Logo
Dankie, Lottoland – Slim
web uni tv guide

Dankie, Lottoland

144RealiteitPG

kykNET se ‘Dankie, Lottoland’, gee wéér terug!

Nuus
30 September 2021
In die derde reeks van Dankie, Lottoland, gaan bekendes soos Gideon Lombard, Cordelia, Ricky Schroeder, Caroline-Grace Brüssow, André Schwartz en Armand Aucamp, moue op rol hulpbehoewende individue en liefdadigheidsorganisasies te help. 
1

Soos met die vorige twee seisoene gaan hierdie kykNET-reeks die kollig werp op 13 instansies of mense, wat in nood is, en hulle ondersteun met skenkings, hulpbronne en blootstelling.

In elke episode kry ’n bekende persoonlikheid die geleentheid om die liefdadigheidsorganisasie of projek wat hul die naaste aan die hart lê, te nomineer. Daar word ondersoek ingestel oor wat broodnodig is en waarmee Dankie, Lottoland kan help, en dan spring die span aan die werk. 

Volgens Maryke Haywoord, Dankie, Lottoland se bemarkingshoof, is daar oor die afgelope twee seisoene meer as R11-miljoen spandeer om behoeftige projekte en individue te help.

“Dié bedrag sluit ook die produksiekoste in omdat ‘n groot deel van die ‘krag’ van Dankie, Lottoland, in die ongelooflike blootstelling wat episodes gee, lê,” sê Maryke.

“Eintlik is ons bydrae seker ’n druppel in die emmer, want die stories wat ons vertel is van onskatbare waarde oor dit die publiek inlig van waar die nood druk. Vir organisasies se voortbestaan is  blootstelling veral belangrik.”

Maryke kom agter daar is meer en meer ’n tekort aan befondsing omdat die regering se bydraes beperk is en dat talle fondsinsamelingsprojekte gesneuwel het as gevolg van die alomteenwoordige Covid-19-pandemie.

“As bemarker het ek opgelet dat daar dikwels ’n onkunde of tekort is aan behoorlike bemarking, meestal omdat daar nie juis geld daarvoor beskikbaar is nie of omdat daar ’n tekort aan personeel is,” sê sy.

Dankie, Lottoland gee hierdie organisasies die platform om aan Suid-Afrikaners te wys watter behoeftes daar is en vertel ook die stories van die wonderlike mense wie se hartstake dit is.”

“Boonop help dit om vertroue by die kyker in te boesem, want ek dink ons as Suid-Afrikaners het ons vertroue in mekaar begin verloor.”

Dankie, Lottoland begin 2 Oktober en is Saterdae 18:00 op kykNET