Logo
Die Spreeus
web uni tv guide

Die Spreeus

144Riller16VL

kykNET&kie jaag spoke op in Oktober

Nuus
08 Februarie 2019
Iets onheilig broei op die hange van die berg. Kinders verdwyn, gelok deur ’n geheimsinnige roomyswaentjie en ’n man wat glo die klere van ’n vrou dra.
Spreeus Feature

Die bonatuurlike kom kuier op 3 Oktober om 20:00 op kykNET&kie, kanaal-145, in Die Spreeus. Die Spreeus is ’n bonatuurlike riller-reeks, waarin twee onverskrokke speurders van die Spreeus-ondersoekeenheid – Bas Koorts en Beatrice Mack – elke week ’n ander fenomeen ondersoek en misdaad se spoor tot in ander wêrelde volg.

In Die Spreeus word bekende verhale uit die Suid-Afrikaanse kultuur dikwels gebruik om ’n storie te vertel wat ook tot vandag se kyker spreek, soos die spook van Uniondale, die tokoloshe en CJ Langenhoven se klassieke kortverhaal, Die bouval op Wilgerdal.

 

Ontmoet die span


Chris Vorster:
Chris Vorster, wat voorheen die rol van Ryno in 7de Laan vertolk het, maak sy terugkeer na TV in die rol van die speurder Bas was eens ’n vlymskerp polisieman, maar agter sy gemoedelike persoonlikheid skuil ’n tragiese geheim. Wanneer hy teruggebring word om die Spreeus op die been te bring, word die verlede weer opgeroep. Ons sien flitse van sy briljante speurvermoë, sy wydbelesenheid en oorspronklike denke – maar ook ontstellende tekens van onverwerkte trauma.

 


 

Sandi Schultz:
Sandi Schultz, wat kykers ken van onder meer Binnelanders en Hotel, is te sien as Rosa Scheffers, ’n brigadier in die SAPD en die hoof van die Spreeus. As ’n suksesvolle, geskeide vrou fokus sy veral op haar loopbaan, maar wanneer sy aan die begin van die reeks met ’n unieke genetiese toestand gediagnoseer word, begin sy anders dink oor die lewe en die dood. Sy is deurlopend in ’n stryd gewikkel om die bestaan van die Spreeus te regverdig.

 

Monique Rockman:
Monique Rockman, wat bekendheid verwerf het vir haar rol in die Afrikaanse fliek Nommer 37, is te sien as Beatrice Mack, wat na haar studies in die wetenskap aansluit by die polisie – tot haar pa se ontsteltenis. Sy is ‘n loner wat moeilik haar misnoeë met kansvatters en nonsens kan wegsteek. Soms is haar hardekwas houding presies wat nodig is om ‘n saak op te los, maar soms kom oorhaastigheid haar duur te staan. Sy verbaas egter almal, haarself inkluis, wanneer die Spreeus haar nuwe roeping word.

 

Van ’n vreesaanjaende leër van spoke wat hul wraak kom opeis, ’n bonatuurlike ontmoeting by ’n bouval, en ’n vrou wat verdwyn en met ’n angswekkende verskil terugkeer tot ’n outistiese seuntjie wat die toekoms kan sien, ’n ongedierte in die nag en ’n kuiergas uit die verlede wat nie tot rus kan kom nie – maak seker jy is nie alleen tuis Saterdagaande nie. 

Die Spreeus word vervaardig deur Marche Media, wat ook verantwoordelik was vir die trefferdrama’s, Waterfront en Dwaalster, sowel as flieks, soos Johnny is nie dood nie, Die Seeumeeu en Kanarie.

Die Spreeus, kykNET se eerste bonatuurlike riller-reeks, begin 3 Oktober op kykNET&kie 20:00. Vertel al jou vriende op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #DieSpreeus.