Logo

M-Net vier 30 jaar van tydlose betowering

Nuus
09 September 2016
’n Groot mylpaal wink vir Afrika se baanbreker-TV-kanaal, M-Net – die groot 3-0! Lees meer oor die verjaardagvieringe en TV-hoogtepunte hier.
M-Net 30 Verjaardag
’n Groot mylpaal wink vir Afrika se baanbreker-TV-kanaal, M-Net – die groot 3-0!

In Oktober 2016 sal dit 30 jaar wees sedert die heel eerste M-Net-intekenaars hul analoog-dekodeerders laat installeer het – ’n groot tegnologiese deurbraak wat kykers aan ’n splinternuwe wêreld van vermaak bekendgestel het.

In ’n bedryf wat voortdurend teen weerligspoed verander, was M-Net nog altyd aan die voorpunt van die jongste ontwikkelings.

Wat as een analoog-TV-kanaal begin het, het intussen gegroei tot meer as 40 kanale (insluitend M-Net Edge, kykNET, Mzansi Magic, VUZU AMP, Channel O en Africa Magic), wat die behoeftes van diverse gehore op verskillende platforms in byna 50 lande regoor Afrika aanspreek.

Saam met die skep van die heel beste inhoud en kanale vir DStv-kliënte, spog M-Net ook met ’n lang lys van rewolusionêre skuiwe en “eerstes”. Dit was die eerste kanaal om ’n fliek sonder advertensiebreuke uit te saai, Suid-Afrika se heel eerste sepie te loods, plaaslike weergawes van treffer-werklikheidsreekse soos Big Brother en Idols na die kassie te bring, tien taal-spesifieke kanale te vervaardig, na HD-formaat oor te slaan en opslaankanale (“pop-up channels”) sowel as dienste soos “Express from the US” by te voeg.

In ware M-Net-gees gaan dié kanaal se verjaardag op ’n unieke wyse gevier word – met ’n prettige komedie-opslaankanaal.

Skakel in op DStv-kanaal 109 vir M-Net Movies BlockParty, wat vir die hele maand van Oktober kykers se gunsteling-komedieflieks, die jongste komediereekse en die wêreld se beste skerpskertsers na die kleinskerm gaan bring. Dié kanaal gaan die rooi tapyt uitrol vir Seth Rogen, Eddie Murphy, Amy Schumer, Jim Carrey, Leon Schuster, Steve Martin, Austin Powers, Kevin Hart, Trevor Noah, Ellen DeGeneres, Martin Lawrence en vele meer.

Vir 30 dae lank kan kykers daagliks uitsien na lekkerlag-reekse vanaf 19:30, skreeusnaakse flieks om 20:30 en skerpskertser-programme vanaf 22:00.

“M-Net sou nie gewees het waar dit vandag is sonder die ondersteuning van ons kykers nie,” sê M-Net se uitvoerende hoof, Yolisa Phahle. “M-Net Movies BlockParty sal iets hê vir almal en programme bied vir die hele familie om saam te geniet. Komedie is altyd gewild en ons wil graag hê ons kykers moet pret hê, so ons sien uit daarna om ons verjaardag saam met soveel moontlik mense te vier.”

M-Net gaan ook ’n eksklusiewe program vervaardig oor die geskiedenis van die kanaal, hoe dit die film- en televisiebedryf in Afrika ontwikkel en ’n positiewe rol in mense se lewens gespeel het. Dié nostalgiese uitsending sal vroeg in November op verskeie M-Net-kanale uitgesaai word.

Splinternuwe programme op M-Net se kanale in Oktober sal ook deel van die verjaardagvieringe uitmaak.

Shark Tank South Africa, ’n spanningsvolle werklikheidsreeks waarin entrepreneurs hul idees aan sakelui-beoordelaars moet voorlê, begin op 2 Oktober op M-Net (kanaal 101) om 18:00. Die wetenskapfiksiereeks Frequency, wat tydreis na ’n heel nuwe vlak neem, sal vanaf 6 Oktober op Donderdae om 20:30 uitgesaai word.

M-Net Edge-kykers kan uitsien na die splinternuwe HBO-komediereeks Divorce, met Sarah Jessica Parker, wat op 14 Oktober om 21:00 afskop. Die wetenskapfiksie-riller Westworld, gebaseer op Michael Crichton se besverkoper, begin op 3 Oktober om 21:00. Anthony Hopkins, Ed Harris, Evan Rachel Woods en Thandie Newton is van die sterre in die rolverdeling.

Op kykNET keer Karen Zoid se gewilde geselsprogram Republiek van Zoid Afrika terug na die kassie op 11 Oktober om 20:30. Daar word vanaf 11 Oktober, Dinsdae om 20:00, ook ingeloer by Nataniël en sy broer in Frankryk, in die kosprogram Edik van Nantes. Die immergewilde Boer soek ’n Vrou, vanjaar met nuwe aanbieder Minki van der Westhuizen, skop af op 20 Oktober om 20:30. Lees meer oor Oktober-vermaak op kykNET hier.

VUZU AMP, DStv-kanaal 103, gaan die tuiste wees vir die nuwe werklikheids-speletjiesprogram PowerPlay Coalition, wat op 15 Oktober om 18:00 begin.

Kykers van Mzansi Magic (kanaal 161 op DStv) kan uitsien na The Queen, Idols, Greed and Desire, Isikizi en Isibaya, terwyl die dramareeks It’s Complicated, met Atandwa Kani en Fikile Mthwalo, terugkeer vir ’n tweede seisoen op 9 Oktober om 21:00.

Meer besonderhede oor die M-Net Movies BlockParty-kanaal, die spesiale uitsending en TV-hoogtepunte sal op ’n latere stadium aangekondig word. Hou www.mnet.tv dop vir meer nuus.