Logo
La't Wiel slim billboard
web uni tv guide

La't Wiel

144MotorprogramPG

La’t Wiel se wiele is weer aan die rol

Nuus
06 Junie 2016
Die gewilde motorprogram La’t Wiel keer vroeg in Julie terug na die kassie met ’n splinternuwe seisoen op kykNET.
Lat Wiel 2016 Feature

Die gewilde motorprogram La’t Wiel keer op 5 Julie 2016 terug na die kassie met ’n splinternuwe seisoen op kykNET.

Die program het die lig gesien vroeg in 2004, en gedurende die jare wat daarop gevolg het, het die span bykans 400 episodes vervaardig en duisende motors bestuur op amper elke kontinent.

Dít het gelei tot ’n groot groep lojale kykers en volgelinge. Dit was juis die La’t Wiel-kykers se honger vir motornuus en vermaak wat die vervaardigers oorgehaal het om ’n splinternuwe seisoen aan te pak.

Die nuwe seisoen is moontlik gemaak met die ondersteuning van die motorkoop-reus We Buy Cars, wat La’t Wiel en kykNET sien as die perfekte medium om hulle besigheid verder uit te brei. We Buy Cars is veral bekend daarvoor dat hulle dit maklik en veilig maak vir eienaars wat hul motors vinnig en sonder risiko wil verkoop, en hulle rol in die motorwêreld maak van hulle die perfekte vennoot vir La’t Wiel.

Soos vantevore word die nuwe seisoen deur Plan-C Produksies vervaardig, met Waldo van der Waal en Hannes Visser steeds agter die stuur van sake.

Beide Waldo en Hannes sal ook diens doen voor die kamera as die program se aanbieders, tesame met die bekende gesig van Andre Weideman, wat van tyd tot tyd insetsels uit die Kaap sal aanbied.



“Ons is baie opgewonde oor die geleentheid om weereens La’t Wiel se wiele aan die rol te sit met ’n splinternuwe seiseon,” het Van der Waal gesê. “En om by te bly met die tye sal die nuwe La’t Wiel ook heelwat anders daaruit sien. Die hoofbestanddele is steeds ’n kombinasie van motors en vermaak, maar die res kry ’n heel nuwe gevoel met korter en meer kragtiger insetsels”.

Die program het oor die jare verskeie toekennings ontvang en beide Visser en Van der Waal is al ’n paar keer as wenners in die televisie-kategorie aangewys van die Gilde van Motorjoernaliste se jaarlike kompetisie om die land se voorste motorjoernaliste te vereer.

“Vir die nuutste seisoen het ons die resep so effens aangepas. Ons gaan steeds tyd spandeer agter die stuur van peperduur weelde en sportmotors terwyl ons rubber brand en goed aanvang soos landspoedrekords probeer breek, maar ons gaan ook aandag gee aan meer relevante onderwerpe soos wat mens deesdae kan koop vir jou geld,” het Visser bygevoeg.

Verfilming van die nuwe seisoen, wat vroeg in Julie afskop, is reeds fluks aan die gang. “Daar behoort iets te wees wat elke tipe kyker se aandag behoort te trek,” het Visser verder uitgebrei. “Ons bestudeer alledaagse rygoed wat meeste mense kan bekostig, ons bestuur sportmotors wat net vir ’n paar mense beskore is, ons berei die slagveld voor vir die oorlog wat broei tussen Suid-Afrika se beste bakkies, en ons woon ’n paar splinternuwe motors se bekendstellings by”.

Hou kykNET se webblad dop vir meer nuus oor die nuwe seisoen van La’t Wiel.