Logo

M-Net Movies en kykNET bankvas agter fliek oor mishandeling

Nuus
03 Julie 2015
M-Net Movies en kykNET borg saam ’n nuwe plaaslike fliek wat die mishandeling van vroue en kinders in die kollig plaas.
fdsa
M-Net Movies en kykNET borg saam ’n nuwe plaaslike fliek wat die mishandeling van vroue en kinders in die kollig plaas. Shushh is gegrond op die roman Whiplash, uit die pen van Tracey Farren, en vertel die verhaal van Tess, ’n Afrikaanse sekswerker van Muizenberg wat geteister word deur haar pynlike verlede wanneer sy swanger raak.

Whiplash het in 2009 die kortlys vir die Sunday Times Fiction-prys gehaal, en Farren het ook die draaiboek vir die fliek geskryf. Die naam is na Shushh verander om verwarring met die gelyknamige Oscar-fliek uit te skakel.

Dié hartsprojek het verlede jaar op Vrouedag vir ’n opskudding gesorg toe regisseur Meg Rickards al die pad van die Kaapse middestad tot in Muizenberg – in ’n geskeurde onderrok en duidelike kneusmerke op haar gesig en lyf (kunsgrimering) – gestap het om bewusmaking van vrouemishandeling te bevorder.

34 fdsa


“Die publiek se reaksie was verstommend,” sê Rickards, wat onlangs die bekroonde dokumentêre rolprent 1994: The Bloody Miracle vervaardig het. “Ons is nou in die wolke oor die feit dat M-Net Movies en kykNET ons gaan help om die sluier te lig oor ’n storie wat eenvouding vertel móét word. Nadat ons vier jaar lank gesukkel het om befondsing bymekaar te skraap, het ons nou mense aan boord wat ons visie deel,” sê sy. “Ons is reeds besig om ’n wonderlike span akteurs en tegniese personeel saam te stel en M-Net Movies en kykNET se ondersteuning sal verseker dat ons ’n fliek van hoogstaande gehalte kan maak.”

Jan du Plessis, direkteur van M-Net Movies, meen Shussh het die potensiaal om ’n mylpaalfliek in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf te word. “Die draaiboek is so eerlik as kan kom; die verhaal draai g’n doekies om nie. Dis hartroerend, rou en pragtig tegelyk, en Tess – dwelms en al – is dapper én weerloos. Daar is nie nog so ’n karakter in Suid-Afrikaanse rolprente nie,” sê Du Plessis.

“Sy gaan gehore meesleur op ’n intense emosionele reis en ook die aandag op sake van lewensbelang vestig – maar met humor en waagmoed, sonder om ooit prekerig te raak. Die ontwikkeling van die plaaslike fliekbedryf is  belangrik vir M-Net Movies en kykNET, en met Shussh gaan ons beslis grense verskuif.”

Shushh gaan in September met die verfilming begin en die rolverdeling sal binnekort aangekondig word.

Die Nasionale Rolprent- en Videostigting en die departement van handel en nywerheid verskaf die bykomende finansiering. Boondogle Films en Get the Picture is die vervaardigers. Die dialoog is ’n mengsel van Engels en Afrikaans.