Covid 19-pandemie.  Die tweede seisoen van Maak My Famous was soos oudergewoonte voor ’n gehoor by die Roxy Revue Bar in Grandwest Casino verfilm voordat die nasionale inperking weens die pandemie deur President Ramaphosa aangekondig is.

En ingenome die maatreëls wat as wetgewing voorgeskryf was, moes deelnemers en lede van die produksiepan verfilming aan dié talentkompetisie onmiddellik stop en terugkeer na hulle verskillende provinsies.

Maar nou is deelnemers nie net goed voorbereid nie, hulle maak ook gereed vir ’n splinternuwe tydsgleuf. Maak My Famous sal nou elke Saterdagaand om 20:00 op beide kykNET en kykNET & kie uitgesaai word.

En kykers is nou amptelik die beoordelaars! Kykers sal in elke episode die geleentheid kry om regstreeks te stem vir die deelnemer wie hulle dink moet huistoe gaan. Resultate sal aan die einde van die program bekendgemaak word.

Moenie vergeet nie, jy stem vir wie huistoe gaan en nie jou gunsteling-deelnemer nie!

Die deelnemers sal gelukkig nie voor ’n leë gehoor optree nie. Elke mentor kry hul eie spasie in die Roxy Revue Bar om die optredes te kyk.

Skakel elke Saterdag om 20:00 op kykNET, DStv kanaal-144, en kykNET & kie, DStv kanaal-145, in om al die aksie te volg.

Gesels saam op sosiale media deur die hutsmerk #MaakMyFamous te gebruik en volg Maak My Famous op Facebook, Twitter en Instagram. ​