Logo
Die Spreeus
web uni tv guide

Die Spreeus

144Riller16VL

‘Kul jou hier’ – Die Spreeus

Nuus
21 Mei 2019
Nóg ’n versteekte paaseier lê in dié week se episode versteek.
Die Spreeus ep 7

Foto: Dié oomblik vanuit episode sewe sal ons vir lank nog bybly

deur Tertius Kapp

Deesdae lewe ons in ’n “screen culture” waar alles van Instagram-filters tot botox en plastiese chirurgie gebruik word om ’n jeugdige voorkoms te behou. Maar vir so lank as wat mense al bang is vir die dood, is hulle ook behep met die idee om vir ewig jonk te bly.

BLAAI DEUR FOTOS WAT TYDENS VERFILMING GENEEM IS

Van die 7de tot die 19de eeu (meer as ’n duisend jaar) was die legende van “Priester Jan” algemeen in Europa. Hy was ’n Christelike leier, volgens sommiges ’n afstammeling van een van die Drie Wyse Manne. Sommige stories plaas hom in Indië of Mongolië, maar later veral in Afrika, rondom Ethiopië. In sy koninkryk was daar glo ’n rivier van goud, en ook die fontein van die jeug.

Deur die eeue, terwyl die kontak tussen Afrika en die res van die wêreld skaars was, sou verkenners die vasteland invaar om hulle hande op dié rykdom (en die eliksir van die lewe) te kry. Min het teruggekeer. Niemand het hom ooit gevind nie.

Verder noord was die Egiptenare besig met hul eie pogings tot onsterflikheid, wat gefokus het op die idee van regenerasie en nuwe lewensiklusse. Die simbool hiervan was die heilige kewer – by ons beter bekend as ’n doodgewone miskruier!

Vandag is Afrika ver agter in die soeke na onsterflikheid. Silicon Valley in Amerika is voor in die tou. Mense soos Amazon se Jeff Bezos, of Google se Sergey Brin en Larry Page, belê fortuine in geheime mediese maatskappye wat ’n teenmiddel vir die dood soek. Google dit gerus.

LEES OOK: HIER IS ALLES WAT JY VAN EPISODE 6 MOET WEET

Dit gaan veral oor “telomerase”, ’n ensiem wat belangrik is by die duplisering van DNS. Kortliks opgesom: Elke keer wanneer n sel verdeel, word ’n klein hoeveelheid genetiese materiaal verloor – dus, soos jy groei, verloor jou DNS al meer inligting. Dit is waarom ons oud word.

Daar is ook kwaksalwers wat dienste aanbied soos oortappings van jong mense se bloed. Daar is selfs mense wat stamselle van fetusse in hulle breine laat inplant. Amptelik is dit nog net op muise probeer, waar dokters sê dat dit werk, en nie net die oudwordproses stop nie, maar ook omkeer. 

Dit is nie meer sci-fi nie. Die strategie waarvan hulle praat, is “bridging”. Die eerste brug is die mediese wetenskap, wat jou gesond moet hou tot biotegnologie en genetika die fisiese proses van oudword kan stop of omkeer (sommige sê so vroeg as 2050). Dan moet ’n mens net leef tot AI (kunsmatige intelligensie) so ver gevorder het dat jy ’n biologiese liggaam vir ewig kan agterlaat…

Tussendeur moet jy genoeg geld maak om dit als te kan bekostig – vermoedelik miljarde. En heel laaste moet jy jouself darem ook afvra: Wil jy regtig die ewigheid in mense soos Jeff Bezos se geselskap deurbring?

Paaseier vir die week: Geon Nel, die akteur wat Fernando speel, is werklik ’n kulkunstenaar. In sy toertjies is daar nie visuele effekte gebruik nie – hy doen dit als self.

KOM KUIER SAAM AGTER DIE SKERMS

Gebruik die hutsmerk #DieSpreeus op FacebookTwitter en InstagramKliek hier vir meer inligting.