Logo

Len Muller se nuwe avontuur

Nuus
26 Mei 2015
Len Muller se debuut-album is onlangs uitgereik.
LenMuller

Len Muller, voorheen bekend as die voorsanger van die alternatiewe-rockgroep DieFoute, het einde 2011 besluit om ’n solo-loopbaan aan te pak. Hy het Richardsbaai vir Pretoria se liggies verruil en oor ’n tydperk van drie jaar sy oorspronklike material geskryf. Len se debuut-EP, Len Muller, is in 2012 by Wynand Delport-produksies opgeneem en dieselfde jaar nog uitgereik.

Len het twee jaar lank gewerk aan sy debuut-album, Doodgewone Avontuur, wat op 27 Mei 2015 uitgereik is.

Mede-skrywers sluit in die befaamde Stef Bos, Retief Burger (Luidkeels), Bouwer Bosch (Straatligkinders & Dans Dans Lisa), asook Jattie de Beer (Vertikaal & Dou Voor Dag). Die uniekheid van die nuwe album kan ook toegeskryf word aan die insluiting van verskeie ander kunstenaars (Stef Bos, Joshua na die Reën en Janie Bay), wat saam met Len op van die liedjies sing.

Een van Len se grootste drome het waar geword toe sy liedjie “Smag na Jou” gekies is om op die klankbaan van die fliek Strikdas opgeneem te word.



Nie net het ’n klankbaan-droom van Len waar geword nie, maar ’n groot eer het hom ook te beurt geval. Len is deur kykNET en Afri-Visie genader om ’n nuwe lied, “Iets om in te Glo” (geskryf deur Mynardt Smith) op te neem. Die liedjie het ’n plek in die top-10 gehaal, en Len het dit voor ’n stampvol Grand West Casino opgevoer. Dié liedjie is ook op die nuwe album.

“My lirieke is baie persoonlik, diep en eerlik. Dit kom byna net so uit my persoonlike joernaal,” sê Len. “Ek wil graag hoop in mense se lewens insing en dié bemoedig wat deur swaar tye gaan. Ek is moeg vir veral Afrikaanse musiek sonder enige emosie. Ek glo ek het meer om oor te sing as net geld, meisies en goeie tye.”