Logo

Leer ken die "rockers" van Spoegwolf in kykNET dokumentêr

Nuus
22 November 2023
"Spoegwolf" word op Saterdag 9 Desember om 20:00 op kykNET uitgesaai. Dit sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Spoegwolf article 1

Op hoërskool het vier jong mans saam begin musiek maak. Die broers Danie en Moskou du Toit, Chris von Wielligh en Albert van der Merwe het aanvanklik onder die naam Ysterkoei opgetree, maar in 2012 verander hulle hul naam na Spoegwolf. 

Elf jaar later is hulle ongetwyfeld een van Suid-Afrika en Afrikaans se suksesvolste groepe en trek hulle skares van Kaapstad tot Pretoria, en van Auckland tot in Londen en Amsterdam. 

Maar wie is hierdie vier rockers? En hoe het hulle dit reggekry om met eiesoortige musiek met gravitas so ’n enorme gevolg op te bou? Dit is van die vrae wat gevra word in die dokumentêre program Spoegwolf wat oor die groep gemaak is en op Saterdag 9 Desember 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai gaan word. 

“Ná die TV-kanaal MK gesluit het, was ons so bietjie in ’n woestyn wat jong Afrikaanssprekendes betref wat lus was om bands te stig,” sê Niel van Deventer, regisseur en vervaardiger van die dokumentêr. “Maar toe verrys daar uit hierdie dor landskap ’n groep genaamd Spoegwolf. Ek dink mense het met die eerste of tweede luister gedink dit gaan nie wye impak maak nie, maar hier het vier ouens gewys dat niks hulle sou kon keer nie. Hulle entoesiasme en geesdrif was aansteeklik. Met die sukses van die dokumentêre oor Jack Parow en Koos du Plessis, het ek geweet dat een oor Spoegwolf nie net die honger by bestaande ondersteuners sal stil nie, maar ook ’n deur sal oopmaak vir mense wat hulle nog nie ken nie.” 

Van die deelnemers aan die dokumentêr is die vier lede van Spoegwolf, Danie du Toit (stem en kitaar), Moskou du Toit (tromme en perkussie), Chris von Wielligh (kitaar en klavier) en Albert van der Merwe (baskitaar en stem) asook die Du Toit-broers se kunstenaar-ma, Tertia du Toit, die joernaliste Riaan Grobler en Danie Marais, die musikante Francois van Coke, Hunter Kennedy, Deon Meiring en David Kramer en die klankingenieur Jürgen von Wechmar. 

Hoekom het Spoegwolf so ’n groot impak op Afrikaanse musiek gemaak? 

“Ek dink Afrikaanse mense kry elke dag te doen met vermaak wat op internasionale skaal met reuse-begrotings vervaardig word,” sê Niel. “Ons kon nog altyd ’n blinde oog gooi vir ons eie tekortkominge – meestal te wyte aan finansiering, beslis nie talent nie – wanneer dit by plaaslike produksies kom. Wanneer iemand dit egter regkry om ten spyte van die uitdagings met die beste van die wêreld mee te ding, is dit verblydend om te sien hoe ons mense die kwaliteit erken en omhels.” 

·      Spoegwolf word op Saterdag 9 Desember om  20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op DStv Stream en Catchup beskikbaar wees.