Logo

kykNET lig Sondag die hoed vir drie van ons grootste geeste

Nuus
31 Desember 2015
Drie geliefde reuse van die kunste het ons in een hartseer week ontval. Stephan, Randall en Chris, ons sê baie, baie dankie, Sondagmiddag 3 Januarie vanaf 15:00.
Hulde

Drie geliefde reuse van die kunste het ons in een hartseer week ontval: die kunskenner en -versamelaar Stephan Welz, die sanger Randall Wicomb en die skrywer en dramaturg Chris Barnard is binne dae van mekaar oorlede. Welz (72) het op Kersdag by sy huis in Johannesburg sy stryd teen kanker verloor; Wicomb (66) is op die 26ste, eweneens aan kanker, by sy huis in Stellenbosch oorlede en Chris Barnard (76) het Maandagoggend, 28 Desember, in Pretoria aan sy hart gesterf.

kykNET bring op Sondag, 3 Januarie, met spesiale uitsendings hulde aan hierdie drie baanbrekers.

Om 15:00 word die onderhoud met Randall Wicomb uitgesaai wat in die program Rian deur Rian Van Heerden met hom gevoer is. Van Heerden se onderhoud met Stephan Welz sal 15:30 te sien wees. In Sondagaand se uitsending van DEKATv om 18:30 sal die laaste onderhoud met Wicomb uitgesaai word.

Die program Stroom-op: Chris Barnard is deur Katinka Heyns en haar en Chris se seun, Simon Barnard, vervaardig.  Dit sal Sondagmiddag om 16:00 die eerste keer uitgesaai word as deel van die reeks Stroom-op. Belangstellendes kan op kykNET se webwerf solank kyk na ’n insetsel oor Chris Barnard se ontvangs van ’n Fiësta in 2014 vir sy lewensbydrae tot teater en die Afrikaanse letterkunde. Herleef die oomblik hier.

Jy word hiermee hartlik genooi om Sondagmiddag, 3 Januarie, vanaf 15:00 nader te skuif sodat ons saam hulde kan bring aan drie legendes wie se nalatenskap nog lank sal voortleef.

Stephan, Randall en Chris, ons sê baie, baie dankie.

Karen Meiring
Mnet: Direkteur Afrikaanse Kanale