Logo

Liewe Heksie: Flower Power – ’n amperse pantomime

Nuus
26 April 2016
Liewe Heksie: Flower ­Power, wat van 19 April tot 1 Mei 2016 in die Brooklynteater in Pretoria op die planke is, is ’n produksie vir oud en jonk.
Blommie  Kwaaitjie deur Robert Hamlin

Margit Meyer-Rödenbeck en haar dogter, Luca. Foto: MLUNGISI LOUW


“Pret” is die een woord wat die pantomime Liewe Heksie: Flower Power opsom. Of jy 4 of 84 is, hierdie produksie is vir jóú.

Die Antieke Romeine het baie tot die moderne wêreld bygedra. Dink maar aan sement, paaie, steenoonde, sentrale verwarming, koerante, kalenders, kunstande, keisersnee, rioolstelsels, boeke, ens. Gelukkig was die Romeine nie net hoogs gekultiveerd nie; hulle kon ook partytjie hou dat dit klap, en daarom is een van hulle prettigste ontdekkings die pantomime!

Die geselskap van Liewe Heksie: Flower Power is bekende name in Suid-Afrika se vermaak-kringe. Margit Meyer-Rödenbeck (oftewel Dowwe Dolla) is in die titelrol. Chris van Niekerk (mees onlangs in die kykNET-reekse Vlug na Egipte en Die Boekklub) is Karel Kat.

Loukmaan Adams (saam met sy broer Emo Adams sing en dans hulle die wêreld aan die brand in produksies soos Brother Love en My broertjie my bra) is Geraldina die Geelheks. Crystal Donna Roberts (Vallei van die Sluiers, Getroud met Rugby en ook onlangs genomineer vir beste aktrise by die Goue Leeu Filmfees in Venesië saam met Juliette Binoche en Kirsten Stewardt) is Kwaaitjie Kabouter en ander karakters.

De Klerk Oelofse (beste akteur by Aardklop 2014; genomineer vir etlike teaterpryse) is Blommie Kabouter, Kerrie en Borrie en nog ander. Emile Minnie (uiters begaafde kabaretkunstenaar en ook die musikale regisseur van die produksie) is die koninklike pianis en Luca Human (Margit se 6-jarige dogter) is Matewis. Die sangeres Anna Davel het die rol van die Feëkoningin oorgeneem by Zanne Stapelberg en Carel Nel het die rol van Koning Rosekrans by Hannes van Wyk oorgeneem.

34 geraldina geelheks en liewe heksie

34 liewe heksie karel kat deur robert hamblin

34 blommie kwaaitjie deur robert hamlin



Meyer-Rödenbeck het Liewe Heksie: Flower Power saam met Francois Toerien geskryf, met karakters uit die oorspronklike teks deur Verna Vels. Lizz Meiring is die regisseur.

“Ek vertolk die rol van Levinia al vir soveel jare, dat ek al in my slaap gestap het en vir my man gesê het ‘Haai oe, kyk die blomme teen die slaapkamermure,’” sê Meyer-Rödenbeck.

Die sanger Wicus van der Merwe sê: “#lieweheksieflowerpower staande ovasie welverdiend. Uitstekend julle. Doen jouself ’n guns en gaan kyk.”

Die akteur Frank Opperman sê: “Uitgeloop met net so ’n groot smile. Viva, Liewe Heksie, viva. Net een ding gemis. My eie dogtertjie.”

Die sanger Jak de Priester: “Liewe Heksie: Flower Power was amazing! Soos om na ’n produksie in Londen te kyk in die West End, maar in Afrikaans! Die show het die kind binne my, die grootmens buite my en die performer in my, alles bymekaar gebring. Ek het lanklaas so happy by ’n show uitgestap! 10 uit 10.”

Die akteur Deon Lotz sê: “Heksie die pantomime is ’n moet sien – dis ’n slim en skreeusnaakse teks wat genotvol en wonderlik vertolk word deur al die akteurs, insluitend die ster Matewis!”

Resensente van oor die hele land swaai die grootste lof toe. Mariana Malan van Die Burger skryf: “Ek het laas soveel pret gehad op die ­slippery slide by die kerkbraai verlede somer. Liewe Heksie en al die ­geliefde karakters van die oorbekende stories is daar, maar hulle skop gat. Lizz Meiring se regie is so vrolik soos haar polkadot-spanbroek en -hemp. En die hele produksie is bedot, ­betotteld en betowerend.”

34 liewe heksie poster


’n Nota van die regisseur

Wat is pantomime? Dis ’n verrassende, verbasterde, unieke genre. In pantomime word hansworsery, lawwe, geykte grappies, slim woordspelings, stoute dubbelsinnighede, politieke, letterkundige en sosiale verwysings saam opgedis in ’n bonte, baldadige pakkie. Klug, komedie, elemente van kinderteater, satire, musiekblyspel en music hall verweef om ’n redelike eenvoudige feëverhaal met ’n kinkel te vertel. Die opvoerstyl is groter, astrant, raserig, magies, vermaaklik en fantasmagories. Die oorgrote meerderheid van die karakters word as eksentrieke karikature uitgebeeld.

Om so iets te skep, en as gehoorlid te geniet, moet jy ’n sirkus in jou kop hê, want in pantomime is enigiets moontlik – van uitbundig lag tot asem ophou. Jy mag dalk selfs ’n traan wegpink.

Pantomime het iets vir almal – sekere momente en karakters vir kinders en ander momente en karakters wat reg in die smaak van grootmense sal val. Selfs die coolste tieners en studente gaan dit geniet.

Met Liewe Heksie: Flower Power was die uitdaging om wyle Verna Vels se karakters te eerbiedig, maar ook terselfdertyd ’n eietydse, eg pantomime-like kleur aan die produksie te gee. Dit was ’n onverdunde vreugde om deel van die produksie te kon wees. Die geselskap is klein, maar hul individuele en gesamentlike talent en toewyding is reusagtig.

Ek glo die vars, wonderlike teks geskryf deur Francois Toerien en Margit Meyer-Rödenbeck, en die produksie, sal gehore bekoor, nes Verna se Liewe Heksie-stories soveel geslagte al bekoor het.

Ons dra met liefde en eerbied die pantomime op aan Verna Vels.

Lizz Meiring

Liewe Heksie: Flower Power word ondersteun deur kykNET, Absa KKNK, Hiemstra Trust, Clemengold, Tygervallei-sentrum, Hollywood Costumes en Hannon.

Die speelvak duur vanaf 19 April tot 1 Mei 2016. Kaartjies kos R100 tot R270. Skakel 012 460 6033 of besoek brooklyntheatre.co.za om te bespreek.