Logo

Loui Fish – ‘Ek weet nou wat die prys van brood is’

Nuus
19 Februarie 2018
Ons loer in by Loui Fish, voormalige Bafana Bafana-sokkerspeler Mark Fish se eks-vrou.
Skelmpie_Loui Fish

Loui Fish en Bafana Bafana-legende Mark Fish was vir lank Suid-Afrika se glanspaartjie, maar na hul egskeiding in 2011, en na die bekendstelling van Loui se boek, Walking in my Choo’s, het dit oornag duidelik geraak dat alles nie maanskyn en rose was nie.

In haar boek kom sy met die sak patats voorendag dat Mark verskeie kere haar verneuk het. Sy verwys ook na Mark as ’n ‘reeksrondloper’.

Loui verduidelik dat sy geweet het Mark is in ’n ander verhouding, maar dat hy dit altyd ontken het. “Een aand, na nóg ’n boodskap op sy foon, het ons in die bed geklim. Ek het vir hom ’n A4-notaboek en pen gegee, en gesê dat ek elke naam wou hê.

“Sy [brief] was lank en hartsverskeurend, en toe ek dit die volgende dag lees, het ek na die studeerkamer gegaan en sy brief beantwoord. Toe ek weer sien, was daar ses hoofstukke.

Walking in my Choo’s gaan oor my lewe, waar ek vandaan kom, my liefdes, my teleurstellings en my never lie down, always get back up-houding.”

Vir Loui is daar verskeie tekens tydens hul verhouding wat bewys het dat Mark ontrou was. Volgens haar behoort vroue bekommerd te wees as ‘hy sy selfoon mooier oppas as sy kar’.

Sy verduidelik: “Waar sy foon altyd los en rond gelê het, [was] dit ewe skielik af, of heeltyd by hom, of hy [was] heeltyd op sy foon.” Verder verduidelik sy dat gevaartekens van ’n ontroue eggenoot ook onder meer insluit wanneer hy of sy meer tyd en moeite aan sy of haar voorkoms spandeer.

“Wees versigtig vir wanneer hy sy selfoon mooier op pas as sy kar.”
 

In ’n onlangse onderhoud met Rian van Heerden op kykNET se gewilde kletsprogram Skelmpie, vertel Loui dat haar en Mark se verhouding ‘meer goed as sleg’ was. “Mark is een van die mees ongelooflike mans wat ek al ooit ontmoet het,” vertel sy. “He treated me like a princess.”

Vir haar was egskeiding die laaste opsie. “Ek dink egskeiding-statistieke is so hoog, en ek dink mense gee baie maklik op. I persevered, maar mens kan net tot op ’n sekere punt persevere.

Volgens Loui moes sy uiteindelik wegloop van hul verhouding af, omdat die situasie haar “siel en gesondheid gebreek het”.

“My point of no return was na die soveelste verhouding waarvan ek moes uitvind. My man het altyd gesê ek is mal, en het volgehou dat hy nooit so iets sou doen nie. Maar ek het geweet hy was besig met verkeerde dinge...

“Ek sou wag totdat hy gaan slaap het, en dan sou ek deur sy beursie gaan, of na sy bankstate kyk, net om te bewys dat hy wel verhoudings gehad het, of op plekke was waar hy nie moes wees nie.”

“Ek was besig om myself siek te maak.”
 

Haar kinders is vir Loui baie belangrik. “If they’re sane, then I’m sane,” sê sy. “As my kinders gelukkig is, is ek gelukkig.”

Nou, na haar egskeiding, bevind sy haarself in die Kaap saam met haar twee pragtige seuns, Luke en Zeke. “Ons is the three musketeers. Ons is nie ’n tradisionele familie nie –

“My kinders is na al die jare genees van al die seer. Mark kom kuier vir ons, hy bly in ons huis en ons spandeer tyd saam as ’n gesin.”

Volgens Louis is dit haar en haar gesin se nuwe realiteit. “Net omdat pappa nie by ons bly nie, beteken nie ons is ’n broken home soos wat mense geneig is om geskeide gesinne te noem nie. Ons bly nie almal onder een dak nie, maar dit verander nie ons liefde vir mekaar nie.”

Haar raad aan vrouens met ’n vermoede dat daar ’n derde party betrokke is, is “om nie te gaan soek vir iets as jy nie gereed is vir wat jy gaan kry nie”.

“As jy dink iets gaan aan, ongelukkig is dit tien teen een so…”

Volgens haar moet kykers in ag neem dat elke situasie anders is. “My man was in die kollig, en vrouens het heeltyd hulself na hom gegooi.

“Ek sê nie dit maak minder seer nie – inteendeel! Ek dink die eerste keer wat jy uitvind van ’n skelm verhouding is die séérste seer ooit. Na dít, raak jy gewoond om nie meer so geskok te wees nie.

“Ek dink sosiale media is die grootste kanker in vandag se verhoudings en huwelike.”
 

Loui glo egter vir die beste en sê dat enige paartjie deur so ’n situasie kan werk indien hulle werklik wil. “Dis moeilik, maar jy en jou man kan weer gelukkig wees. Skei moet absoluut jou laaste opsie wees.

“My egskeiding was die moeilikste en hartseerste ding wat ek ooit moes doen.”

LEES OOK: ‘Daar is baie hoop’

Kyk hier onder na 'n uittreksel vanuit die episode: