Logo

kykNET en Huisgenoot snoer weer kragte saam 

Nuus
31 Augustus 2017
Hier is jou kans om jou liefdesverhaal op die silwerdoek te sien!
Huisgenoot

Ná die sukses wat kykNET Films en Huisgenoot se liefdeskind Vir die Voëls by die loket geniet het, is daar besluit ons is gereed vir die tweede rondte.

Vir die Voëls, die fliek wat gemaak is vir Huisgenoot se eeufeesviering, het verlede jaar die tweede grootste openingsnaweek vir ’n Afrikaanse fliek beleef. Sowat 20 000 mense het die fliek in sy openingsnaweek gekyk en dit het in daardie naweek meer as R1 miljoen by die loket verdien. Dit het meer as R8,5 miljoen by die loket laat inrol en dit is die vyfde grootste loketverdiener van alle tye onder Afrikaanse flieks. Sowat 165 000 mense het die fliek op die silwerdoek gekyk.

Indien jy uitgemis het, kyk die lokprent hier:

Irma en Sampie de Klerk, die Huisgenoot-lesers op wie se ware liefdesverhaal die tydskrif se eeufeesfliek gegrond is, sê: “Dit het ons lewe verander en ons horisonne verbreed met ervarings wat ons andersins nie sou gehad het nie.”

Ontmoet die regte Irma en Sampie hier:


Vir Huisgenoot was die maak van die fliek volgens die tydskrif se redakteur, Yvonne Beyers, een van die mees opwindende en lekkerste ervarings in die geskiedenis van die tydskrif. Sy sê: “Ons het elke tree van die pad na die silwerdoek geniet – van daardie eerste oomblik toe ons saam met kykNET besluit het om ’n fliek te maak tot by die oomblik toe die ligte vir die première verdof. Dit was besonder spesiaal om ons lesers se ware liefdesverhale te lees op soek na die mees geskikte storie vir ’n draaiboek, en Irma en Sampie de Klerk het diep in ons harte gekruip. Die verfilming van die rolprent was vir ons een groot avontuur en die akteurs en produksiespan wat daaraan gewerk het, was ’n wenspan. Ons is geweldig trots op ons eerste fliek – en daarom is ons verheug om te sê: ‘Kom ons doen dit sommer weer!’”

Kuier saam agter die skerms van Vir die Voëls:

kykNET en Huisgenoot kondig dus nou met groot opwinding en trots aan ons beplan om saam ’n tweede fliek te maak en die rolprent sal weer gegrond wees op die ware liefdesverhaal van een van die tydskrif se lesers.

Huisgenoot-lesers kan hul ware liefdesverhale nou vir Huisgenoot stuur, en die wenstorie sal vroeg in 2018 aangekondig word.

Danie Bester sal weer die leisels neem as die vervaardiger van die fliek, en die première van ons tweede fliek sal in 2019 by die Silwerskermfees wees.

Meer inligting oor die fliekkompetisie verskyn in 31 Augustus se uitgawe van Huisgenoot, wat nou op die rak is.