Logo

Kykers gons oor Skelmpie

Nuus
17 Januarie 2018
Só voel kykers oor kykNET se nuutste geselsprogram.
Skelmpie

FOTO: Getty

Skelmpie, met aanbieder Rian van Heerden, handel oor een van die partye in ’n verhouding wat ’n dwalende oog ontwikkel en ontrou is. In dié nuwe geselsprogram word slagoffers vanuit ’n ontrou verhouding, sowel as die maat met die dwalende oog, na die ateljee genooi om uit te vind hoe ’n mens só ’n hoofstuk kan afsluit. In sekere gevalle word die skelmpie selfs aangespreek.

Kenners word ook ontbied vir raad aan slagoffers ten einde aan te beweeg met of sonder hul maat.

In die eerste episode het Shantel van Brakpan ons vertel hoe haar vermoede dat haar man op haar verneuk het in ’n werklikheid ontaard het, selfs al het haar nou eks-man dit ontken. Regskenner, Johan Schoeman, het aan haar raad gegee – kyk die video hier.

Kykers het op die kykNET-Facebookblad hul entoesiasme oor dié geselsprogram met ons gedeel.

Lynette Erwee het geskryf: “Uitstekend aangebied, Rian. Hierdie program gaan baie mense help. Doen so voort.”

Verder het Nelia van Biljon geskryf: “Ek het regtig nie uitgesien na hierdie program nie, maar moet sê ek was beïndruk. Welgedaan, Rian.”

Johan Ebersohn het ook geskryf: “Die program word baie goed en simpatiek aangebied. Dit was toe nie so ‘kommin’ soos baie voorspel het dit gaan wees nie. Welgedaan, Rian.”

“Baie goeie program, Rian van Heerden,” het Elmarie Harvey geskryf. “Dis tyd dat die wêreld sien en bewus word van… ek is nie seker wat om die ‘goed’ te noem nie, want dis moeilik om aan hulle as ‘mense’ te dink!! Dankbaar vir die inisiatief. Mag die program baie lang en suksesvolle reekse hê.”

Loretta van Wyk glo dis hoogtyd dat slagoffers se stories vertel word. Sy het geskryf: “Baie goed aangebied met empatie en simpatie, Rian. Baie geluk. Die wat gesê het dit trek ou rowe af; is dit nie dalk tyd dat mens maar weer daardie giants uit die verlede face sodat daar genesing kan kom nie. Maar net my opinie.”

Verder het Stephanie Laidlaw geskryf: “Rian, ek hou van jou program. Dit gebeur elke dag in mense se lewens. Dit is reality.”

Ons het ook onlangs met Rian gesels om uit te vind waarna kykers kan uitsien. Kyk die video hier onder.

In vandeesweek se episode ontmoet ons twee mans, Barnard en Ilario, wat beide op verneuk is deur hul vroue.