Logo
Projek Dina 2 – Slim
web uni tv guide

Projek Dina

144Drama16 VL

“Lux het ’n goeie hart”

Nuus
26 April 2022
Lux, oftewel die speurder Luxolo Dladla, het diep in kykers se harte gekruip in die twee seisoene van Projek Dina. Chumani Pan vertel meer oor hierdie geliefde karakter en waarmee hy nog besig is.
Projek Dina Chumani Artikel

Wat hou jy die meeste van Lux?

Ek hou van hom omdat hy soveel lae het. Hy het ’n prettige kant en is baie ernstig oor sy werk. Hy kan die lewe van die partytjie wees, maar as daar gewerk moet word, dan werk hy. Hy kyk ook altyd uit vir die mense wat dit nie vir hulleself kan doen nie. Dis asof hy hulle verteenwoordig en weet waar hulle vandaan kom. Lux is regverdig en bang om die reëls te buig, maar hy kry die werk gedoen. Hy het ’n goeie hart.

Projek Dina was jou eerste Afrikaanses dramareeks. Wat was die grootst uitdagings?

Ek kan Afrikaans praat, maar praat dit nie elke dag van my lewe nie. Dit was ook ’n paar jaar ná ek gereeld Afrikaans gepraat het en my tong het sommige dae geknoop. Maar ek het die karakter en die storielyn goed verstaan en dit het dit makliker gemaak.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Tot dusver is dit ’n baie goeie jaar en ek het baie werk. Daar is ook ’n paar goed wat kom waaroor ek nog nie kan praat nie. Ek fokus ook op my eie projekte wat dramawerkswinkels in die Oos-Kaap vir kinders wat nie noodwendig filmskool toe kan gaan nie insluit.

Wie of wat is die grootste liefdes in jou lewe?

Familie is baie belangrik vir my. Ek doen alles vir hulle. Dan my liefde vir drama en om ’n akteur te wees.

Waar is die mooiste plek in Suid-Afrika?

Die Wes-Kaap en veral Kaapstad. Die natuur is beeldskoon. Ek hou van stap en het al ’n hele paar staproetes gedoen en dit blaas jou asem weg.

Wat is jou gunsteling Afrikaanse woord?

Liederlik. Ek weet nie hoekom nie. (Lag.) Ek het dit op stel gehoor en dink dit is ’n cool woord.

Wat is die een ding wat jy sal verander in die vermaakbedryf?

Dit sal help as almal van ons die hele tyd kan werk. Die hele idee van sekere vervaardigers wat die hele tyd saam met dieselfde mense werk, laat ’n wrang smaak. Ek wens ook akteurs het ’n groter sê in produksies en die hoofkarakters wat hulle speel. Ek dink ons moet deel van die proses wees om die karakters te vorm en hopelik sal ons eendag daar kan kom.

As jy enige rol kan speel, wat sal dit wees?

Ek is ’n groot aanhanger van Christopher Nolan en sy Batman-flieks. Ek sal baie graag een van die slegte ouens in een van sy flieks wil speel.

Wat laat jou lag?

Ek hou baie van komedie – van standup tot akteurs soos Will Ferrell in flieks. Ek is ook ’n groot aanhanger van David Chapelle.

Wie in Projek Dina het die meeste van jou eie eienskappe?

Beslis Tim (Theron). Behalwe dat ons die meeste van ons tonele saam het, is ons energie ook dieselfde. Ons lag vir dieselfde goed, ons is al twee pa’s, daar is baie raakpunte. Hy is ’n goeie man en wil graag dink ek is ook. So ja, beslis Tim.