Logo
Kom ons jol
web uni tv guide

Kom Ons Jol

144Musiekprogram13 L

Leandie du Randt sluit aan by die Kom Ons Jol-span – Kom Ons Jol

Nuus
23 Mei 2020
Kom Ons Jol vermaak kykers sedert 25 April elke Saterdagaand op kykNET, DStv-kanaal 144. Aanbieder Hamilton Wessels het tot dusver aan die stuur van sake gestaan, maar vanaf Saterdag 23 Mei sluit Leandie du Randt by hom aan as mede-aanbieder.
Leandi

Leandie du Randt is veral bekend vir haar rolle in die kykNET-sepies Getroud met Rugby  en Binnelanders, en flieks, soos Thys & Trix en Jagveld, en tree dikwels op as ‘n motiveringspreker. “Ek is so opgewonde om by die Kom Ons Jol-span aan te sluit,” sê sy. “Kom jol saam my en Hammie – ek kan nie wag nie!”

Kom Ons Jol is ‘n interaktiewe musiekprogram wat musiek en geleentheid vir dans, saamsing en lag in die gemak van hul eie sitkamer bied. Elke Saterdag gaan loer Hamilton deur middel van die nuuste tegnologie in by van Suid-Afrika se top kunstenaars, wat dan ‘n akoestiese optrede gee. In die eerste paar episodes was Die Campbells, Jakkie Louw, Loki Rothman, Die Broers, Danny Smoke, Kurt Darren, Pieter Smit en Ricus Nel die gaskunstenaars. In 23 Mei se episode kan kykers uitsien na akoestiese sessies deur Dozi en Nicholis Louw.

Kom Ons Jol gee kykers die geleentheid om deel van die program te wees. Kykers kan elke Saterdag inbel met spesiale gelukwensings aan vriende, familie en geliefdes en ‘n musiekvideo kies wat deur die loop van die aand gespeel word. Hamilton vra ook weekliks dat kykers tuisvideo’s aanstuur van waarmee hulle besig is by die huis tydens die inperkingstyd, wat dan tydens die program op skerm gewys word en vir groot vermaak sorg. Sedert die eerste episode stroom video’s en boodskappe van kykers in en is daar baie interaksie op kykNET se sosiale media tydens die twee uur lange program.

“Die kyker-interaksie is ongelooflik positief. Om direk en regstreeks met ons kykers te kan gesels, is ‘n groot voorreg. Die terugvoer van die kykers is dat Kom Ons Jol hulle tydelik laat vergeet van wat tans in die wêreld aangaan en dat hulle kan ontspan en saam kuier op Saterdagaande,” sê Loren Greyling, kykNET-toesigvervaardiger van die program. “Hulle verlang na die kunstenaars en die optredes en dit is waar Kom Ons Jol die leemte vul. Hamilton is baie geliefd onder die kykers en Leandie is die perfekte aanvulling tot hierdie program. Sy is energiek, entoesiasties en reg om saam te party!”

Sedert die eerste uitsending word daar streng afstand- en inperkingsmaatreëls in die ateljee gevolg, en dit sal steeds geld met Leandie wat bykom as aanbieder.

Nog nuus is dat Kom Ons Jol spog met ‘n nuwe stel en boonop verleng is met nog sewe episodes – die program sal dus tot 25 Julie uitgesaai word. Skakel in vir ‘n lekker jol op ‘n Saterdagaand saam met die Kom Ons Jol­-aanbieders, Hamilton Wessels en Leandie du Randt.

Kom Ons Jol word Saterdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai, met ’n herhaling Sondae om 15:00 op kykNET NOU, DStv-kanaal 146